Blog: Izak de Vries writes about Die biblioteek aan die einde van die wêreld

(Scroll down for more posts.)

Blikskottel.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is wêreldletterkunde. Dit staan breëbors langs enige Nobelpryswenner wat ek al gelees het.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden is ’n BOEK, in hoofletters. Drie PhD-skripsies sal nie genoeg wees om dié een na waarde te skat nie. Dit is ’n enorme werk met geweldig baie lae.

Die storie? Dit is in die eerste plek ’n spioenasieverhaal.

Die leser moet egter gewaarsku word: die postmodernistiese bladspieël (let op na die talle wit spasies en twietagtige, kort paragrawe en hutsmerke), ook die voortdurende, metafiksionele selfondersoek, vertraag die leesproses baie bewustelik.

Die boek is dus meer as ’n storie. Soos enige goeie boek het dit lae van die betekenis, hierdie een se lae loop diep, baie diep. Hier is van die betekenislae wat vir my uitstaan:

  • Verbluffende insae vir Afrikaanse lesers in die denke van die Falliste (#FeesMustFall).
  • Taal, veral Afrikaans, se plek in die nuwe Suid-Afrika.
  • Afrikaanswees vs Afrikanerskap vs Afrikaanssprekend wees.
  • Identiteit.
  • Grond.
  • Lyflikheid.
  • Seks vs liefde, of juis nie?
  • Gender.
  • Kuns vs proteskuns vs kommersiële kuns vs die teks vs die neweteks.
  • Trigger warnings.
  • Die reg op privaatheid vs die reg op veiligheid.
  • Die plig van die staat vs die regte van die individu.
  • Die grensoorlog.
  • Volkstate (in verskillende vorme) vs vryheid.

Die lys is langer, maar kom ons laat dit daar.

Pryswenner

Ek vermoed hierdie boek gaan die wenner wees van volgende pryse:

  • Die UJ-prys
  • WA-Hofmeyerprys
  • ATKV-Prosaprys (hang af wie die paneel is)
  • kykNET-Rapportprys vir fiksie
  • Die Hertzogpyrs vir prosa

My opmerking oor die ATKV-Prosaprys is belangrik. Daardie prys is ingestel om toeganklike literatuur te bekroon. In hierdie verband sou Grensgeval van Marita van der Vyver, Halley se komeet deur Hannes Barnard, of Reney Warrington se Smit Motors, dalk ’n waardiger wenner wees, want Die biblioteek aan die einde van die wêreld speel met al postmodernistiese truuks om die leser uit te daag en te laat dink, te laat lees.

Van der Vyver, Barnard en Warrington skryf ’n heerlike storie, hulle bied dit aan op ’n manier wat lekker lees, en skep verskillende lae wat vir ’n slim leser wag om ontdek te word; toeganklike letterkunde dus met baie diepte.

Van Heerden aan die ander kant, skep ’n teks wat die hele tyd vir die leser aandui dat lees ook ’n skeppingsproses is. Jy móét kophou, al is die storielyne redelik eenvoudig. Die teks is uitgerafel en blootgelê, die agterkant van die tapisserie word vorentoe gehang, die steke en die nate wys. Dit ís ’n lekker, onderhoudende storie vol spanning, maar dit is ook ’n selfbewuste artefak. Dit sal dus interessant wees om te sien hoe die paneel die ATKV-Prosaprys se akte lees.

Die ander pryse? Wel. Ek weet wie ek sou kies!

Wie moet die boek lees?

Almal wat behoort aan leeskringe: plaas die een nou al op julle lysies vir 2021, of druk dit in daardie gaatjie wat nog gevul moet word vir 2020. Julle gaan nie ’n lekkerder bespreekboek kry as hierdie een nie.

Vir wie is die boek nie?

Dit is nie ’n boek met ’n enkelvoudige verhaallyn nie en die einde is nie voorspelbaar nie. Ek weet daar is diegene wat suiwer wil lees om te ontsnap. Dan is die boek dalk nie vir jou bedoel nie. Tog, al my navorsing toon dat Afrikaanse lesers honger is vir lekker stories met diepte, daarom vermoed ek hierdie een sal wyd gelees word. Juis omdat dit soveel diepte het.

Bespreek die boek

Nee, dis nie ’n maklike boek nie, dit is egter ’n boek wat jou deeglik inslurp en vashou. ’n Kort resensie soos hierdie is glad nie genoeg om daaroor te praat nie.

Koop dit, lees dit, nooi jou leeskring of ’n klomp vriende, sit ’n hele dag opsy, bespreek die Ubers en maak die rooiwyn oop, begin dan praat. Daar gaan woede wees, want die boek sny diep. Daar gaan uiteindelik ook kollektiewe insig wees – al is dit dan juis in alles waaroor ons nie saamstem nie.

Lees dit.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n bedonnerde werk. Dit slaan hard. Dit slaan jou binne. Dit slaan jou asem weg. Dit dwing jou om jou brein te laat werk.

Dit is nie maklik nie. Dit is egter fantasties.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is my 2019-letterkundeboek-van-die-jaar. Glo my, daar is ongelooflike werke gepubliseer in 2019, so ek sê dit dus nie sommer nie.

Baie van die ander uitstekende boeke lees makliker. Ek was nog altyd, skaamteloos, ’n voorstander van toeganklike letterkunde, maar wanneer ’n boek soos hierdie een verbykom, dan moet ’n mens tyd en kopspasie maak en gewoon sê: Ervaar.

Source: http://blogs.litnet.co.za/devries2/2019/12/15/die-biblioteek-aan-die-einde-van-die-wereld/

Die biblioteek aan die einde van die wêreld: Graffiti Books best seller

(Scroll down for more posts.)

Die biblioteek aan die einde van die wêreld tops the best seller lists of the Graffiti bookshop chain for December 2019.

TOPVERKOPERS DESEMBER 2019

ALGEHEEL

1 Die biblioteek aan die einde van die wêreld – Etienne Van Heerden
2 Geure – Lientjie Wessels
3 Grensgeval – Marita van der Vyver
4 Dit proe soos huis – Herman Lensing
5 Huis van gruwels – Susan Henriëtte Cilliers
6 Kantelpunt – Sophia Kapp
7 Koeke & Terte – Coetzer Susan
8 Anderman se vrou – Chris Karsten
9 Kweek dit self – JJ van Rensburg
10 Sewe-en-veertig – Irma Venter
11 Vloek – Rudie Van Rensburg
12 Kyk na my – Nataniël
13 Blinde Gode – Dibi Symington Breytenbach
14 Robey Leibbrandt ’n lewe van fanatisme – Albert Blake
15 Die Alfadokument – René van Zyl

FIKSIE

1 Die biblioteek aan die einde van die wêreld – Etienne Van Heerden
2 Grensgeval – Marita van der Vyver
3 Kantelpunt – Sophia Kapp
4 Anderman se vrou – Chris Karsten
5 Sewe-en-veertig – Irma Venter
6 Vloek – Rudie Van Rensburg
7 Blinde Gode – Dibi Symington Breytenbach
8 Die Alfadokument – Rene’ van Zyl
9 Bloedsuier – Leon Van Nierop
10 My naam is Prins, ek slaap met die lig aan – Christine Barkhuizen-le Roux

NIE-FIKSIE

1 Geure – Lientjie Wessels
2 Dit proe soos huis – Herman Lensing
3 Huis van gruwels – Susan Henriëtte Cilliers
4 Koeke & Terte – Coetzer Susan
5 Kweek dit self – JJ van Rensburg
6 Kyk na my – Nataniël
7 Robey Leibbrandt ’n lewe van fanatisme – Albert Blake
8 Siener van Rensburg: Boodskapper van God – Adriaan Snyman
9 Kammaland – Annelie Botes
10Kansvatter, die rustelose lewe van Ben Viljoen – Carel van der Merwe

KINDERS

1 Poenankies – Milan Murray en ander
2 Grootword gids vir meisies – Anita Naik
3 Gebruik jou verbeelding – Lapa/DK
4 Diary of a wimpy kid 14: Wrecking ball – Jeff Kinney
5 Die Periodieke tabel boek – TM Jackson / Protea
6 Ons gaan kruger wildtuin toe – Liza Roux
7 Grootword gids vir seuns – Phil Wilkinson
8 Zackie Mostert omnibus 01 – Jaco Jacobs
9 Klein plakpoppies – Katjies – Fiona Watt
10 Stalmaats omnibus 01 – Lize Roux

LIEFDESROMANS / ROMANZA

1 Want hy praat tjoklits – Elsa Winckler
2 Die onwillige strooimeisie – Alma Carstens
3 Marlene & die macho man – Anita du Preez
4 Ter wille van Nina – Cheryl Rogers
5 Sonvanger – Frenette van Wyk
6 Liefde vir ’n liefling – Didi Potgieter
7 Tweede kans op geluk – Sophia Kapp
8 Wat jy gee – Karlien Badenhorst
9 Lank donker & dierbaar – Madelie Human
10 Ou liefde, nuwe liefde – Malene Breytenbach

ENGLISH

1 Man’s Search for Meaning – Victor Frankl
2 Spy – Danielle Steel
3 Hidden Pretoria – Johan Swart
4 Redemption – David Baldacci
5 The Institute – Stephen King
6 The Children’s Block – Otto B. Kraus
7 The Guardians – John Grisham
8 The Sun Sister – Lucinda Riley
9 The Night Fire – Michael Connelly
10 Child’s Play – Danielle Steel

Visit Graffiti Books & Stationery: https://www.graffitiboeke.co.za/af/Tuisblad

Frederick Botha reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld on LitNet

(Scroll down for more posts.)

Op ’n Woensdagmiddag vroeg in 2013 laai ek een van Afrikaans se mees gerespekteerde literatore by Rosebank se Gautrein-stasie op om na die universiteitskampus in Aucklandpark te neem. Daardie jaar tree hierdie emeritus professor as gasdosent vir die honneurskursus oor die Afrikaanse prosa op, en ek, as pas aangestelde (tydelike) letterkundedosent, speel haar chauffeur. Dis my jaar van Driving Miss Daisy. Daardie middag, as inleiding tot haar kursus waarby ek gretig ingesit het om te luister en te leer, maak sy ’n stelling wat my siening van letterkunde ingrypend verander: Literatuur is ’n produk van die lewe waardeur ’n mens die problematiek van ons tyd leer ken en selfs beter verstaan. Die prosa, het sy aangevoer, word gevorm deur konteks en geskiedenis, en ontstaan deur iemand wat deel van ’n gemeenskap is.

Die daaropvolgende jaar skryf ek in vir my doktorsgraad in Afrikaanse letterkunde, met ’n onderwerp wat bogenoemde stelling as vertrekpunt neem en spesifiek fokus op die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ná 1994. Aan die einde van 2019, tydens die finale afronding van my proefskrif, word ek versoek om Etienne van Heerden se nuutste roman te resenseer. As selferkende Van Heerden-dissipel aanvaar ek die versoek sonder huiwering. Die afgelope twee jaar was ek toegewyd gefokus op my proefskrif, en het ek nie my hand aan enige resensies gewaag nie. Watter beter skrywer as Van Heerden om weer tot die Afrikaanse resensie terug te tree! Boonop het ek nodig om myself los te maak van my proefskrif en van hierdie onderwerp wat my by tye tot waansin gedryf het. Hierdie resensie, meen ek, sou die perfekte geleentheid bied om dit te doen.

Aikôna.

Want sien, Etienne van Heerden se nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, moes deel van my doktorale studie gewees het. Nie alleen bied hierdie roman ’n magdom besinnings oor Afrikaneridentiteit in die postkoloniale Suid-Afrika van ná 1994 nie, maar dit is ’n roman wat die leser uitdaag: ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik maar ook internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. En wat presies is daardie beeld wat die leser vind?

Dis die tyd van Trump, fopnuus, sosiale media, toksiese maskuliniteit, blackface, grondgrype en die konstante aanmaning om woke te wees.  Dis die tyd van #RhodesMustFall, #FeesMustFall, en ’n rits ander hutsmerke. Dis die tyd van selfsensuur, politieke korrektheid, en die verwagting dat Afrikaners onsigbaar moet wees. Om van hierdie roman as tydsdokument te praat, sou nie verkeerd wees nie. Talle werklike nuusgebeure word op kreatiewe wyse by die verhaal ingewerk.

Teen hierdie agtergrond leer ken die leser verskeie uiteenlopende karakters. Ian Brand, die Kaapstadse prokureur en kampvegter vir Afrikaans, stuur in ’n oomblik van frustrasie ’n ondeurdagte twiet waarin hy dienslewering kritiseer. ’n Twitter-storm bars los, wat aan Ian die nuwe naam as die Twietboer besorg, en wat die lewe vir hom warm maak. As deeltydse student in ’n vertaalkundekursus wat gemoeid is met die wyse waarop Suid-Afrikaners hulself in ’n nuwe era behoort te vertaal, jaag Ian sy klasmaats se bloeddruk gedurig op met sy uitlatings oor Afrikaans en Afrikanerskap. Ian vind ontvlugting in sy vurige seksuele verhouding met Elizabeth, ’n uitgewer. Elizabeth is bevriend met Thuli Khumalo wat sy as sensitiwiteitsleser vir haar uitgewery se manuskripte gebruik in die tyd van pc-kultuur. Thuli is ’n bekende studenteaktivis, die nuwe Winnie Mandela, en leiersfiguur in die Fees Must Fall-beweging aan die Universiteit van Kaapstad. As medestudent in die vertaalkundekursus, bots sy konstant met Ian se sienings wat sy as patriargaal, chauvinisties en koloniaal ervaar. Dan is daar Jerome Maarman, ook ’n student saam met Ian en Thuli, maar anders as hulle, het hy nie die luukse van ’n bevoorregte lewe nie, maar veg hy elke dag vir oorlewing in ’n selfgemaakte shelter langs die N2. As bruin man is hy ’n pion in die ideologiese argumente tussen Thuli as swart vrou en Ian as wit man. In ’n oeuvre vol onvergeetlike karakters het Van Heerden met Jerome ’n karakter geskep waarvan ek nog nie genoeg gekry het nie. Ek hoop van harte dat daar weer aan hierdie komplekse en tragiese karakter ’n stem gegee sal word in volgende romans. En so van komplekse karakters gepraat: dis presies hoe meeste van die karakters in hierdie roman uitgebeeld word, veral soos gesien in Elizabeth se wisselende ideologiese oortuigings. Suid-Afrika, so wil dit voorkom, is ’n skisofreniese land, so hoekom sal haar landsburgers anders wees?

Die leser ontmoet ook die plastiese chirurg, Piekenier Leqluerck, en sy fassinasie met die agterkant van mense se knieë, oftewel die popliteale fossa; Bill van Bellville, wat ’n bordspeletjie “Nkandla” ontwikkel het, en vas oortuig is dat die Afrikaner in ’n krisis verkeer. Dan is daar ook die Stellenbosse mafia wat Ian by hulle pogings wil betrek om veilige ruimtes vir Afrikaners te skep waarbinne hulle van Suid-Afrika kan afstig; Thuli se ouers, die ANC-veterane wat destyds in ballingskap in Londen was; die slinkse Sello, drinkebroer van Thuli se pa; en doktor Stephen Eliot, die ouskool-liberalis aan die Universiteit van Kaapstad en dosent in vertaalkunde, wat sy hande vol het om sy studente tevrede te hou terwyl die gemoedere hoog loop op kampus.

Van Heerden bring al hierdie karakters – en nog vele ander – op meesterlike wyse bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Daarom is die roman aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser sal boei.

Ian se twiet wat die groot konflik in die roman veroorsaak, is tekenend van die hedendaagse tendens waar sosiale media aan almal ’n stem en opinie bied, daar waar hulle agter die skerms van hulle rekenaars of slimfone skuil – sonder om aan die gevolge van hul plasings te dink. Terselfdertyd is dit ook tekenend van hoe ons, ten spyte van vryheid van spraak, steeds gesensureer word. Die roman bied uiteindelik ook ’n besinning oor die rol van tegnologie, en watter implikasie dit vir ons privaatheid inhou. Met biblioteke as ruimtes van kennis wat weens assosiasies met kolonialisme deesdae geteiken word, word toekomstige kennis eerder in kunsmatige intelligensie gevind, met Van Heerden wat op fassinerende (en skrikwekkende) wyse aandui hoe hierdie tegnologie in die toekoms deel gaan wees van ons alledaagse lewe, wat sulke ingrypende gevolge vir die mensdom inhou, dat dit as’t ware die einde van die wêreld soos ons dit ken, sal beteken. Die toekoms van Afrikaans, en die moontlikhede wat veeltaligheid vir ’n diverse land soos Suid-Afrika inhou, word eweneens onder die soeklig geplaas, en daar word selfs gespeel met die idee van Afrikanerkultuur as ’n groot biblioteek wat besig is om af te brand.

Hierdie roman dien uiteindelik ook as biblioteek van Van Heerden se eie oeuvre. Bekende temas word weer hier gevind: rassespanning, vermomming, kollektiewe en individuele skuld, en die soeke na identiteit. Ook wat die struktuur betref, maak Van Heerden weer eens gebruik van bekende tekstuele aspekte wat sy vorige romans kenmerk: die wisselende vertelperspektief, die jukstaponering van geografiese ruimtes, die rol van briewe, en ’n oop romanslot. Saartjie Windvogel, die talentvolle viooldogtertjie van Matjiesfontein in Van Heerden se In stede van die liefde, wat die leser later in sy roman Klimtol as die verstote Snaartjie leer ken, keer in hierdie roman terug as Snaar, maar in ’n heel ander (fisiese) gedaante. Dit is ook die idee van die boek as biblioteek van ander literêre werke wat geaktiveer word deur intertekstuele verwysings na, onder andere, George Orwell se 1984 en J. van Melle se Bart Nel.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld kan beskryf word as ’n spanningsroman, in die wydste sin van die woord. Die roman begin met ’n moord, met die leser wat in spanning deur hierdie allemintige bielie van ’n boek moet lees om antwoorde op hierdie treffende verhaalopening te vind. Dis met rede dat hierdie roman oor die 600 bladsye beslaan, want om die uiteenlopende hedendaagse spanning op die sosio-maatskaplike en -politieke front te boekstaaf, is geen eenvoudige of korterige taak nie. Vanweë haar betrokkenheid by die Fees Must Fall-beweging, verkeer Thuli in spanning met haar ouers teen wie sy in opstand kom. Aanvanklik sukkel sy ook om as sogenaamde coconut, gevorm deur haar grootwordjare in Londen, haar met Afrika te identifiseer tydens hul terugkeer. Ian verkeer in spanning met sy traumatiese verlede op die Grens, maar ook as Afrikanerman met die onstuimige Suid-Afrika van vandag. Snaar, in transisie, verkeer in spanning met sy lyf en die werkinge van institusionele manlikheid. Ook Jerome is in spanning met die sisteem, die nuwe Suid-Afrika, en Madiba se idee van ’n reënboognasie wat hom as bruin man gefaal het, want alhoewel dit demokrasie na Suid-Afrika gebring het, is daar steeds nie vryheid vir alle Suid-Afrikaners nie. Spanning word ook geskep met die leser wat as speurder moet optree om uit te vind wie die kruisboog-moordenaar is wat Kaapstad teister. Dis veral in die laaste twintig bladsye van hierdie roman waar die spanning só koorsagtig hoog loop, dat die leser nie vinnig genoeg kan omblaai nie.

Op ontstellende wyse herinner die roman dat sosio-maatskaplike en -politieke chaos op weldeurdagte wyse geskep en gemanipuleer kan word, juis as manier om beheer uit te oefen – alles in die naam van korrupsie as die groot merker van ons tyd. Die grootste beloning van hierdie roman is egter die uitsonderlike wyse waarop Van Heerden aandui hoe kompleks maar ook bisar rassekwessies in Suid-Afrika kan wees. Terselfdertyd word daar ook besin oor die rol, relevansie en selfs luuksheid van fiksie in ’n land met dwingende probleme, en word die leser herinner aan Philip Roth se stelling: “Actuality is continually outdoing our talents.”

Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïs: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek, of hom daaraan steur om polities korrek te wees nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Sonder om bloot beskrywings van die stormagtige situasies te bied wat soos ’n ontnugterde gesanik of gekerm klink, of wat selfs as voorskriftelike prekery ervaar kan word, ondersoek Van Heerden hierdie kwessies oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Van Heerden, by monde van Elizabeth tydens ’n gesprek met Thuli oor ’n manuskrip se kulturele gepastheid, stel dit soos volg: “Vir my is die sterkpunt van die boek dat elke karakter sy of haar kans kry om hul sê te sê. Dink jy nie dis ideologies mooi gebalanseerd nie? Dalk is dit eintlik ’n baie liberale uitbeelding van ons land se probleme […]” (130). Dieselfde geld vir Van Heerden se roman.

Net soos Ian, mag talle lesers voel dat hulle ook eerder wil wegbreek uit hierdie “uitputtende land” (165), en daarom nie ’n roman daaroor wil lees nie. Die roman begin immers met ’n trigger warning! Maar dalk is dit juis die rede hoekom hierdie roman gelees móét word: omdat dit poog om insigte in hierdie gekwelde land te bied en al hierdie brandende kwessies te verstaan; omdat dit gemoeid is met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel. En dit is nodig, want soos die roman aandui, is dit onmoontlik om van hierdie omstandighede te ontsnap. Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n broodnodige roman waarmee Suid-Afrikaners die nuwe dekade kan betree.

Frederick Botha

Visit LitNet: https://www.litnet.co.za/resensie-die-biblioteek-aan-die-einde-van-die-wereld-deur-etienne-van-heerden/

SKROP: Deborah Steinmair reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld

(Scroll down for more posts.)

Die biblioteek: Van Heerden in vyfde rat

Etienne van Heerden is ’n gevierde romansier, een van ons grootstes. Hy is ook ongelooflik prolifiek: dit voel soos gister toe die lywige Die wêreld van Charlie Oeng op die Afrikaanse lettere losgelaat is. En nou: Die biblioteek aan die einde van die wêreld: ambisieus, groots in omvang, aktueel, polsend, kompleks en verbluffend.

Waar kom hy aan al sy idees en storielyne? Van Heerden sê in die bedanking die volgende oor die ontstaan van die boek: “Hierdie roman het ontstaan toe my bergfiets my in Jonkershoek buite Stellenbosch afgegooi het … In die dae wat volg, plat op my rug met ’n stukkende ribbekas waar die fietsstang my met die valslag getref het en op pynpille wat kodeïen bevat, het ek droomsnapse op my Facebook-muur gepos … Dit was verbeeldingsvlugte oor ’n biblioteek aan die einde van die wêreld.”

Hy was ook op ’n lesingreis na China, in hierdie roman ’n sentrale koplandskap.

Oor die woelige, hiper-aktiewe roman sê hy: “Die teks gaar dus op – nes die hamerkop, die weerligvoël, in sy nes opgaar aan die debris wat hy in die omringende landskap kry.” Van Heerden het tot aan die einde van 2016 die Hofman-leerstoel beset as emeritus professor van die Skool vir Tale en Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad – dus het hy die #Feesmustfall-beweging van naderby beleef en dit vind ook neerslag in die boek.

“Menings en formulerings en uitroepe en slagspreuke en frases en clichés – die chronolek waarna hierbo verwys is – in digitale en gedrukte vorm op plaaslike en internasionale forums, vind jy in hierdie teks.”

Hy verklap enkele van die temas: “Kwessies van identiteit … Daarbenewens is daar die groeiende diskoers – plaaslik en internasionaal – rondom sigbewaking. Kunsmatige intelligensie en verwante nuwe tegnologieë se impak op privaatheid en identiteit …”

Ten slotte stateer hy dat dit uiteindelik fiksie is: “en weerspieël die insigte en menings van storiekarakters nie noodwendig dié van die ondergetekende nie.”

Alhoewel, gee hy toe: “’n skrywer se boeke uiteindelik hóm skryf.”

Dié woelige Biblioteek wemel van temas en standpunte en die skrywer stuit nie vir sogenaamde cultural appropriation nie, hy is immers romansier en storiewewer en sy verbeelding is fenomenaal. Hy is ook nooit toondoof nie (ek sien daar was twee sensitiwiteitslesers, nog ’n relatief nuwe bergip: Bettina Wyngaard en Christi van der Westhuizen).

En uiteindelik is dit ’n uitasem leeservaring wat jou by die venster uitwaai, teen die kant van die kop klap en al vinniger laat omblaai, soos ’n Deon Meyer-misdaadroman. Leesstof uit die boonste rak, maar hou dit vir ’n naweek of vakansie wanneer jy al jou aandag daarin kan belê.

Deborah Steinmair

Visit SKROP: http://skrop.co.za/boeke/?fbclid=IwAR3v1a48UUXaqQO4EQNlKI7FGVNxMVUzFss1R-IA45HyJJL-Azt52iQ0_eA