AJ Opperman interviews Etienne van Heerden: Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Koester jy kosbare of selfs nostalgiese gevoelens jeens biblioteke?

Ligloop. Biblioteke neem verskillende vorme aan in hierdie storie. Die uiteindelike biblioteek aan die einde van hierdie boek se wêreld is iets heeltemal anders as ’n ou Karoo-bibliotekie waaraan ’n mens dalk nostalgies dink. Die karakters in die storie – nes ons almal – word ingesuig in ’n wêreld waar sigbewaking in die besonder, maar kunsmatige intelligensie in die breë, splinternuwe probleme rondom identiteit skep. Waar word al die data oor ons geberg? In ’n groot databiblioteek! Hierdie data is mos die nuwe olie. En wie is die nuwe koloniseerders wat in besit van hierdie biblioteek vol data is? Die boek kyk na hierdie koloniseringsproses terwyl (en dis die tweede deel van die storie, en die tweede been van die “biblioteek”) studentebewegings op kampusse amok maak oor identiteit en dekolonisering. En dis hier waar ’n ánder biblioteek ter sprake kom, in hierdie deel van die storie …

In verband met die motto voorin die boek: Ek het eers agterna die stukkie gesien wat na “’n eerste weergawe van geskiedenis” verwys. Ek het gedurig met die lees van die roman daaraan gedink sonder dat ek besef het dit staan heel voorin – ek het dit eers agterna gelees. Glo jy die joernalistiek en fiksie het parallelle?

Ek kom uit die generasie wat met sommige tekste voortskryf aan die Amerikaners se New Journalism. “I-fiction”. Jy skryf wat jou “eye” – jou eie oog – sien; wat jy self waarneem. Die skrywer is ’n soort verslaggewer wat so vinnig hy kan opteken aan die dinge wat om hom gebeur. Só ’n storie moet, as jy dit kan regkry, brand van die aktualiteit; dit moet byna wees soos ’n dik koerant wat jy lees; hy moet jou slaan met die rondomskrik van verrassende gebeure, harde nuus, opponerende standpunte. Hy moet brand met die vuur van onvoorspelbaarheid en die karakters in die storie moet heeltyd onkant gevang word, en só ook die leser. Op hierdie manier skep jy ’n eerste weergawe van die geskiedenis. As die joernalistiek die fourth estate is, en sosiale media die fifth, eis ek nou die sixth estate vir hierdie soort dokumentêre fiksie op. Só ’n skrywer probeer ’n soort amanuensis van sy tyd te wees; hy’s dalk meer skriba as fabuleerder of spinner. Dís wat ek met hierdie boek wou doen … dit moes ’n neerslag van die idiolek (die manier van dink en konstrueer; van taal gee aan gebeure) van ons tyd word. Lesers moet maar self besluit of ek dit kon regkry.

Stem jy saam met Philip Roth se stelling (waarna jy in die boek verwys) dat “reality is outdoing our talents”? Raak feit vreemder as fiksie? (Daar is ook die sinsnede “want deesdae buig fiksie die knie voor ‘ware verhale’”.)

Daar is geen twyfel nie dat aktualiteit deesdae soms sterker bie as die verbeelding. Noudat fopnuus op sosiale media so maklik soos ’n veldbrand deur droë wintergras hardloop en gou wáárheid word, is dit so dat “realiteit” vreemder raak as fiksie. Fiksieskrywers kan skaars byhou. Jou verstand word daagliks te bowe gegaan. Actuality is outdoing our talents, soos Philip Roth gesê het. Jou verbeelding word ’n bedelaar.

Jy volg die nuus en is dus ’n fyn waarnemer van gebeure. Hoe het die gedagte van hierdie roman ontstaan?

Kodeïen. So ’n Eugène Marais-erige ontstaan.

Wanneer het jy besef dat sekere van die nuuswaardighede in ’n fiksiegegewe kan neerslag vind?

In ’n kodeïendroom op Stellenbosch, en toe weer een nag in Shanghai, op die geheimsinnige Bund, daar by die rooi bruid met die Adidas oor wie in die roman se openingstoneel vertel word.

Jou roman is vir my in vele opsigte soos die “first draft of history”. Gebeure van betreklik onlangs word in die roman opgeteken, maar daar is vir my iets van die huidige tydsgees teenwoordig, soos die bewaring van geskiedenis en om die verlede nie te vergeet nie. Word dit doelbewus opgeteken (byna soos Ian wat die bewaring met die biblioteek wil doen)?

Die probleem met so ’n hiperaktuele roman is dat terwyl jy nog dink jy’t die hede vasgevang, dit reeds verlede geword het. En soos dit mos maar is, sal ons verlede na ons bly aankom van voor; dis dus ’n soort toekoms. Hoe ons gaan terugdink oor gister, is iets wat onvoorspelbaar is. Dus is die verlede net so onvoorspelbaar soos die toekoms. Dis hoekom die “geskiedenis” telkens herskrywe word; ook jou persoonlike geskiedenis, die verhaal wat jy oor jouself aan jouself vertel. So ’n first draft of history het dus baie risiko’s; dis ’n tydsdokument, dit kan gou dateer; dit is dalk so dun soos die koerant, en so vergeetlik. Dis maar die dinge waarmee ’n skrywer sit terwyl hy skrywe. Gaan mense eendag, metafories gesproke, fish en chips in hierdie bladsye toedraai?

Dit is polities en aktueel. Ek is waarskynlik verkeerd, maar die feit dat daar soveel uitlopende sienings gedeel word, maak dit vir die leser moeilik om uit te pluis wat jou mening rondom sommige van die onderwerpe is. Is dit doelbewus?

So jy’t ’n roman soos hierdie, wat as ’n polifoniese roman beskryf kan word. Dis veelstemmig; dit praat met die stemme van vele botsende karakters, en hul stemme bie teen mekaar, weerspreek mekaar. Dis ’n manier van joernalistieke optekening van mense uit verskillende leefwêrelde se gedagtes en ervarings. Om by wyse van stórie ’n argument te dryf (en ek glo elke storie het in sy hart ’n argument), is natuurlik meer kompleks as om byvoorbeeld ’n meningsartikel oor ’n gegewe onderwerp in ’n koerant te skrywe. Met storie moet jy tot verhaal kom met verskillende karakters se gevoelens en menings, en jy moet elke mens in jou verhaal met deernis probeer uitbeeld. ’n Skrywer moet oppas om die mes in te hê vir ’n karakter. Klim eerder in ’n karakter se kop en hart in en maak sy binnewêreld vir die leser oop. Ons sit in ’n land met mense uit verskillende agtergronde en verskillende verledes met verskillende verhale om te vertel. Om optekenaar daarvan te wees, is die romanskrywer se terrein. Beteken dit die boek het nie uiteindelik ’n “sê” nie? Allermins. Maar dis dalk ’n meer komplekse standpuntinname as wat jy in ’n meningsartikel in die koerant sal vind. Bygesê: Daar sal natuurlik verskillende interpretasies van hierdie boek se “sê” of argument wees. Ek het reeds gesien dat sommige lesers die boek na hul eie politieke oortuiging wil buig. Ander snap bloot nie als nie. ’n Leser by ’n bekendstelling in Pretoria het byvoorbeeld gelees dat Operasie Amok die drywer agter die Valliste is en dat die Fees Must Fall-protesteerders dus by implikasie só van hul agentskap beroof word. Dis ’n mislees, want die beplanners van Amok probeer bloot inskouer op die bestaande studente-opstande en ’n studentebeweging wat reeds bestaan en met groot oortuiging optree. Definitief is Thuli Kumalo (een van die twee hoofkarakters) nie ’n maaksel van Operasie Amok nie! Nes Amok se mense probeer ook die Instituut vir Aanmoediging in China inbeweeg op die studentebeweging. Maar die Instituut is eweneens nie die argitek van die Vallistebeweging nie. Wanneer jy egter ’n boek uitgee, moet jy weet dat hy dood op die boekrak staan totdat ’n leser soos daardie een in Pretoria die boek oopmaak en begin lees, en elke leser sal lees soos hy of sy kan.

Is daar ’n spesifieke rede waarom Jerome in die eerste persoon praat? (Thuli en Ian het baie te sê en hul doen en late beslaan uiteraard ’n groot deel van die boek. Aanvanklik kom Jerome nie so dikwels voor nie, en dan val dit my op dat hy ’n eerstepersoonsverteller is.) Die roman is byna ’n debat. Sy karakter is baie slegter af as Ian en Thuli.

Soms hoor ’n skrywer ’n karakter se stem byna rêrig in sy oor. Asof die karakter vir hom voorsê. Jerome het só by my opgedaag met ’n soort onmiddellikheid en egtheid en sy stem het so duidelik met my gepraat dat ek hom nét so, direk, wou weergee. Die ek-vertelling is mos meer onmiddellik en skrynender as die meer verwyderde derdepersoonshantering.

Dink jy mense verstaan nie mekaar se wêrelde nie? Daar is gewis vooroordeel. Dit word myns insiens goed geïllustreer. Ek is bye tye nie seker by wie ek my wil skaar nie, maar dit is terselfdertyd nie ’n kompetisie nie. Beide Thuli en Ian vra geldige vrae.

Hierdie ideale biblioteek wat Ian aan die einde van die grondpad in die Karoo wil inrig, is maar een van die biblioteke wat in die boek ter sprake kom. Dis ’n ideale ruimte wat hy wil skep, waar elke enkele boek wat ooit oor die Karoo geskryf is (van boeke oor merinowol tot Burchell se travels die hartland in tot Olive Schreiner en Eben Venter se romans), sal staan. Maar die biblioteek word iets meer. Dit stal ook oorblyfsels uit die geskiedenis uit. Dis geen veilige ruimte nie. Dis ’n biblioteek vol ongemaklike artefakte; oorblyfsels uit die verre en nabye verlede. Opponerende standpunte. Jy word gekonfronteer. Jou vel word van jou lyf gestroop.

Ian wil met die biblioteek wat hy wil oprig talle dokumente, romans en dies meer bewaar. Lê geskiedenis jou na aan die hart?

As jy praat oor geskiedenis moet jy weet dat die woord twee betekenisse het. Eerstens is geskiedenis die dinge wat wérklik in die verlede gebeur het, en tweedens is dit die optekening of dokumentering van daardie dinge, byvoorbeeld geskiedenisboeke of dokumentêre films. As jy nou vra of die dinge wat werklik gebeur het, my na aan die hart lê, kan ek net antwoord dat geen mens in Suid-Afrika ongeskonde uit die verlede kom of tans in hierdie uitputtende land kan lewe sonder om littekens op te doen nie. As jy ook verder vra of ek ons óptekening van die verlede (al die vorms van geskiedskrywing) na aan my hart het, dan ja, ek stel belang in hoe mense onthou en wat die manier van dink agter hierdie onthou is; wat die politiek agter dokumente, foto’s, nuusberigte uit ou koerante, dokumentêre films, tekeninge en klankopnames is. Wat mense verkies het om te vergeet. Wat hulle uitsonder as memorabel en belangrik en dit dan die geskiedenis noem. As jy só kyk, is daar dus ’n groot gaping tussen geskiedenis en geskiedenis! En albei lê my na aan die hart.

Het die roman grotendeels uit jou ervaring en betrokkenheid by die Universiteit van Kaapstad (UK) gespruit?

Sekerlik het die gebeure op die kampus in Kaapstad ’n rol gespeel. Maar ek het tydens die rofweg tweejaar-skryfproses ook wyd gereis na kampusse in China, Zimbabwe, Italië, Nederland, Engeland en België en was ook in Griekeland, Spanje en Portugal. Oral in die wêreld waar jongmense bymekaar is, is die identiteitsoorloë intens, al is dit soms ónder die radar. Maar my navorsing oor surveillance capital en werksreise in Hong Kong en veral China was die éintlike krag agter die roman. Hier te lande in SA lees lesers die roman in die eerste instansie agter die storie aan wat dit oor Suid-Afrika vertel. Die groot onmiddellikheid is vir hulle ons plaaslike identiteitsoorloë. Dis waaroor die roman se ontvangs tans veral gaan. Vir my is die groter aspek van die roman egter die feit dat data kosbaarder is as olie. Dís die groot identiteitsdebat; die biblioteek wat gulsig opslurp aan ons data en dit berg. Dus die kwessie van privaatheid in ’n sfeer van sigbewaking en data-oorloë. Dis asof die harde aktualiteit van Suid-Afrika, soos dit in die boek uitgebeeld word, vir lesers só warm is dat hulle nie nou die groter aspek in die oë kan kyk nie.

Is hierdie karakters losweg geskoei op mense wat kursusse aan die UK geloop het? Iets of iemand wat jy waargeneem het?

Niemand identifiseerbaar nie!

Speel die roman in 2016 af? As ek so na die gebeure kyk – #RhodesMustFall, die skilderye wat verbrand is, die onluste en die melding dat Cyril Ramaphosa nooit president sal word nie – kom dit so voor. (Die Jameson-saal is in 2018 na die Sarah Baartman-saal herdoop?)

Hierdie vraag word goed in die nawoord en ook implisiet in die voorteks beantwoord. Die verhaal is rofweg in die tydperk 2015–2017 gesetel, maar dit word in die boek ook vooraf gesê dat die verhaalgebeure nie noodwendig die historiese gebeure chronologies presies navolg nie. Daar is gesmous met historiese feite! Maar daar is ook akkuraathede, soos dat studente op ’n spesifieke stadium voorgestel het dat die Jameson-saal eerder die Marikana-saal moet heet.

Jy stel ook die volgende vraag: “Watter vrae vra digters nié?”

Dis die soort vraag wat elke mens homself eintlik elke dag moet afvra. Wat vra ek nie? En dit geld vir romanskrywers ook! Want mens loop mos maar met die lig wat jy het, en daar’s baie wat jy nie sien nie. So: “Wat vra ek nie?”

Met tye word daar byna kommentaar gelewer ook op die boekebedryf.

Die boekebedryf ondergaan groot veranderinge en hierdie boek is self die produk van maar één van daardie groot wendinge. Weens die opklits van feit en fiksie, die rol van sosiale media en sogenaamde citizen journalism, leef ons in ’n ekologie van waarheid en verdigsel, pens en pootjies binne-in ’n postfeit-wêreld. Daar is nie meer ’n hiërargie van waarhede ter hand nie. Enigeen met ’n selfoon in die hand kan ’n feit- of liegfabriek wees. Een van die groot gevolge vir die boekebedryf in hierdie sug na die onmiddellike is die swaai van fiksie na nie-fiksie; na harde aktualiteit, na sogenaamde non-fiction narrative. Dís die boeke wat nou uitpop. Die romanskrywer vra: Wat is die rol van stórie in hierdie nuwe wêreld; daardie suspension of disbelief wat volg ná die frase “Eendag was daar …”? In ’n sin is hierdie roman ’n neerslag van daardie swaai. Romanskryf as ’n soort joernalistiek. Storie as nie-fiksie. Die skrywer as verslaggewer in die Gotiese hede. Ook is hierdie roman geïnteresseerd in nuwe tegnologie en die boek. Hoe kan stories elektronies op ’n ánder manier gelewer word? Hoe gaan stories met tegnologie geskép word? Wat gaan word van die estetika van oorspronklikheid, die skeppende skrywer, die méns agter die boek? Die stem van die storieverteller? Gaan kunsmatige intelligensie eersdaags genrefiksie begin uitpop nadat al Stephen King se boeke vir ’n algoritme gevoer is? Stories geskep deur kunsmatige intelligensie in King se styl? Hou maar dop! Want: Dis nié science fiction nie.

Daar word van grensliteratuur en “scar literature” gepraat.

’n Mooi PhD-ondersoek vir ’n skrander student wag: Ooreenkomste tussen Chinese littekenliteratuur en byvoorbeeld my generasie skrywers, die sogenaamde Tagtigers, se skryfwerk. Onder meer die grensliteratuur wat in die jare tagtig van die vorige eeu geskryf is. As ek tyd gehad het, het ek self hieroor verder akademiese navorsing gedoen!

Boeke soos Die swerfjare van Poppie Nongena word genoem; daar word gesê die boek is gesteel. Swart studente sê so, vertel Elizabeth.

Dáárom, wanneer een van die karakters na die steel van verhale verwys, word die hele debat oor kulturele appropriasie geopper. Die Valliste in die storie gaan steel byvoorbeeld in Durbanville die houtsneewerk van rooi Indiane, slapende Meksikane onder sombrero’s, dus die muurdekor, uit die Spur en stal dit op die Universiteit van Kaapstad se kampus uit.

Wat dink jy is die grootste rol wat letterkunde te speel het?

Om ’n leser soos jy die vrae te laat vra wat jy hiermee vra. Letterkunde is uiteindelik daar om jou deernis te gee vir ander mense, vir hul leefwêrelde, die drag wat hulle dra, die menings wat hulle het. Om jou gees oop te maak vir ánder mense se weerlooshede en woedes.

China spreek nogal tot jou. Die wêreld van Charlie Oeng het ook ’n Chinese verbintenis en The World of Suzy Wong kom ook daarin voor, nes in Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Ja.

Thuli se pa, Cat, kom oorspronklik van Cradock, waar hy ’n veldwagter was. Dit het my nogal aan ’n paar politici laat dink – die ding van ’n veldwagter op die platteland wat later ’n ander wêreld betree.

Korrek.

Hoe baie van die boek het jy op Cradock in die Etienne van Heerden-gastehuis geskryf?

Nie soveel as wat ek sou wou as daar meer tyd vir die Karoo was nie!

Jy het ook ’n deel van die manuskrip tydens verlede jaar se Veldsoirée voorgelees?

Ek het stukke van die ontwikkelende roman voorgelees by konferensies, seminare en skrywersfeeste op verskillende plekke: Milano in Italië, Gent in België, by die Veldsoirée in Cradock … waar nog? Die gesprekke wat daarna plaasgevind het, het bygedra tot my dinkwerk oor die storie.

Hoe lank het dit jou geneem om hierdie boek te voltooi? Jou vorige boek het slegs twee jaar tevore verskyn, en nie een van hierdie twee romans is kort nie.

My bergfiets het my in Jonkershoek afgegooi en my ribbekas het erg seergekry. Op my rug in die bed en met kodeïenpille vir die pyn, het ek droomvisioene van ’n Karoo-biblioteek aan die einde van ’n grondpad begin sien. Elke boek wat ooit oor die Karoo geskryf is – van Van Wyk Louw se gedigte tot Olive Schreiner se romans tot Burchell’s Travels tot boeke oor wolboerdery, Boesmantekeninge of watertafels, is in daardie biblioteek versamel. Ek het van hierdie vlugte op Facebook gepos sonder om te weet waarheen die storie sal lei en toe ek daarna een aand op Shanghai se Bund voor ’n bruid in ’n bloedrooi, wapperende, blink syrok te staan kom, het die plot van die boek my te binne geskiet. Dit het als met soveel krag gekom dat my psige oorrompel is en ek het die boek binne twee jaar ná Die wêreld van Charlie Oeng kon publiseer. Dit was soos die Roof of Africa rally.