Vrystaat Arts Festival: Etienne van Heerden interviewed by Hennie van Coller on ‘Gebeente’ in Bloemfontein on 5 July 2024

(Scroll down for more posts.)

Met: Etienne van Heerden, Hennie van Coller (gespreksleier)
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 60 min
Prys: R40
Plek: ATKV-Boeke-oase (Hoofsaal)
Tyd: 5 Jul 16:30

Dit is byna vier dekades ná Toorberg. Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman (wat destyds as jong man die afarmmagistraat van Toorberg, Abraham van der Ligt, in die gange van Bellville se landdroshof raakgeloop het) aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die vergete grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg. Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite en allegorie word sjarmant verweef in dié meesleurende, fassinerende roman, en eindelik voer Etienne van Heerden sy kenmerkende magiese realisme die verste nog in sy hele oeuvre.

Kaartjies is beskikbaar op Webtickets.

Vrystaat Arts Festival: Etienne van Heerden interviewed on his work at the National Afrikaans Literary Museum, Bloemfontein, on 4 July 2024

(Scroll down for more posts.)

Met: Etienne van Heerden, Hennie van Coller
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 60 min
Prys: R40
Plek: NALN
Tyd: 4 Jul 18:00

Etienne van Heerden word vanjaar 70. Hy het ’n belangrike deel van sy grootwordjare op plase in die Graaff-Reinet- en Cradock-distrikte deurgebring, ’n ervaring wat neerslag vind in die wyse waarop die Karoo meermale as ’n soort protagonis in sy prosawerk opduik. Sy hoërskool- en studentejare bring hy op Stellenbosch deur. Hy kwalifiseer aanvanklik as prokureur, en is ook ’n tydperk in die reklamewêreld werksaam. Nagraadse letterkundestudies maak dit hierna vir hom moontlik om die akademie te betree, waar hy hom nie net op sy eie skryfwerk nie, maar ook die begeleiding van studente in kreatiewe skryfwerk toespits. As stigterredakteur vestig hy die multitalige kulturele webruimte LitNet, vanjaar ’n kwarteeu oud. Hy tree herhaaldelik op as (mede-)redakteur of -samesteller van letterkundeverwante publikasies. Naas rubrieke, akademiese artikels, literatuurkritiek en joernalistieke vryskutwerk, sien ’n wye verskeidenheid kreatiewe skryfwerk van hom die lig: tot dusver veertien romans, drie kortprosabundels, drie solo- of groepsdigbundels en ’n kabaretteks. Talle bekronings het op sulke publikasies gevolg, waaronder twee maal die Hertzogprys vir Prosa. ’n Verskeidenheid van sy werke is voorts in meerdere tale vertaal. Vir sy kreatiewe en kreatiwiteitsbevorderende bydraes in breër Afrikaanse kultuurverband is hy eweneens herhaaldelik vereer. Hoewel sy skryfwerk dikwels van literêr-uitdagende aard is, kry hy dit reg om geliefd te wees by ’n breër leserspubliek.

Kaartjies is beskikbaar op Webtickets.