Die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée vind vanjaar van 22 tot 25 September op Cradock en Somerset-Oos plaas. Darryl David, feesorganiseerder, vertel vir Naomi Meyer hiervan.
Darryl, die Etienne van Heerden Veldsoirée vind binnekort plaas en ek sien jy noem dit jou mees egte Karoofees. Sal jy, wat boekefeeste dwarsoor die land reël, asseblief nog meer van die fees vertel? Waarom Cradock?
Ligging vir enige fees is uiters belangrik. Vir al my feeste het ek fraai dorpe gekies: Montagu, Howick, Pniel. Natuurlik is daar BookBedonnerd in die hart van die Karoo. Maar by al hierdie feeste val die klem meestal op die literêre. By die Etienne van Heerden Veldsoirée vind die meerderheid van die fees plaas in ’n verlate Karoo-landskap by Buffelskop – die laaste rusplek van Olive Schreiner. En die fees skop af by Die Tuishuise – sekerlik die pragtigste “straatskap” in Suid-Afrika met tipiese Karoo-argitektuur. Geeneen van my ander feeste het hierdie kombinasie nie. As jy deur Dirosie Gastehuis ry, dan hoor jy Olive se woorde – “such a sense of wild exhilaration comes over me”. En hierdie jaar gaan ons na Somerset-Oos ry. Geen ander literêre toer is mal genoeg om mense 100 km te laat ry nie. Maar vir hierdie toer wou ek mense ’n tipiese Karoo-ervaring gee. Die wildernis is goed vir die siel. Soos Etienne nou die dag op Facebook gesê het: “The brain needs silence.”
Watter skrywers gaan by vanjaar se fees wees?
Ons het werklikwaar die ondersteuning van groot name in die Afrikaanse letterkunde gekry. Bibi Slippers, Dana Snyman, Etienne van Heerden, Ronelda Kamfer, Karin Brynard, Willie Burger, Fanie Olivier, Nathan Trantraal en Clinton du Plessis, om net ’n paar te noem.
Ek sien daar is ’n slypskool op die program. Wie bied dit aan en in watter genres? Kan enigiemand hiervoor inskryf? Wat behels dit, en wie mag deelneem?
Enigiemand kan die slypskool, oftewel die veldskool bywoon. En dis absoluut gratis. Dis ongelooflik as mens na die kaliber van die mentors kyk. Vir prosa: Etienne van Heerden, Chanette Paul, Izak de Vries; en vir die poësie Bibi Slippers, Fanie Olivier, Melt Myburgh.
Nog goeie nuus is dat ons 10 beurse van R1 000 elk aan deelnemers gaan toeken. Dis om deelnemers te help met hul akkommodasiekostes vir die veldskool. Onthou, alles op die program kos jou absoluut niks. Mense kan my op davidd@ukzn.ac.za kontak as hulle aansoek om die beurse wil doen. Ek sal hulle dan inlig wat van hulle verwag word.
Hoe werk die fees prakties: waar vind dit plaas, koop mens kaartjies? Vertel asseblief vir enige van ons lesers wat lus het om Cradock toe te gaan, wat hulle voor die tyd moet weet. Die fees sluit vanjaar vir die eerste keer ook ’n besoek aan die Jakes Gerwel-huis in, in Somerset-Oos. Daar was ook in die verlede ’n 4×4-uitstappie na Olive Schreiner se sarkofaag. Is dit weer vanjaar op die program?
Dag 1 van die fees skop af by Die Tuishuise. Dis net om die draai van die Schreiner Museum. Ons gaan die eerste dag afsluit met ’n besoek aan die Cradock 4 Museum. Dae 2 en 3 vind plaas by Dirosie Game Lodge by Buffelshoek. Na ete op dag 2 gaan almal na Somerset-Oos ry vir vyf lesings by die Jakes Gerwel Huis. Ons gaan ook ’n besoek aflê by die Walter Battiss Museum. Ons sluit die fees af met ’n absolute hoogtepunt – ’n besoek aan Olive Schreiner se graf. Dit is literêre toerisme op sy allerbeste.
Vanjaar word daar vir die eerste keer bustoere vanuit Kaapstad sowel as Pretoria na die fees toe gereël. Vertel vir ons meer van hierdie toer, waar hulle langs die pad aandoen, wat alles in die toer in sy geheel ingesluit is. Is daar nog plek beskikbaar en waar kan mense kaartjies koop.
Ek en Etienne is beide baie lief vir die Karoo. Dis uiters moeilik om ’n fees in die Karoo te reël. Uitgewers wil jou nie ondersteun nie, want daar is geen vlugte vir skrywers nie. Boekliefhebbers dink dis te ver. Dus wou ons dit makliker maak vir mense om die fees by te woon. Dis hoekom ons Jannie Loubser van Signature Tours genader het. Dis ’n literêre toer à la John Kannemeyer en Wium van Zyl se Storietoere. As baanbreker op die terrein van literêre toerisme kan ek mense verseker: jy sal hierdie toer, en die Etienne van Heerden Veldsoirée, nooit vergeet nie. Klik hier vir Jannie Loubser van Signature Tours se program.
- Die veldskool is gratis. Alle soirée-items is ook gratis, met die uitsondering van R150 vir die graftoer.
- Vir meer besonderhede oor verblyf op Buffelshoek Dirosie Lodge, gaan na hul webwerf by buffelshoekdirosielodge.co.za, of skakel Dirkie Visser by 048 881 4448.
- Inligting oor die Victoria Hotel en Tuishuise is verkrygbaar op hul webwerf by tuishuise.co.za, of skakel Lisa Antrobus by 082 410 5596.
- Spesiale goedkoper verblyftariewe vir veldskoolbywoners word binnekort aangekondig. Belangstellendes kan egter nou al daaroor skakel na die lodge of die hotel.
Die Burger Oos-Kaap oor die Etienne van Heerden Veldsoirée 2018