Wanneer mense met mekaar praat oor die boeke wat hulle gelees het, vertel hulle mekaar meestal van die emosionele impak wat dit op hulle gehad het – hoe dit hulle laat voel het. Waaroor egter dikwels nié gepraat en geskryf word nie, is die manier waarop die roman geskryf is, die maniere waarop taal en verteltegnieke aangewend word. Selde word gevra hoekom die roman byvoorbeeld ’n bepaalde effek op die leser het, wat in die teks veroorsaak dat die leser emosioneel reageer.
“Al is Etienne van Heerden se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 634 bladsye lank, het ek steeds sekere sinne en paragrawe weer gelees – omdat ek verstom was oor hoe raak hy baie Afrikaners se gevoelens beskryf oor die tyd waarin hulle leef.”
Die geweld en inhaligheid van die jare tagtig wat Etienne van Heerden in die oog gehad het in Casspirs en Campari’s, sy roman van 1991 (wat hy “’n historiese entertainment” noem), leef bykans 30 jaar voort in Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Dalk net met minder ratelende konvooie. En Biblioteek is dalk minder van “entertainment” as Casspirs, maar nie minder histories van aard nie. Bowenal is die groot ooreenkoms die sug na betekenis.