30 Nagte in Amsterdam

Literêre pryse toegeken:

  • Hertzog-prys 2010
  • UJ-prys vir beste skeppende skryfwerk in Afrikaans 2009
  • M-Net-toekenning vir beste oorspronklike roman in Afrikaans 2009
  • WA Hofmeyr-prys 2009

Oor 30 nagte in Amsterdam:

Zan. Sy’s ’n pragtige maar eksentrieke vrou, ook bekend as Xan met die onverwagse toevalle of Xusan met die geheimsinnige glaskamer. Sy’s die Susan met die onstigtelike erotiese drif. As aktrise en politieke aktivis het sy ’n voorliefde vir vreemde vriende, soos die rolprentmaker Cecil Dimaggio en die straatmusikant Manuel D’Oliveira.

Henk de Melker, museumassistent in ’n klein Oos-Kaapse dorpie, ontvang onverwags ’n brief van ’n juris in Amsterdam waarin hy ingelig word dat sy lankverdwene Tante Zan haar huis in dié stad aan hom nagelaat het. Hy, “Henk Ekskuus”, is ’n voetjie-vir-voetjie-navorser, die skrywer van dun boekies waarin die lewens van onmerkwaardige mense opgeteken word – soos die beoogde een oor Cornelius van Gogh, die onbekende broer van Vincent en Theo, wat in Suid-Afrika begrawe lê.

Henk reis na Nederland om sy erfporsie op te eis; terselfdertyd wil hy verdere navorsing oor Cornelius van Gogh doen. Hy moet besluit of hy permanent wil emigreer of nie, noudat hy eienaar word van ’n woning in Amsterdam. Mettertyd word hy ingesuig in die maalstroom van die gragtegordel met sy sakkerollers, prostitute en straatmusikante. Sy ervaringe in die binnestad konfronteer hom ook opnuut met sy kinderjare – saam met Tante Zan in die huis van sy ouma – en die invloed wat sy avontuurlike tante ná al die jare steeds op sy lewe het.

Want deur alles wat van hom weggesteek is, eindelik oop te vlek, leer Henk de Melker homself opnuut ken. Die dertig nagte wat hy in Amsterdam deurbring, verander sy besadigde lewe onherroeplik.

’n Keur van aanlyn resensies van 30 nagte in Amsterdam:

Nog oor 30 nagte in Amsterdam: