Beste leerder

Om ’n boek te lees, is byna soos om ’n nuwe vriend of vriendin te leer ken.

Wanneer jy ’n nuwe mens bevriend, kom jy stadig maar seker, stukkie vir stukkie, ál meer dinge agter oor daardie persoon.

Jy begin geleidelik verstaan wie die mens agter die naam is.

Wat het in die verlede met haar gebeur en wat is nou met haar aan die gebeur? Oor watter dinge dink sy baie? Hoe lyk haar wêreld en wat het sy oor die lewe te sê?

Jy moet geduldig wees en oopkop luister en ook bietjie nuuskierig wees!

Om ’n roman te lees, behels ’n soortgelyke proses. Geleidelik kom jy agter wat in die storie aangaan, wat in die verlede met die karakters gebeur het en wat nóú vir hulle belangrik is.

Jy begin verstaan hoe hulle hul lewens ervaar. Hoe hulle die ander karakters in die storie sien – en op die ou end begryp jy wat die storie oor die wêreld om jou te sê het.

Ek dink ook soms dis soos om ’n horlosie uitmekaar te haal as jy wil weet hoe dit werk. Jy skroef die horlosie oop en sprei al die ratjies en wystertjies en veertjies voor jou op die tafel uit. Versigtig kyk jy na elkeen. Dan gee jy elke onderdeeltjie ’n naam en probeer uitwerk wat sy funksie is. Hoe werk hy saam met die ander onderdeeltjies?

En dan sit jy als weer bymekaar en as jy dit slim gedoen het, gaan daardie horlosie iets wonderliks doen.

Dit gaan vir jou wys hoe laat dit is!

Só is dit ook met die ontleding van ’n roman: Jy kyk na die karakters, jy kyk hoe tyd gebruik word, en ruimte, jy kyk wie die verteller is, wat die temas is, en op die ou end as jy al daardie onderdeeltjies naam gegee het, sit jou kop die horlosie sommer self aanmekaar en jy verstaan wat die boek wil sê.

Dis die avontuur van lees.

Kyk maar vanaand TV-nuus, en jy sal sien hoedat die temas waarmee Toorberg besig is, elke dag om jou afspeel: Die debat oor grond. Die geskiedenis van rassisme. Die vraag oor hoe ons teenoor mekaar optree en die vraag oor wat in ons land se verlede gebeur het. Die vraag oor watter storie of stories ons oor die verlede vertel – want is die geskiedenis nie maar ’n storie wat ’n groep mense aan hulself vertel nie?

En dan het onsself, elke mens, nog ons eie persoonlike geskiedenis ook!

Lekker lees!

Etienne van Heerden