Etienne van Heerden Veldsoirée 2018

Gratis toegang vir alle programitems
Feesorganiseerder: Darryl David (davidd@ukzn.ac.za / 081 360 9231)

Die bekende feesorganiseerder Darryl David het aangekondig dat die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée vanjaar oor die langnaweek 22–25 September op Cradock en Somerset-Oos en in die Cradock-distrik sal plaasvind.

Darryl David | Foto: Jan van der Merwe

“2017 se Veldsoirée was iets besonders,” het Darryl gesê. “Dit was een van daardie onvergeetlike feeste waar almal vir drie dae met ’n breë glimlag op hul gesigte rondgeloop het. En die toer na Schreiner se sarkofaag – dit bly die hoogtepunt van my alternatiewe lewe as feesimpresario. Die Etienne van Heerden Veldsoirée bly my mees egte Karoofees.”

Darryl is die stigter van onder meer die Adam Small-fees op Pniel, die Athol Fugard-fees op Boekedorp Richmond en die Schreiner-fees, ook op Cradock, en was die hoofdryfveer agter die verklaring van Durban as ’n Unesco City of Literature op – alles sy eie breinkinders.

“Maar vanjaar se veldsoirée gaan bietjie meer woema kry,” het hy bygevoeg. “Daar is drie nuwighede, waaroor ek baie opgewonde is.

“Eerstens bied ons ’n veldskool aan, ’n slypskool vir ontwikkelende skrywers, met as mentors ervare mense soos Etienne van Heerden, Bibi Slippers, Fanie Olivier, Izak de Vries, Melt Myburgh en Chanette Paul. Die veldskool sal gratis wees en sal op prosa en poësie konsentreer. Dit begin effens voor die soirée – reeds op die aand van 20 September.

Fanie Olivier, Bibi Slippers (Foto: Adam Heyns) en Chanette Paul

Tweedens word die soiréeprogram uitgebrei na Somerset-Oos, waar skrywers soos Dana Snyman, Ronelda Kamfer, Karin Brynard, Bettina Wyngaard en Nathan Trantraal by die Jakes Gerwel-huis sal optree.

Nathan Trantraal (Foto: Naomi Bruwer), Dana Snyman en Karin Brynard

“Dis ’n groot eer vir die veldsoirée om ’n deel van die program by Jakes Gerwel se huis aan te bied, en om so ook die gemeenskap van Somerset-Oos, ’n dorp waarvoor Gerwel baie lief was, te bereik. En as ’n mens die moeite gaan doen om 100 km vanaf Cradock te ry, moet mens tyd neem om die Walter Battiss Museum te besoek. En op pad huis toe moet ek ’n foto van Etienne van Heerden voor Ernst van Heerden se huis op Pearston afneem.”

Die Gerwel-huis | Foto: Jakes Gerwel Foundation

Die derde nuwigheid: Signature Tours bied die moontlikheid vir soiréegangers om per retoerbus te reis van Kaapstad/Stellenbosch na Cradock, en van Pretoria/Johannesburg via Bloemfontein na Cradock. “Jannie Loubser se bussafari’s is welbekend en professioneel – die busse sal interessante boekplekke, soos Die Boek Hotel op Bethulie, Matjiesfontein en sy pragtige Lord Milner Hotel, en Nieu-Bethesda, die wêreld van Athol Fugard en Helen Martins, aandoen.”

Elke bus sal vergesel word van ’n ingeligte toergids wat soiréegangers ingelig gaan hou oor die interessante skrywersplekke wat besoek word en meer oor die betrokke skrywers sal vertel.

Nes die geval in 2017 was, sal soiréegangers eerstens weer kan tuisgaan by die Buffelshoek Dirosie Lodge, 15 km suid van Cradock.

Die graf van die bekende Olive Schreiner is op die plaas, en benewens die mooi veld en berguitsigte sal daar weer ’n uitstappie met bakkies wees na die graf op Buffelskop.

Met sy ryk geskiedenis is die Victoria Hotel en Tuishuise op die dorp ook ’n uitstekende keuse vir verblyf. Die bekende Sandra Antrobus het meer as 30 tradisionele Karoohuisies gerestoureer en mooi ingerig, en die hotel is bekend vir sy uitstekende etes.

Die Cradock-been van die soiréeprogram en die veldskool sal gedeeltelik in die Victoria Hotel en op Buffelshoek aangebied word.

“Alle programitems is gratis, maar die uitstappie met biltong en sjerrie na Buffelskop sal R150 per persoon kos,” het Darryl verduidelik. “Veldskoolbywoners sal ook alle soirée-items gratis kan bywoon. Dis ’n sonderlinge voorreg, want hulle sal heeltyd in die nabyheid van hul mentors wees en na hulle kan luister en idees kan uitruil. En als gratis!”

Ander skrywers wat by die soirée gaan optree, sluit Willie Burger, Karin Brynard, Etienne van Heerden self, Clinton du Plessis, Theo Kemp, Maya Fowler, Melt Myburgh en Chanette Paul in, asook Ronelda Kamfer, Izak de Vries, Nathan Trantraal, Bibi Slippers, Bettina Wyngaard, Dana Snyman, Kirsten Miller en Kobus du Toit. Ook word nog vyf skrywers verwag wat binne enkele dae gaan bevestig.

Vir meer inligting oor die veldskool, skakel Darryl by 081 360 9231 of e-pos hom by davidd@ukzn.ac.za. Vir die soirée se programinligting vir beide Cradock en Somerset-Oos, kan hy ook nou reeds gekontak word.

“Die Etienne van Heerden Veldsoirée beloof om musiek vir die oor van boekliefhebbers en liefhebbers van die Karoo te wees,” het Darryl David gesê. “Nog nuus kom later!”

Spesiale goedkoper verblyftariewe vir veldskoolbywoners word binnekort aangekondig. Belangstellendes kan egter nou al daaroor skakel na die lodge of die hotel.

Akkommodasie beskikbaar by:

Buffelshoek Dirosie Lodge, Cradock

Tel:
 +27 (0)60 433 4797
E-pos: buffelshoek.gamelodge@gmail.com
Webtuiste: http://buffelshoekdirosielodge.co.za

Die Tuishuise, Cradock

Tel: +27 (0)48 881 1322 / +27 (0)48 881 1650
E-pos: info@tuishuise.co.za
Webtuiste: http://www.tuishuise.co.za

Victoria Manor, Cradock

Tel: +27 (0)48 881 1322 / +27 (0)48 881 1650
E-pos: info@tuishuise.co.za
Webtuiste: http://www.tuishuise.co.za

Bustoere:

Signature Tours

Bustoere van Kaapstad/Stellenbosch na Cradock, en van Pretoria/Johannesburg via Bloemfontein na Cradock

Tel: +27 (0)21 975 1060 / +27(0)82 787 2271
E-pos: info@signaturetours.co.za
Webtuiste: http://www.signaturetours.co.za/conference/evh2018/

 

 

 

Program

Veldskoolprogram 20–21 September

Openingslesings – Donderdag 20 September 

6.00–7.30 Genesis en geaardheid – Etienne van Heerden

7.45–8.30 Vreemdmaking – Etienne van Heerden

Werkswinkels – Vrydag 21 September

PROSA

Sessie 1

8.00–8.45  Chanette Paul

8.55–9.40 Izak de Vries

9.50–10.35 Maya Fowler

Sessie 2

10.50–11.35 Chanette Paul

11.45–11.30 Izak de Vries

11.40–12.25 Maya Fowler

Sessie 3

2.00–2.45 Chanette Paul

2.55–3.40 Izak de Vries

3.55–4.40 Maya Fowler

POËSIE

Sessie 1

9.00–11.00 Fanie Olivier

Sessie 2

11.00–1.00 Melt Myburgh

Sessie 3

2.30–4.30 Bibi Slippers

Aan die einde van Sessie 3 sal slypskoolbywoners ‘n opdrag ontvang. In die daaropvolgende twee dae kan hulle daaraan werk, tussen soirée-items deur met hul mentors gesels en idees uitruil, en op Sondagaand vanaf 7-uur (tot laat) by die “open mic”-geleentheid hul gedig of prosastuk voorlees. Hulle sal benewens met hul mentors, ook deurgaans kontak hê met ander skrywers wat by die soirée optree. Alle ander besoekende skrywers of enige lid van die publiek sal ook die geleentheid hê om uit eie werk voor te lees. Seremoniemeester van die aand sal feesimpresario Darryl David wees.

SOIRÉEPROGRAM 22–24 SEPTEMBER

SATERDAG 22 SEPTEMBER

DAG EEN – DIE TUISHUISE

10.00–10.30 – Willie Burger – Die wêreld van Charlie Oeng

10.30–11.00 – Izak de Vries

11.00–11.30 – Kirsten Miller – The hum of the sun

11.30–12.00 – Kobus du Toit – Cracking the crisis code – from trauma to triumph

12.00–1.30 – Middagete – Die Tuishuise

1.30–2.00 – Etienne van Heerden

2.00–2.30 – Maya Fowler – Tebatso gaan see toe

2.30–3.00 – Clinton V du Plessis

3.30–4.30 – Besoek aan Cradock 4-museum

6.00 tot laat – aandete

SONDAG 23 SEPTEMBER

DAG TWEE – DIROSIE GAME LODGE @ BUFFELSHOEK

10.00–10.30 – Fanie Olivier

10.30–11.00 – Theo Kemp

11.00–11.30 – Melt Myburgh

11.30–12.00 – Chanette Paul

12.00–1.00 – Middagete

1.00–2.00 – Ry na Somerset-Oos

2.00–2.30 – Besoek aan Walter Battiss Museum

2.30–5.00 – Lesings by Jakes Gerwel-huis

2.30–3.00 – Ronelda Kamfer – Hammie

3.00–3.30 – Bettina Wyngaard

3.30–4.00 – Karin Brynard

4.00–4.30 – Nathan Trantraal – Alles het niet kom wod

4.30–5.00 – Dana Snyman – Op pad: ‘n reisjoernaal

7.00 tot laat – Dirosie Game Lodge – Vuurvlieë en sterre – open mic, aandete en afsluiting van die veldskool – Dirosie Lodge @ Buffelshoek

MAANDAG 24 SEPTEMBER

DAG 3 – DIROSIE LODGE @ BUFFELSHOEK

10.00–10.30 – Darryl Earl David – Solitude and creativity in Die swye van Mario Salviati

10.30–11.00 – Maya Fowler – Patagonië

11.00–12.00 – Bibi Slippers – Fotostaatmasjien

12.00–1.00 – Middagete – Dirosie

1.00–5.00 – Olive Schreiner-toer na Buffelshoek (R150 pp)

6.00 tot laat – Afsluitingsfunksie – Spitbraai – Dirosie Game Lodge @ Buffelshoek

Meer besonderhede

Programbedrywighede en verblyf by die Victoria Manor en Tuishuise op Cradock (http://www.tuishuise.co.za)

Programbedrywighede en verblyf by die Buffelshoek Dirosie Lodge, Distrik Cradock (http://buffelshoekdirosielodge.co.za)

Bussafari’s vanaf Kaapstad en Pretoria/Johannesburg/Bloemfontein deur Signature Tours (http://www.signaturetours.co.za/conference/evh2018)

Samewerking met en ‘n dag by die Jakes Gerwel-stigting se Jakes Gerwel-huis in Somerset-Oos (http://jgf.org.za/af/somerset-oos-skrywershuis)

Die Veldskool-slypskool onder leiding van Etienne van Heerden by die Victoria Manor en by Buffelshoek Dirosie Lodge. (Hier is nog inligting.)

Die eerste Etienne van Heerden Veldsoirée is in 2017 aangebied en was ’n reuse-sukses. Skrywers en kunstenaars soos Coenie de Villiers, HemelBesem, Wilna Adriaanse, Kirby van der Merwe, Etienne van Heerden en Lien Botha het opgetree. Daar was deelname van beide die tradisionele wit en bruin Afrikaanssprekende gemeenskappe.

 

 

 

 

 

Die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée: ’n onderhoud met Darryl David

Darryl David

Die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée vind vanjaar van 22 tot 25 September op Cradock en Somerset-Oos plaas. Darryl David, feesorganiseerder, vertel vir Naomi Meyer hiervan.

Darryl, die Etienne van Heerden Veldsoirée vind binnekort plaas en ek sien jy noem dit jou mees egte Karoofees. Sal jy, wat boekefeeste dwarsoor die land reël, asseblief nog meer van die fees vertel? Waarom Cradock?

Ligging vir enige fees is uiters belangrik. Vir al my feeste het ek fraai dorpe gekies: Montagu, Howick, Pniel. Natuurlik is daar BookBedonnerd in die hart van die Karoo. Maar by al hierdie feeste val die klem meestal op die literêre. By die Etienne van Heerden Veldsoirée vind die meerderheid van die fees plaas in ’n verlate Karoo-landskap by Buffelskop – die laaste rusplek van Olive Schreiner. En die fees skop af by Die Tuishuise – sekerlik die pragtigste “straatskap” in Suid-Afrika met tipiese Karoo-argitektuur. Geeneen van my ander feeste het hierdie kombinasie nie. As jy deur Dirosie Gastehuis ry, dan hoor jy Olive se woorde – “such a sense of wild exhilaration comes over me”. En hierdie jaar gaan ons na Somerset-Oos ry. Geen ander literêre toer is mal genoeg om mense 100 km te laat ry nie. Maar vir hierdie toer wou ek mense ’n tipiese Karoo-ervaring gee. Die wildernis is goed vir die siel. Soos Etienne nou die dag op Facebook gesê het: “The brain needs silence.” 

Watter skrywers gaan by vanjaar se fees wees? 

Ons het werklikwaar die ondersteuning van groot name in die Afrikaanse letterkunde gekry. Bibi Slippers, Dana Snyman, Etienne van Heerden, Ronelda Kamfer, Karin Brynard, Willie Burger, Fanie Olivier, Nathan Trantraal en Clinton du Plessis, om net ’n paar te noem.

Ek sien daar is ’n slypskool op die program. Wie bied dit aan en in watter genres? Kan enigiemand hiervoor inskryf? Wat behels dit, en wie mag deelneem?

Enigiemand kan die slypskool, oftewel die veldskool bywoon. En dis absoluut gratis. Dis ongelooflik as mens na die kaliber van die mentors kyk. Vir prosa: Etienne van Heerden, Chanette Paul, Izak de Vries; en vir die poësie Bibi Slippers, Fanie Olivier, Melt Myburgh.

Nog goeie nuus is dat ons 10 beurse van R1 000 elk aan deelnemers gaan toeken. Dis om deelnemers te help met hul akkommodasiekostes vir die veldskool. Onthou, alles op die program kos jou absoluut niks. Mense kan my op davidd@ukzn.ac.za kontak as hulle aansoek om die beurse wil doen. Ek sal hulle dan inlig wat van hulle verwag word.

Hoe werk die fees prakties: waar vind dit plaas, koop mens kaartjies? Vertel asseblief vir enige van ons lesers wat lus het om Cradock toe te gaan, wat hulle voor die tyd moet weet. Die fees sluit vanjaar vir die eerste keer ook ’n besoek aan die Jakes Gerwel-huis in, in Somerset-Oos. Daar was ook in die verlede ’n 4×4-uitstappie na Olive Schreiner se sarkofaag. Is dit weer vanjaar op die program?

Dag 1 van die fees skop af by Die Tuishuise. Dis net om die draai van die Schreiner Museum. Ons gaan die eerste dag afsluit met ’n besoek aan die Cradock 4 Museum. Dae 2 en 3 vind plaas by Dirosie Game Lodge by Buffelshoek. Na ete op dag 2 gaan almal na Somerset-Oos ry vir vyf lesings by die Jakes Gerwel Huis. Ons gaan ook ’n besoek aflê by die Walter Battiss Museum. Ons sluit die fees af met ’n absolute hoogtepunt – ’n besoek aan Olive Schreiner se graf. Dit is literêre toerisme op sy allerbeste.

Vanjaar word daar vir die eerste keer bustoere vanuit Kaapstad sowel as Pretoria na die fees toe gereël. Vertel vir ons meer van hierdie toer, waar hulle langs die pad aandoen, wat alles in die toer in sy geheel ingesluit is. Is daar nog plek beskikbaar en waar kan mense kaartjies koop.

Ek en Etienne is beide baie lief vir die Karoo. Dis uiters moeilik om ’n fees in die Karoo te reël. Uitgewers wil jou nie ondersteun nie, want daar is geen vlugte vir skrywers nie. Boekliefhebbers dink dis te ver. Dus wou ons dit makliker maak vir mense om die fees by te woon. Dis hoekom ons Jannie Loubser van Signature Tours genader het. Dis ’n literêre toer à la John Kannemeyer en Wium van Zyl se Storietoere. As baanbreker op die terrein van literêre toerisme kan ek mense verseker: jy sal hierdie toer, en die Etienne van Heerden Veldsoirée, nooit vergeet nie. Klik hier vir Jannie Loubser van Signature Tours se program.

  • Die veldskool is gratis. Alle soirée-items is ook gratis, met die uitsondering van R150 vir die graftoer.
  • Vir meer besonderhede oor verblyf op Buffelshoek Dirosie Lodge, gaan na hul webwerf by buffelshoekdirosielodge.co.za, of skakel Dirkie Visser by 048 881 4448.
  • Inligting oor die Victoria Hotel en Tuishuise is verkrygbaar op hul webwerf by tuishuise.co.za, of skakel Lisa Antrobus by 082 410 5596.
  • Spesiale goedkoper verblyftariewe vir veldskoolbywoners word binnekort aangekondig.  Belangstellendes kan egter nou al daaroor skakel na die lodge of die hotel. 

Die Burger Oos-Kaap oor die Etienne van Heerden Veldsoirée 2018

 

 

 

2017 Photo Gallery