Etienne van Heerden Veldsoirée 2018

Gratis toegang vir alle programitems
Feesorganiseerder: Darryl David (davidd@ukzn.ac.za / 081 360 9231)

Die bekende feesorganiseerder Darryl David het aangekondig dat die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée vanjaar oor die langnaweek 22–25 September op Cradock en Somerset-Oos en in die Cradock-distrik sal plaasvind.

Darryl David | Foto: Jan van der Merwe

“2017 se Veldsoirée was iets besonders,” het Darryl gesê. “Dit was een van daardie onvergeetlike feeste waar almal vir drie dae met ’n breë glimlag op hul gesigte rondgeloop het. En die toer na Schreiner se sarkofaag – dit bly die hoogtepunt van my alternatiewe lewe as feesimpresario. Die Etienne van Heerden Veldsoirée bly my mees egte Karoofees.”

Darryl is die stigter van onder meer die Adam Small-fees op Pniel, die Athol Fugard-fees op Boekedorp Richmond en die Schreiner-fees, ook op Cradock, en was die hoofdryfveer agter die verklaring van Durban as ’n Unesco City of Literature op – alles sy eie breinkinders.

“Maar vanjaar se veldsoirée gaan bietjie meer woema kry,” het hy bygevoeg. “Daar is drie nuwighede, waaroor ek baie opgewonde is.

“Eerstens bied ons ’n veldskool aan, ’n slypskool vir ontwikkelende skrywers, met as mentors ervare mense soos Etienne van Heerden, Bibi Slippers, Fanie Olivier, Izak de Vries, Melt Myburgh en Chanette Paul. Die veldskool sal gratis wees en sal op prosa en poësie konsentreer. Dit begin effens voor die soirée – reeds op die aand van 20 September.

Fanie Olivier, Bibi Slippers (Foto: Adam Heyns) en Chanette Paul

Tweedens word die soiréeprogram uitgebrei na Somerset-Oos, waar skrywers soos Dana Snyman, Ronelda Kamfer, Karin Brynard, Bettina Wyngaard en Nathan Trantraal by die Jakes Gerwel-huis sal optree.

Nathan Trantraal (Foto: Naomi Bruwer), Dana Snyman en Karin Brynard

“Dis ’n groot eer vir die veldsoirée om ’n deel van die program by Jakes Gerwel se huis aan te bied, en om so ook die gemeenskap van Somerset-Oos, ’n dorp waarvoor Gerwel baie lief was, te bereik. En as ’n mens die moeite gaan doen om 100 km vanaf Cradock te ry, moet mens tyd neem om die Walter Battiss Museum te besoek. En op pad huis toe moet ek ’n foto van Etienne van Heerden voor Ernst van Heerden se huis op Pearston afneem.”

Die Gerwel-huis | Foto: Jakes Gerwel Foundation

Die derde nuwigheid: Signature Tours bied die moontlikheid vir soiréegangers om per retoerbus te reis van Kaapstad/Stellenbosch na Cradock, en van Pretoria/Johannesburg via Bloemfontein na Cradock. “Jannie Loubser se bussafari’s is welbekend en professioneel – die busse sal interessante boekplekke, soos Die Boek Hotel op Bethulie, Matjiesfontein en sy pragtige Lord Milner Hotel, en Nieu-Bethesda, die wêreld van Athol Fugard en Helen Martins, aandoen.”

Elke bus sal vergesel word van ’n ingeligte toergids wat soiréegangers ingelig gaan hou oor die interessante skrywersplekke wat besoek word en meer oor die betrokke skrywers sal vertel.

Nes die geval in 2017 was, sal soiréegangers eerstens weer kan tuisgaan by die Buffelshoek Dirosie Lodge, 15 km suid van Cradock.

Die graf van die bekende Olive Schreiner is op die plaas, en benewens die mooi veld en berguitsigte sal daar weer ’n uitstappie met bakkies wees na die graf op Buffelskop.

Met sy ryk geskiedenis is die Victoria Hotel en Tuishuise op die dorp ook ’n uitstekende keuse vir verblyf. Die bekende Sandra Antrobus het meer as 30 tradisionele Karoohuisies gerestoureer en mooi ingerig, en die hotel is bekend vir sy uitstekende etes.

Die Cradock-been van die soiréeprogram en die veldskool sal gedeeltelik in die Victoria Hotel en op Buffelshoek aangebied word.

“Alle programitems is gratis, maar die uitstappie met biltong en sjerrie na Buffelskop sal R150 per persoon kos,” het Darryl verduidelik. “Veldskoolbywoners sal ook alle soirée-items gratis kan bywoon. Dis ’n sonderlinge voorreg, want hulle sal heeltyd in die nabyheid van hul mentors wees en na hulle kan luister en idees kan uitruil. En als gratis!”

Ander skrywers wat by die soirée gaan optree, sluit Willie Burger, Karin Brynard, Etienne van Heerden self, Clinton du Plessis, Theo Kemp, Maya Fowler, Melt Myburgh en Chanette Paul in, asook Ronelda Kamfer, Izak de Vries, Nathan Trantraal, Bibi Slippers, Bettina Wyngaard, Dana Snyman, Kirsten Miller en Kobus du Toit. Ook word nog vyf skrywers verwag wat binne enkele dae gaan bevestig.

Vir meer inligting oor die veldskool, skakel Darryl by 081 360 9231 of e-pos hom by davidd@ukzn.ac.za. Vir die soirée se programinligting vir beide Cradock en Somerset-Oos, kan hy ook nou reeds gekontak word.

“Die Etienne van Heerden Veldsoirée beloof om musiek vir die oor van boekliefhebbers en liefhebbers van die Karoo te wees,” het Darryl David gesê. “Nog nuus kom later!”

Spesiale goedkoper verblyftariewe vir veldskoolbywoners word binnekort aangekondig. Belangstellendes kan egter nou al daaroor skakel na die lodge of die hotel.

Akkommodasie beskikbaar by:

Buffelshoek Dirosie Lodge, Cradock

Tel:
 +27 (0)60 433 4797
E-pos: buffelshoek.gamelodge@gmail.com
Webtuiste: http://buffelshoekdirosielodge.co.za

Die Tuishuise, Cradock

Tel: +27 (0)48 881 1322 / +27 (0)48 881 1650
E-pos: info@tuishuise.co.za
Webtuiste: http://www.tuishuise.co.za

Victoria Manor, Cradock

Tel: +27 (0)48 881 1322 / +27 (0)48 881 1650
E-pos: info@tuishuise.co.za
Webtuiste: http://www.tuishuise.co.za

Bustoere:

Signature Tours

Bustoere van Kaapstad/Stellenbosch na Cradock, en van Pretoria/Johannesburg via Bloemfontein na Cradock

Tel: +27 (0)21 975 1060 / +27(0)82 787 2271
E-pos: info@signaturetours.co.za
Webtuiste: http://www.signaturetours.co.za/conference/evh2018/