Jump to article
- Hans Pienaar reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld in Business Day
- AJ Opperman interviews Etienne van Heerden
- Etienne van Heerden winner of 2020 University of Johannesburg Prize for Literature
- Die Burger on the UJ Prize for Literature and Die biblioteek aan die einde van die wêreld
- Video: Bloemfontein launch of Die biblioteek aan die einde van die wêreld
- Video: Stellenbosch launch of Die biblioteek aan die einde van die wêreld
- Interview in Matieland, Stellenbosch University
- LitNet Akademies-resensie-essay: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
- Vrouekeur: Willie Burger discusses sensory perceptions in prose
- Huisgenoot review by Elna van der Merwe
- Review on Book of the month, Maroela Media
- Review from www.fak.org.za
- Review in Sarie magazine, March 2020
- Review by Jean Meiring in Sunday newspaper Rapport
- Frederick Botha reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld on LitNet
- SKROP: Deborah Steinmair reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld
- Blog: Izak de Vries writes about Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Hans Pienaar reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld in Business Day
Click on the image for a larger version.
AJ Opperman interviews Etienne van Heerden
Koester jy kosbare of selfs nostalgiese gevoelens jeens biblioteke?
Ligloop. Biblioteke neem verskillende vorme aan in hierdie storie. Die uiteindelike biblioteek aan die einde van hierdie boek se wêreld is iets heeltemal anders as ’n ou Karoo-bibliotekie waaraan ’n mens dalk nostalgies dink. Die karakters in die storie – nes ons almal – word ingesuig in ’n wêreld waar sigbewaking in die besonder, maar kunsmatige intelligensie in die breë, splinternuwe probleme rondom identiteit skep. Waar word al die data oor ons geberg? In ’n groot databiblioteek! Hierdie data is mos die nuwe olie. En wie is die nuwe koloniseerders wat in besit van hierdie biblioteek vol data is? Die boek kyk na hierdie koloniseringsproses terwyl (en dis die tweede deel van die storie, en die tweede been van die “biblioteek”) studentebewegings op kampusse amok maak oor identiteit en dekolonisering. En dis hier waar ’n ánder biblioteek ter sprake kom, in hierdie deel van die storie …
In verband met die motto voorin die boek: Ek het eers agterna die stukkie gesien wat na “’n eerste weergawe van geskiedenis” verwys. Ek het gedurig met die lees van die roman daaraan gedink sonder dat ek besef het dit staan heel voorin – ek het dit eers agterna gelees. Glo jy die joernalistiek en fiksie het parallelle?
Ek kom uit die generasie wat met sommige tekste voortskryf aan die Amerikaners se New Journalism. “I-fiction”. Jy skryf wat jou “eye” – jou eie oog – sien; wat jy self waarneem. Die skrywer is ’n soort verslaggewer wat so vinnig hy kan opteken aan die dinge wat om hom gebeur. Só ’n storie moet, as jy dit kan regkry, brand van die aktualiteit; dit moet byna wees soos ’n dik koerant wat jy lees; hy moet jou slaan met die rondomskrik van verrassende gebeure, harde nuus, opponerende standpunte. Hy moet brand met die vuur van onvoorspelbaarheid en die karakters in die storie moet heeltyd onkant gevang word, en só ook die leser. Op hierdie manier skep jy ’n eerste weergawe van die geskiedenis. As die joernalistiek die fourth estate is, en sosiale media die fifth, eis ek nou die sixth estate vir hierdie soort dokumentêre fiksie op. Só ’n skrywer probeer ’n soort amanuensis van sy tyd te wees; hy’s dalk meer skriba as fabuleerder of spinner. Dís wat ek met hierdie boek wou doen … dit moes ’n neerslag van die idiolek (die manier van dink en konstrueer; van taal gee aan gebeure) van ons tyd word. Lesers moet maar self besluit of ek dit kon regkry.
Stem jy saam met Philip Roth se stelling (waarna jy in die boek verwys) dat “reality is outdoing our talents”? Raak feit vreemder as fiksie? (Daar is ook die sinsnede “want deesdae buig fiksie die knie voor ‘ware verhale’”.)
Daar is geen twyfel nie dat aktualiteit deesdae soms sterker bie as die verbeelding. Noudat fopnuus op sosiale media so maklik soos ’n veldbrand deur droë wintergras hardloop en gou wáárheid word, is dit so dat “realiteit” vreemder raak as fiksie. Fiksieskrywers kan skaars byhou. Jou verstand word daagliks te bowe gegaan. Actuality is outdoing our talents, soos Philip Roth gesê het. Jou verbeelding word ’n bedelaar.
Jy volg die nuus en is dus ’n fyn waarnemer van gebeure. Hoe het die gedagte van hierdie roman ontstaan?
Kodeïen. So ’n Eugène Marais-erige ontstaan.
Wanneer het jy besef dat sekere van die nuuswaardighede in ’n fiksiegegewe kan neerslag vind?
In ’n kodeïendroom op Stellenbosch, en toe weer een nag in Shanghai, op die geheimsinnige Bund, daar by die rooi bruid met die Adidas oor wie in die roman se openingstoneel vertel word.
Jou roman is vir my in vele opsigte soos die “first draft of history”. Gebeure van betreklik onlangs word in die roman opgeteken, maar daar is vir my iets van die huidige tydsgees teenwoordig, soos die bewaring van geskiedenis en om die verlede nie te vergeet nie. Word dit doelbewus opgeteken (byna soos Ian wat die bewaring met die biblioteek wil doen)?
Die probleem met so ’n hiperaktuele roman is dat terwyl jy nog dink jy’t die hede vasgevang, dit reeds verlede geword het. En soos dit mos maar is, sal ons verlede na ons bly aankom van voor; dis dus ’n soort toekoms. Hoe ons gaan terugdink oor gister, is iets wat onvoorspelbaar is. Dus is die verlede net so onvoorspelbaar soos die toekoms. Dis hoekom die “geskiedenis” telkens herskrywe word; ook jou persoonlike geskiedenis, die verhaal wat jy oor jouself aan jouself vertel. So ’n first draft of history het dus baie risiko’s; dis ’n tydsdokument, dit kan gou dateer; dit is dalk so dun soos die koerant, en so vergeetlik. Dis maar die dinge waarmee ’n skrywer sit terwyl hy skrywe. Gaan mense eendag, metafories gesproke, fish en chips in hierdie bladsye toedraai?
Dit is polities en aktueel. Ek is waarskynlik verkeerd, maar die feit dat daar soveel uitlopende sienings gedeel word, maak dit vir die leser moeilik om uit te pluis wat jou mening rondom sommige van die onderwerpe is. Is dit doelbewus?
So jy’t ’n roman soos hierdie, wat as ’n polifoniese roman beskryf kan word. Dis veelstemmig; dit praat met die stemme van vele botsende karakters, en hul stemme bie teen mekaar, weerspreek mekaar. Dis ’n manier van joernalistieke optekening van mense uit verskillende leefwêrelde se gedagtes en ervarings. Om by wyse van stórie ’n argument te dryf (en ek glo elke storie het in sy hart ’n argument), is natuurlik meer kompleks as om byvoorbeeld ’n meningsartikel oor ’n gegewe onderwerp in ’n koerant te skrywe. Met storie moet jy tot verhaal kom met verskillende karakters se gevoelens en menings, en jy moet elke mens in jou verhaal met deernis probeer uitbeeld. ’n Skrywer moet oppas om die mes in te hê vir ’n karakter. Klim eerder in ’n karakter se kop en hart in en maak sy binnewêreld vir die leser oop. Ons sit in ’n land met mense uit verskillende agtergronde en verskillende verledes met verskillende verhale om te vertel. Om optekenaar daarvan te wees, is die romanskrywer se terrein. Beteken dit die boek het nie uiteindelik ’n “sê” nie? Allermins. Maar dis dalk ’n meer komplekse standpuntinname as wat jy in ’n meningsartikel in die koerant sal vind. Bygesê: Daar sal natuurlik verskillende interpretasies van hierdie boek se “sê” of argument wees. Ek het reeds gesien dat sommige lesers die boek na hul eie politieke oortuiging wil buig. Ander snap bloot nie als nie. ’n Leser by ’n bekendstelling in Pretoria het byvoorbeeld gelees dat Operasie Amok die drywer agter die Valliste is en dat die Fees Must Fall-protesteerders dus by implikasie só van hul agentskap beroof word. Dis ’n mislees, want die beplanners van Amok probeer bloot inskouer op die bestaande studente-opstande en ’n studentebeweging wat reeds bestaan en met groot oortuiging optree. Definitief is Thuli Kumalo (een van die twee hoofkarakters) nie ’n maaksel van Operasie Amok nie! Nes Amok se mense probeer ook die Instituut vir Aanmoediging in China inbeweeg op die studentebeweging. Maar die Instituut is eweneens nie die argitek van die Vallistebeweging nie. Wanneer jy egter ’n boek uitgee, moet jy weet dat hy dood op die boekrak staan totdat ’n leser soos daardie een in Pretoria die boek oopmaak en begin lees, en elke leser sal lees soos hy of sy kan.
Is daar ’n spesifieke rede waarom Jerome in die eerste persoon praat? (Thuli en Ian het baie te sê en hul doen en late beslaan uiteraard ’n groot deel van die boek. Aanvanklik kom Jerome nie so dikwels voor nie, en dan val dit my op dat hy ’n eerstepersoonsverteller is.) Die roman is byna ’n debat. Sy karakter is baie slegter af as Ian en Thuli.
Soms hoor ’n skrywer ’n karakter se stem byna rêrig in sy oor. Asof die karakter vir hom voorsê. Jerome het só by my opgedaag met ’n soort onmiddellikheid en egtheid en sy stem het so duidelik met my gepraat dat ek hom nét so, direk, wou weergee. Die ek-vertelling is mos meer onmiddellik en skrynender as die meer verwyderde derdepersoonshantering.
Dink jy mense verstaan nie mekaar se wêrelde nie? Daar is gewis vooroordeel. Dit word myns insiens goed geïllustreer. Ek is bye tye nie seker by wie ek my wil skaar nie, maar dit is terselfdertyd nie ’n kompetisie nie. Beide Thuli en Ian vra geldige vra.
Hierdie ideale biblioteek wat Ian aan die einde van die grondpad in die Karoo wil inrig, is maar een van die biblioteke wat in die boek ter sprake kom. Dis ’n ideale ruimte wat hy wil skep, waar elke enkele boek wat ooit oor die Karoo geskryf is (van boeke oor merinowol tot Burchell se travels die hartland in tot Olive Schreiner en Eben Venter se romans), sal staan. Maar die biblioteek word iets meer. Dit stal ook oorblyfsels uit die geskiedenis uit. Dis geen veilige ruimte nie. Dis ’n biblioteek vol ongemaklike artefakte; oorblyfsels uit die verre en nabye verlede. Opponerende standpunte. Jy word gekonfronteer. Jou vel word van jou lyf gestroop.
Ian wil met die biblioteek wat hy wil oprig talle dokumente, romans en dies meer bewaar. Lê geskiedenis jou na aan die hart?
As jy praat oor geskiedenis moet jy weet dat die woord twee betekenisse het. Eerstens is geskiedenis die dinge wat wérklik in die verlede gebeur het, en tweedens is dit die optekening of dokumentering van daardie dinge, byvoorbeeld geskiedenisboeke of dokumentêre films. As jy nou vra of die dinge wat werklik gebeur het, my na aan die hart lê, kan ek net antwoord dat geen mens in Suid-Afrika ongeskonde uit die verlede kom of tans in hierdie uitputtende land kan lewe sonder om littekens op te doen nie. As jy ook verder vra of ek ons óptekening van die verlede (al die vorms van geskiedskrywing) na aan my hart het, dan ja, ek stel belang in hoe mense onthou en wat die manier van dink agter hierdie onthou is; wat die politiek agter dokumente, foto’s, nuusberigte uit ou koerante, dokumentêre films, tekeninge en klankopnames is. Wat mense verkies het om te vergeet. Wat hulle uitsonder as memorabel en belangrik en dit dan die geskiedenis noem. As jy só kyk, is daar dus ’n groot gaping tussen geskiedenis en geskiedenis! En albei lê my na aan die hart.
Het die roman grotendeels uit jou ervaring en betrokkenheid by die Universiteit van Kaapstad (UK) gespruit?
Sekerlik het die gebeure op die kampus in Kaapstad ’n rol gespeel. Maar ek het tydens die rofweg tweejaar-skryfproses ook wyd gereis na kampusse in China, Zimbabwe, Italië, Nederland, Engeland en België en was ook in Griekeland, Spanje en Portugal. Oral in die wêreld waar jongmense bymekaar is, is die identiteitsoorloë intens, al is dit soms ónder die radar. Maar my navorsing oor surveillance capital en werksreise in Hong Kong en veral China was die éintlike krag agter die roman. Hier te lande in SA lees lesers die roman in die eerste instansie agter die storie aan wat dit oor Suid-Afrika vertel. Die groot onmiddellikheid is vir hulle ons plaaslike identiteitsoorloë. Dis waaroor die roman se ontvangs tans veral gaan. Vir my is die groter aspek van die roman egter die feit dat data kosbaarder is as olie. Dís die groot identiteitsdebat; die biblioteek wat gulsig opslurp aan ons data en dit berg. Dus die kwessie van privaatheid in ’n sfeer van sigbewaking en data-oorloë. Dis asof die harde aktualiteit van Suid-Afrika, soos dit in die boek uitgebeeld word, vir lesers só warm is dat hulle nie nou die groter aspek in die oë kan kyk nie.
Is hierdie karakters losweg geskoei op mense wat kursusse aan die UK geloop het? Iets of iemand wat jy waargeneem het?
Niemand identifiseerbaar nie!
Speel die roman in 2016 af? As ek so na die gebeure kyk – #RhodesMustFall, die skilderye wat verbrand is, die onluste en die melding dat Cyril Ramaphosa nooit president sal word nie – kom dit so voor. (Die Jameson-saal is in 2018 na die Sarah Baartman-saal herdoop?)
Hierdie vraag word goed in die nawoord en ook implisiet in die voorteks beantwoord. Die verhaal is rofweg in die tydperk 2015–2017 gesetel, maar dit word in die boek ook vooraf gesê dat die verhaalgebeure nie noodwendig die historiese gebeure chronologies presies navolg nie. Daar is gesmous met historiese feite! Maar daar is ook akkuraathede, soos dat studente op ’n spesifieke stadium voorgestel het dat die Jameson-saal eerder die Marikana-saal moet heet.
Jy stel ook die volgende vraag: “Watter vrae vra digters nié?”
Dis die soort vraag wat elke mens homself eintlik elke dag moet afvra. Wat vra ek nie? En dit geld vir romanskrywers ook! Want mens loop mos maar met die lig wat jy het, en daar’s baie wat jy nie sien nie. So: “Wat vra ek nie?”
Met tye word daar byna kommentaar gelewer ook op die boekebedryf.
Die boekebedryf ondergaan groot veranderinge en hierdie boek is self die produk van maar één van daardie groot wendinge. Weens die opklits van feit en fiksie, die rol van sosiale media en sogenaamde citizen journalism, leef ons in ’n ekologie van waarheid en verdigsel, pens en pootjies binne-in ’n postfeit-wêreld. Daar is nie meer ’n hiërargie van waarhede ter hand nie. Enigeen met ’n selfoon in die hand kan ’n feit- of liegfabriek wees. Een van die groot gevolge vir die boekebedryf in hierdie sug na die onmiddellike is die swaai van fiksie na nie-fiksie; na harde aktualiteit, na sogenaamde non-fiction narrative. Dís die boeke wat nou uitpop. Die romanskrywer vra: Wat is die rol van stórie in hierdie nuwe wêreld; daardie suspension of disbelief wat volg ná die frase “Eendag was daar …”? In ’n sin is hierdie roman ’n neerslag van daardie swaai. Romanskryf as ’n soort joernalistiek. Storie as nie-fiksie. Die skrywer as verslaggewer in die Gotiese hede. Ook is hierdie roman geïnteresseerd in nuwe tegnologie en die boek. Hoe kan stories elektronies op ’n ánder manier gelewer word? Hoe gaan stories met tegnologie geskép word? Wat gaan word van die estetika van oorspronklikheid, die skeppende skrywer, die méns agter die boek? Die stem van die storieverteller? Gaan kunsmatige intelligensie eersdaags genrefiksie begin uitpop nadat al Stephen King se boeke vir ’n algoritme gevoer is? Stories geskep deur kunsmatige intelligensie in King se styl? Hou maar dop! Want: Dis nié science fiction nie.
Daar word van grensliteratuur en “scar literature” gepraat.
’n Mooi PhD-ondersoek vir ’n skrander student wag: Ooreenkomste tussen Chinese littekenliteratuur en byvoorbeeld my generasie skrywers, die sogenaamde Tagtigers, se skryfwerk. Onder meer die grensliteratuur wat in die jare tagtig van die vorige eeu geskryf is. As ek tyd gehad het, het ek self hieroor verder akademiese navorsing gedoen!
Boeke soos Die swerfjare van Poppie Nongena word genoem; daar word gesê die boek is gesteel. Swart studente sê so, vertel Elizabeth.
Dáárom, wanneer een van die karakters na die steel van verhale verwys, word die hele debat oor kulturele appropriasie geopper. Die Valliste in die storie gaan steel byvoorbeeld in Durbanville die houtsneewerk van rooi Indiane, slapende Meksikane onder sombrero’s, dus die muurdekor, uit die Spur en stal dit op die Universiteit van Kaapstad se kampus uit.
Wat dink jy is die grootste rol wat letterkunde te speel het?
Om ’n leser soos jy die vrae te laat vra wat jy hiermee vra. Letterkunde is uiteindelik daar om jou deernis te gee vir ander mense, vir hul leefwêrelde, die drag wat hulle dra, die menings wat hulle het. Om jou gees oop te maak vir ánder mense se weerlooshede en woedes.
China spreek nogal tot jou. Die wêreld van Charlie Oeng het ook ’n Chinese verbintenis en The World of Suzy Wong kom ook daarin voor, nes in Die biblioteek aan die einde van die wêreld.
Ja.
Thuli se pa, Cat, kom oorspronklik van Cradock, waar hy ’n veldwagter was. Dit het my nogal aan ’n paar politici laat dink – die ding van ’n veldwagter op die platteland wat later ’n ander wêreld betree.
Korrek.
Hoe baie van die boek het jy op Cradock in die Etienne van Heerden-gastehuis geskryf?
Nie soveel as wat ek sou wou as daar meer tyd vir die Karoo was nie!
Jy het ook ’n deel van die manuskrip tydens verlede jaar se Veldsoirée voorgelees?
Ek het stukke van die ontwikkelende roman voorgelees by konferensies, seminare en skrywersfeeste op verskillende plekke: Milano in Italië, Gent in België, by die Veldsoirée in Cradock … waar nog? Die gesprekke wat daarna plaasgevind het, het bygedra tot my dinkwerk oor die storie.
Hoe lank het dit jou geneem om hierdie boek te voltooi? Jou vorige boek het slegs twee jaar tevore verskyn, en nie een van hierdie twee romans is kort nie.
My bergfiets het my in Jonkershoek afgegooi en my ribbekas het erg seergekry. Op my rug in die bed en met kodeïenpille vir die pyn, het ek droomvisioene van ’n Karoo-biblioteek aan die einde van ’n grondpad begin sien. Elke boek wat ooit oor die Karoo geskryf is – van Van Wyk Louw se gedigte tot Olive Schreiner se romans tot Burchell’s Travels tot boeke oor wolboerdery, Boesmantekeninge of watertafels, is in daardie biblioteek versamel. Ek het van hierdie vlugte op Facebook gepos sonder om te weet waarheen die storie sal lei en toe ek daarna een aand op Shanghai se Bund voor ’n bruid in ’n bloedrooi, wapperende, blink syrok te staan kom, het die plot van die boek my te binne geskiet. Dit het als met soveel krag gekom dat my psige oorrompel is en ek het die boek binne twee jaar ná Die wêreld van Charlie Oeng kon publiseer. Dit was soos die Roof of Africa rally.
Etienne van Heerden winner of 2020 University of Johannesburg Prize for Literature
Dit is met groot genoeë dat die vakgroep Afrikaans in die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg, hiermee die wenners van die 2020 UJ-pryse bekend maak.
Die wenner van die 2020 UJ-debuutprys is Ruan Kemp, skrywer van Gedeeltelik bewolk.
Die wenner van die 2020 UJ-prys is Etienne van Heerden, skrywer van die “ambisieuse” roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld.
UIT DIE KEURVERSLAE:
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
“… dit is ongetwyfeld so dat Die biblioteek aan die einde van die wêreld die jaar se ambisieusste boek is. Etienne van Heerden slaan hiermee ’n nuwe rigting in, met ’n skryfstyl wat meer gestroop is as sy voriges (ten spyte van die 600+ bladsy!) en ’n poging om die kompleksiteite van die onlangse verlede in narratief te omskep. Die biblioteek aan die einde van die wêreld sluit wel by onder andere In stede van die liefde se verkenning van globalisering aan, ’n tema wat opnuut, en op onverwagse maniere, spreek tot die toestand van die wêreld in die tyd van die coronavirus.”
“… dit is ’n roman wat die leser uitdaag: ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik en internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. Op meesterlike wyse bring Van Heerden ’n magdom uiteenlopende karakters bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Die roman is aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser boei. Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïs: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Hierdie taboes of kwessies ondersoek hy oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Met hierdie roman poog Van Heerden om insigte in ons gekwelde land te bied, en is die roman gemoeid met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel.”
“Van Heerden ondersoek in sy indrukwekkende jongste roman ’n aantal aktuele kwessies – die onlangse studenteproteste in Suid-Afrika (#FeesMustFall en #RhodesMustFall en die daaraan verbonde landskap van onderstrominge en selfs konkelary in die eietydse politiek), maar terselfdertyd die groter globale bedreiging van die deurentydse monitering van landsburgers deur middel van tegnologie. Dié aktuele gegewe word verder geskakeer deur ook die tematiek van Afrikanerwees en die posisie van Afrikaans in te voer.
Die karakteropstelling en -inkleding is kompleks, en sorg vir ’n haas panoramiese blik op die diversiteit in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing, en hulle soms problematiese interaksies. Van Heerden plaas die soeklig op hierdie soort diversiteit en onderlinge spanninge deur die karakters wat hy in die Vertaalseminaar byeenbring – van die liberale Engelse dosent, deur die jong swart aktivis Thuli en tot by Ian as ouer Afrikaner wat hom in die grysland van Afrikaneridentiteit bevind.”
Die e-boek van Die biblioteek aan die einde van die wêreld is hier beskikbaar:
- Amazon: https://www.amazon.com/Die-biblioteek-einde-w%C3%AAreld-…/…/
- Kobo: https://www.kobo.com/…/die-biblioteek-aan-die-einde-van-die…
- Snapplify: https://shop.snapplify.com/…/die-biblioteek-aan-die-einde-v…
- Takealot: https://www.takealot.com/die-biblioteek-aan-di…/PLID59784067
Die Burger on the UJ Prize for Literature and Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Click on the image for a larger version.
Bloemfontein launch of Die biblioteek aan die einde van die wêreld
At the Scaena Theatre in Bloemfontein, Johann Rossouw (Department of Philosophy, University of the Free State) and author Etienne van Heerden spoke about student protests, cultural appropriation, psychological time, surveillance, the future of South Africa and many other topical issues.
Videographer: Chris van den Berg
Stellenbosch launch of Die biblioteek aan die einde van die wêreld
The Stellenbosch launch took place at Stellenbosch Hotel, where publisher Etienne Bloemhof interviewed author Etienne van Heerden.
Videographer: Naomi Bruwer
Interview in Matieland, Stellenbosch University
LitNet Akademies-resensie-essay: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Louise Viljoen reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld on www.litnet.co.za.
(Spoiler alert vooraf: Louise Viljoen waarsku in hierdie resensie dat dit nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie.)
1. Eietydse kwessies
Dit was nog altyd ’n kenmerk van Etienne van Heerden se romans dat hy sy stof haal uit die eietydse en die aktuele. Sy Casspirs en Campari’s (1991) eindig byvoorbeeld met ’n toneel wat die geboorte van die nuwe Suid-Afrika uit die donker tonnel van die voorafgaande jare simboliseer. Sy jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, is ’n poging om ’n greep te kry op onlangse gebeure in Suid-Afrika, meer spesifiek die gebeure rondom die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-bewegings van 2015 en 2016, die onseker posisie van Afrikaners en Afrikaans in die huidige omstandighede en die tegnologiese ontwikkelinge wat dit moontlik maak om mense te alle tye te monitor. Die roman is dus ’n ambisieuse poging om poolshoogte te neem van belangrike verwikkelinge in Suid-Afrika en die groter wêreld.
Ten einde ’n veelkantige blik op die gebeure te kry, stel die roman ’n aantal karakters teenoor mekaar op. Die belangrikste van hierdie karakters is die jong swart aktivis Thuli Khumalo, een van die voorste Valliste en dogter van die struggleveteraan Cat Khumalo, wat bekend is daarvoor dat hy ’n vertroueling is van president Zuma (hier slegs Nommer Een genoem). Teenoor haar staan Ian Brand, ’n Afrikanerman in sy vroeë veertigs, ’n prokureur en eertydse Rhodes-beurshouer, al is dit dan ’n man met ’n ernstige sielkundige knou wat hy in die Grensoorlog opgedoen het. Hulle leer mekaar ken by die Universiteit van Kaapstad, waar hulle ’n seminaar in vertaalkunde volg en die studente-opstande besig is om in alle felheid toe te neem. Dié seminaar lewer twee verdere karakters op wat die mosaïek van Suid-Afrikaansheid moet aanvul: die bruin man, Jerome Maarman, wat sukkel om siel en liggaam aanmekaar te hou terwyl hy studeer, en hulle dosent, dr Eliot, die spreekwoordelike Engelse liberaal.
Hierdie sentrale karaktergroep word aangevul met ’n hele galery van karakters wat elk memorabel is uit eie reg: die struggleveteraan Cat Khumalo en sy makker Sello, wat ’n meester is van kamoeflering en intrige; die plastiese chirurg Piekenier Leqluerck en sy faktotum Snaar Windvogel (bekend uit twee vorige Van Heerden-romans, In stede van die liefde en Klimtol); die Stellenbosse sakeman Groot of Grotius de Grootte, wat planne het om die Afrikanerbevolking te beveilig in omheinde gemeenskappe met omvattende sigbewaking en die handelaar in bordspeletjies, Bill, met sy kantoor in dié deel van Bellville wat Klein Ethiopië genoem word; ook die elegante uitgewer Elizabeth, wat Ian Brand se seksmaat en Thuli se vriendin is. Daar is ook die geheimsinnige dr Zhou, Mandaryns-dosent by die Universiteit van Kaapstad wat vir Thuli klasgee en haar help met kontakte in Sjanghai wanneer sy besluit om China te besoek. Tipies van Van Heerden as romansier wemel dit van die eksentrisiteit en uitspattigheid, met sommige van die karakters wat op die rand van geloofwaardigheid dans, gelukkig sonder dat hulle ooit daarvan afval.
Soos vantevore, bewys Van Heerden homself as meesterbouer van romans deur sy narratief so te konstrueer dat dit deurgaans die aandag van die leser behou deur perspektiefwisselings, tempoversnellings, stylverskuiwings, terugflitse en tergende vooruitwysings. Die roman open byvoorbeeld met ’n toneel van Thuli wat in die water van die Bund by Sjanghai dryf met ’n pyl in haar rug, maar die verteller wys ons daarop dat dié gebeure eers veel later gaan afspeel. Verder laveer die roman soos ’n seiljag in die suidoostewind op Tafelbaai tussen Thuli en Ian se verhale: eers die een se perspektief en dan, teenstrydig daarmee, die ander een s’n. Soms word die vertellings vanuit hulle perspektief afgewissel met ek-vertellings deur Jerome Maarman en soms met kort flitse uit die perspektief van die kruisboogskutter.
Van Heerden noem Die biblioteek aan die einde van die wêreld self in sy nawoord ’n “ideëroman”, wat impliseer dat die karakters en handeling so gekonstrueer word dat dit bepaalde idees belig. Dit is inderdaad so dat ’n narratief dikwels veel beter daarin slaag om die kompleksiteit van persoonlike motiewe, ingewikkelde oorsake en onverwagte gevolge betrokke by die uitspeel van die geskiedenis te verklaar as wat ’n abstrakte relaas dit kan doen. Die idees wat hier fiksionele liggaam kry, is veral die lewensopvattings en dryfvere van jong swart mense in Suid-Afrika (in hierdie geval van ’n jong vrou wat uitermate krities is oor wit mense se rol in Suid-Afrika, maar ook bereid is om die motiewe van haar politikus-vader te bevraagteken); die filosofie en beweegredes van Afrikaners soos Ian wat hom as “lefty” en eertydse Afrikanerdissident nie tuis voel by die regses nie, maar hom ook nie daarvan kan weerhou om kritiek te lewer op omstandighede in Suid-Afrika nie, en die implikasies van die paring van kapitalistiese geldsug en politieke magslus met die nuwe tegnologieë van sosiale media en sigbewaking.
Dit is haas onmoontlik om oor Die biblioteek aan die einde van die wêreld as ideëroman kommentaar te lewer en dit te probeer beoordeel sonder om sommige van die belangrikste plotverwikkelings te onthul en die afloop daarvan te verklap. Hiermee dus ’n waarskuwing dat hierdie resensie nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het nie en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie. Die vernuftige wyse waarop Van Heerden in die loop van die narratief jou lesersverwagtinge fnuik, jou momente van skeptisisme troef en jou nuuskierigheid bevredig, is inderdaad een van die genoeglikste elemente van die roman, so stop hier indien jy nog nie die roman klaar gelees het nie.
2. Thuli, die Fall-beweging en vaderverraad
Soos reeds gesê, word die idees of gedagtekomplekse aan die romankarakters geknoop. Die vrae na die motiewe en oortuigings van die studente van die Fall-beweging word hoofsaaklik vanuit Thuli se perspektief belig. Sy speel ’n belangrike rol in die veldtog en word uiteindelik deur die polisie met rubberkoeëls in die rug geskiet, ’n insident wat dalk gelees kan word as simbolies van die wyse waarop jong swart mense in Suid-Afrika deur die maghebbers in die steek gelaat is. Sy artikuleer die studente se afkeer van die rassisme en seksisme inherent in die koloniale konsepte en epistemologieë wat steeds Suid-Afrikaanse universiteite beheers. Sy spoeg ook gereeld haar minagting vir Ian se idees in hulle vertaalseminaar uit, ten spyte van die feit dat sy soms ’n rygeleentheid van hom aanvaar en hom op die ou end waarsku dat sy lewe in gevaar is.
Sy het grootgeword in Londen, waar haar ouers in ballingskap was, en het na die bevryding van 1994 saam met hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Sy is intens lief vir haar pa, maar ook krities oor die ouer generasie se manier van doen, en huiwer nie om dit te sê nie. Sy raak mettertyd agterdogtig oor haar pa en sy vriend Sello se doen en late, soseer dat sy begin ondersoek instel na hulle geheime bedrywighede. Vanweë haar betrokkenheid as sensitiwiteitsleser by die uitgewershuis waarvoor Elizabeth werk, maak sy ’n voorstel om ’n manuskrip oor haar verhouding met haar pa te skryf waarvoor sy na Sjanghai moet gaan omdat haar pa duidelik daar belange het. Hier maak Thuli uiteenlopende ervarings mee: Sy begin haar verblyf deur onder ’n trap in ’n vervalle gebou se ingangsportaal te loseer, en wanneer sy dit nie meer kan verduur nie, verhuis sy na die Astor Hotel op die rekening van haar pa. Sy kry geheimsinnige aanwysings van dr Zhou oor ’n boekwinkel wat sy moet besoek en doen uiteindelik ’n Chinese minnaar Jun op wat haar onder andere neem na die Instituut vir Aanmoediging in ’n ongenoemde Chinese stad waar sy – tot haar pa se gramskap – oorreed word om ’n duisend rekenaars van die Chinese regering namens die Fall-beweging te aanvaar. Deurgaans is sy besig om aan die boek te skryf waarin sy, volgens haar eie woorde, vaderverraad pleeg, en stuur sy dele daarvan aan Elizabeth as haar uitgewer.
Die roman onthul mettertyd wat die geheime projek van haar pa en Sello is wat haar daartoe dryf om die boek te skryf. Dit is veral op hierdie punt dat die sogenaamde bederwerwaarskuwing van pas is, omdat ’n mens nie hieroor kan skryf sonder om die afloop van die roman te verklap nie. Thuli kom agter dat haar pa en Sello “Operasie Amok” (’n verwysing na die studente-opstande, die afbrand van treine en lorries op die land se hoofroetes, plaasmoorde onder eliteboere in die Boland, taxi-oorloë en planne vir grondonteiening) orkestreer sodat Suid-Afrika onregeerbaar kan raak. Dit sal Nommer Een die geleentheid gee om ’n noodtoestand uit te vaardig, wat op sy beurt beteken dat hy lank genoeg aan bewind sal bly om amptelike goedkeuring te gee aan haar pa en Sello se planne vir die implementering van ’n omvattende stelsel van meeluistering in die vorm van Operasie BigEar wat vir hulle miljarde rande in die sak sal bring.
Hierdie elemente van die romanintrige, naamlik dat die studente-opstande georkestreer is deur Cat Khumalo en sy vriend Sello (met die hulp van die plastiese chirurg Piekenier) sodat hulle Zuma aan bewind kan hou en miljarde rande wins kan maak uit hulle projek om meeluister- en sigbewakingsapparaat uit China in Suid-Afrika te ontplooi, is een van die mees gewaagde idees wat die roman opper en miskien ’n voorstel wat ’n mens slegs binne die konteks van fiksie kan maak. Ten spyte van die feit dat hierdie interpretasie van die oorsake onderliggend aan die studente-opstande van 2015 en 2016 vir ’n goeie storie sorg, is dit as idee minder oortuigend. Dit vereenvoudig die gebeure tot ’n korrupte plan om geld te maak en neem op dié manier iets weg van die komplekse en onbestuurbare oorsake onderliggend aan die opstande in Suid-Afrika. Dit suggereer ook dat die verskillende rolspelers in die opstande (onder wie Thuli) nie werklik beskik oor eienaarskap van die verset nie, ook dat hulle nie die agentskap het wat nodig is om hulle idees van opstand selfstandig te ontwikkel nie. Die uitbeelding van Thuli se komplekse verhouding met haar pa en die feit dat Cat Khumalo se dogter vir hom uiteindelik belangriker is as sy grootse idee om die ganse Suid-Afrika onder sigbewaking te plaas, gee egter wel ’n aanduiding van die rol wat menslike faktore in die verloop van die geskiedenis speel. Die verhouding tussen Thuli en haar pa kan waarskynlik gelees word as simbolies van die jong swart mense in Suid-Afrika se verset teen die koloniale verlede én die korrupte ANC-vaders. Die slot suggereer dat ten spyte van die feit dat die jongmens baie naby daaraan kom om in die proses te sterf, die liefde van die vader vir die kind tog tussenbeide tree om die kind te probeer red.
3. Ian, die Afrikaner en Afrikaans, die biblioteek aan die einde van die wêreld
Hierteenoor word die posisie van Afrikaners en Afrikaans in die huidige Suid-Afrika veral aan die hand van Ian Brand as romankarakter ondersoek. Ian is op die oog af ’n byna aanstootlik selfversekerde en voortvarende Afrikaner wat ’n vennoot is by ’n suksesvolle regspraktyk. Dit blyk egter ’n front te wees wat ernstige posttraumatiese stres en ’n aansienlike mate van onsekerheid verberg. Hy het as jongman ’n traumatiese insident tydens die Grensoorlog beleef wat behels het dat hy homself moes red ten koste van iemand anders, ’n voorval wat hom steeds jaag. (Indien ’n mens die tydsomme maak, sou Ian – in sy vroeë veertigs in 2016 – wel heel jonk moes gewees het tydens dié insident, op die oudste 17 jaar toe die laaste gevegte in Angola plaasgevind het in 1988.) Hy deel die studenteprotesteerders se afkeer van Rhodes en vertel Thuli dat Jameson, na wie Jameson Hall op die kampus van die Universiteit van Kaapstad vernoem is, ook sý mense verneder het. Hy is bekommerd oor die voortbestaan van Afrikaans en wys sy medestudente in die vertaalseminaar op die ongemaklike ironie dat die Engels wat hulle gebruik, eweneens ’n koloniseerderstaal is.
Die motoriese moment in Ian se val as karakter is dié waarop hy ’n kritiese twiet oor ’n swart doeanebeampte by die Kaapstad-lughawe se tydsbegrip die wêreld instuur. Dit brandmerk hom as ’n regse “boer” en opperste rassis wat terughunker na die koloniale era en apartheid. Dit maak hom persona non grata in Suid-Afrika en beroof hom ook van sy werk, sy geloofwaardigheid, sy vryheid van beweging en die reg om ’n opinie uit te spreek. Hy word deur regse Afrikaners geëien as ’n held, maar deur die res van die land gesien as ’n rassis ten spyte van die feit dat hy hom telkens probeer losmaak van regse pogings om hom te koöpteer. Ian se situasie sinspeel duidelik op uitlatings soos dié van die filosoof Samantha Vice, wat indertyd geskryf het dat wit mense in Suid-Afrika eintlik nie meer geregtig is daarop om ’n opinie uit te spreek nie en hulle van die publieke diskoers moet onttrek.
Ian is egter die soort karakter wat hom nie daarvan kan weerhou om met “opsetlikheid en woede, soos ’n kleuter wat die gesag van sy ouers uitdaag” (353) te reageer nie. Hy word deur die veldtog wat volg op sy onbesonne twiet gedwing om onder te duik en homself van die openbare toneel te verwyder. Dit is eers later dat dit blyk dat die twitter-veldtog teen Ian kunsmatig aan die gang gehou word as deel van Operasie Amok, bedink deur Cat Khumalo en Sello, met die hulp van Piekenier. Hy wend sekere desperate pogings aan om homself besig te hou en te oorleef: Hy maak kontak met die speletjiesmagnaat Bill, vlieg na Namibië met die plan om saam met ’n toevallige kennis ’n dokumentêr oor die Grensoorlog te maak, en ontmoet vir Grotius, wat dieselfde soort sigbewakingsplanne het as Cat en Sello, maar dit wil aanwend om Afrikaner-gemeenskappe te beveilig. Boonop het hy ’n teisterende verhouding met die uitgewer Elizabeth wat uit vurige seksuele koppelings bestaan, maar min emosionele troos bied. Uiteindelik besluit hy om ’n letterlike gesigsverandering te ondergaan sodat hy onherkenbaar kan wees. Simbolies gesproke mag Ian se situasie daarop sinspeel dat Afrikaners in Suid-Afrika onder verdenking is dat hulle slegs ’n regse, rassistiese verhouding met die hede kan hê en mettertyd gedwing sal word om ’n gesigsverandering te ondergaan wat hulle onherkenbaar sal verander. Dit alles word gekoppel aan die vrae oor sigbewaking wat tot die beskikking van regerings (China en enige korrupte, magsugtige regering wat daarvoor sal betaal) en geldmagte (soos dié van Cat Khumalo of Groot de Grootte) kan kom om daarmee gewone burgers se vryheid van spraak en beweging te bedreig en hulle lewens te beheer.
Die ander belangrike idee wat rondom Ian as karakter ontplooi word, is dié van die “biblioteek aan die einde van die wêreld”. Ian se droom oor ’n “biblioteek aan die einde van die wêreld” is gebaseer op sy kinderdae toe sy pa hulle geneem het na die dorpsbiblioteek in die Karoo waar hy as kind baie tyd deurgebring het. Sy idee is dat die biblioteek in ’n onwaarskynlike uithoek van die Karoo geleë moet wees, ’n plek aan die einde van ’n onbelangrike grondpad. Dit moet op geen manier geassosieer word met monetêre waarde nie: die enigste toegangsfooi tot hierdie biblioteek sal ’n bottel water uit die besoeker se omgewing van herkoms wees wat gestort word in die dam in die agterplaas van die biblioteek. Dit moet ’n toevlug wees vir dié soort geleerdes wat wil vlug van die moderne universiteit as besigheid en ’n ruimte skep vir die aandagtige en geduldige verwerwing van kennis.
Ian se droom oor die biblioteek word ook geskakel met sy opvatting dat die idee van ’n biblioteek tydens die Valliste se opstand onder beleg is. Hulle aanval op die Universiteit van Kaapstad se Jagger-biblioteek en hulle beskuldiging dat dit verteenwoordigend is van ’n Westerse kultuur wat nié vir hulle ’n veilige ruimte skep nie, gee verdere tekstuur en kontoer aan Ian se idee oor die soort biblioteek wat hy wil oprig. Wat hom betref, moet dit juis nié ’n “safe space” wees nie. Dit moet ’n plek wees waar jy gekonfronteer word met alles wat jou ongemaklik maak. Verder moet dit ’n plek wees waar geen sekerhede heers nie, maar eerder “die kuns van huiwering, van paradoks en onpeilbaarheid” (625). Daarom gaan steel hy met die hulp van Piekenier en sy trawante die kunswerke wat tydens die #RhodesMustFall-betogings as onaanvaarbaar gebrandmerk is en deur die Universiteit van Kaapstad in ’n stoorruimte weggebêre is. Hy wil dit ophang in sy biblioteek sodat die besoekers daar “straffeloos en vry die geseling van kuns [kan] ondergaan” (628). Hiernaas is daar ook ’n skuur wat objekte bevat wat herinner aan die ergste vergrype van die geskiedenis (’n dompas, ’n “Slegs vir Blankes”-bordjie, ’n “Kill all Jews”-graffito) waar die besoeker sigself bereid moet verklaar om daardeur “beledig en ontstig” te word. Onderliggend aan die idee van die biblioteek is dus die ideaal van vryheid van spraak, ook van die onveiligheid en trauma wat kennis van die wêreld en die afskuwelikhede van die geskiedenis kan meebring.
’n Pikante besonderheid is dat die uiteindelike toesighouer by hierdie biblioteek Snaar is, boorling van die Karoo wat in sy lewe onuitspreeklike ellende beleef het en sy woede teenoor geweldenaars laat geld het deur hulle met sy kruisboog af te maai. Hy beland dus na sy verblyf by Piekenier, wat hom wel raakgesien en as individu geëien het, by die biblioteek aan die einde van die grondpad, en lei daar ’n gedempte lewe wat die waardes van die biblioteek weerspieël. Agter hom as “hoeder van hierdie boedel” in “hierdie buitepos van die dink” (626) hang die kruisboog waarmee hy amok gesaai het.
4. Twee slotte
Die roman word met twee slotte afgesluit. Die eerste slottoneel word gevolg deur die woorde “WORD VERVOLG”, wat suggereer dat dit nie die einde van die verhaal is nie. Hierdie slottoneel keer terug na die roman se begin: Dit beskryf die reeks gebeure wat voorafgaan aan die moment waarop Thuli deur die pyl uit die kruisboog getref word en in die water van die Bund in Sjanghai val. Dit is ook die moment waarop haar pa, wat etlike waarskuwende boodskappe aan haar gestuur het, op die toneel aankom en in die water spring om haar te help met die teddie wat hy vir haar as kind gegee het in sy hand. Die teddie is verteenwoordigend van beide die sorgsame liefde vir haar en die politieke intriges in sy lewe, maar die slot suggereer dat hy uiteindelik ’n keuse maak vir sy dogter.
By die lees van die woorde “word vervolg” besef die leser dat hierdie verhaal nie afgesluit is nie en dat daar waarskynlik nuwe verwikkelinge op die horison lê. ’n Mens hoop ook dat daar in ’n moontlike vervolg aandag gegee sal word aan dié verhaalelemente wat nie volledig ontwikkel is nie. Die karakter Jerome Maarman (die enigste aan wie die ek-vertelvorm gegun word) kry byvoorbeeld nie die kans om volledig tot sy reg te kom as potensiële teenspeler van die swart vrou Thuli en die wit mans Ian en dr Eliot nie. Hy kom uit ’n agtergrond van ontsegging en leef in erbarmlike omstandighede terwyl hy probeer studeer; hy weier om hom te laat koöpteer deur Ian in sy argumente oor Afrikaans, maar laat hom wel oortuig om handlanger te wees vir die studente-opstandelinge. Simbolies gesproke is Jerome ’n belangrike tussenfiguur wat deur beide swart en wit misken word, en dr Eliot die Engelse liberaal wat deur die swart studente geminag en as manipuleerbare swakkeling beskou word. Die outeur sou van Jerome ’n sterker karakter met meer verteltyd kon maak: syne is ’n verhaal wat ook vertel moet word. Ook die motiewe agter die plastiese chirurg dr Piekenier Leqluerck se betrokkenheid by Cat Khumalo en Sello se planne word nie volledig duidelik gemaak nie en sou in ’n vervolgroman helderder belig kon word.
Die eerste slot van die roman word gevolg deur ’n vertelling getitel “Agterna. Heathrow, Londen – Terminaal 5”. In dié afdeling is Ian Brand, dié keer as ek-spreker, aan die woord as wêreldreisiger wat hom saam met ’n groep ander wêreldburgers wy aan die stryd teen die wyse waarop sosiale media, sigbewaking, inligtingstelsels en masjienleer besig is om sekere menslike vryhede te bedreig. Hy lewer sy bydrae as regskenner op die gebied van ingeligte instemming. Hierdie deel van die roman skakel dus – soos die intrige in die res van die roman (Cat en Sello se planne vir BigEar, Thuli se ondervindings by die Instituut vir Aanmoediging, Ian se val as gevolg van sy twiet, Grotius se planne vir sigbewaking in sekuriteitskomplekse) – met die ander groot idee of vraagstuk wat die roman ondersoek, naamlik die idee dat die mensdom uitgelewer is aan die herkenbaarheid wat sosiale media bring en die potensiële gevolge van meeluistering en gesigsherkenningstelsels. Cat Khumalo en Sello se planne om BigEar te installeer op ongeveer alle elektroniese apparate wat mense in Suid-Afrika gebruik, impliseer dat die regering deur meeluistering en die insameling van data uiteindelik volledige beheer oor die bevolking kan kry. Grotius se planne om sekuriteitswoongebiede met gesigsherkenningstelsels te bewaak, gee te kenne dat hulle enklaves sal kan oprig wat hulleself volledig afsluit van die res van die gemeenskap. Die roman suggereer verder dat hierdie tegnologie veral in die hande van China lê wat dit sal kan gebruik om sy mag oor die res van die wêreld uit te brei. Daarnaas speel die roman ook met die idee (byvoorbeeld in Leqluerck se operasies om Snaar Windvogel te help om ’n geslagsverandering te ondergaan en sy projek om van die popliteale fossa – die agterkant van die knie – ’n begeerlike en opereerbare deel van die liggaam te maak) dat chirurgiese ingrepe op die menslike liggaam uiteindelik kan lei tot ’n punt waar die biologiese mens masjien begin word en kunsmatige intelligensie ’n steeds belangriker rol sal begin speel.
Die roman se tweede slot keer terug na die herhaalde sinspelings op Ian Brand as ’n soort Bart Nel-figuur in Van Melle se roman Bart Nel. In die gedeeltes wat voorafgaan, word Brand herhaaldelik in verband gebring met Bart Nel wat ten slotte, nadat hy álles verloor het wat vir hom belangrik was (sy familie, sy plaas, sy politieke ideaal van onafhanklikheid), die uitspraak maak: “En ek is nog hy.” Ian Brand is dus ’n voortsetting van die literêre tipe van die Afrikaner wat nie wyk van sy oortuigings nie, wat ten spyte van kwalike gevolge by sy standpunte bly en die verliese wat dit bring byna gelate aanvaar. Dit is om hierdie rede dat ’n mens wonder oor die vertelling ná die roman se eerste slot waarin Ian voorgehou word as ’n globale stryder in die stryd teen die skadelike gevolge van tegnologiese ontwikkelinge. Presies hoe hy die oorgang maak van ’n posisie van abjekte uitgeworpenheid in Suid-Afrika na lid van ’n uitgelese groep mense van regoor die wêreld wat ’n aksiegroep vorm teen die infiltrasie van mense se lewens deur sigbewakingstelsels en die OECD (Organisation for Economic Cooperation and Development) adviseer oor kunsmatige intelligensie, spel die roman nie vir ons uit nie. Vir my gevoel neem dié toevoeging tot die roman waarin Ian voorgehou word as ’n ietwat melankoliese, maar tog selfversekerde wêreldburger, iets weg van die tragiek van sy posisie as ’n soort Bart Nel-figuur wat alles kwyt is maar tog sy identiteit behou. Vanuit ’n ander hoek gesien, kan die slot egter suggereer dat die Afrikaner sal kan oorleef slegs indien hy opgaan in ’n globale bestaan.
Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n waagmoedige en provokatiewe besinning op ons tyd en die vraagstukke wat dit opwerp. Van Heerden kry dit reg om van die belangrikste probleme wat Suid-Afrika en ook die groter wêreld konfronteer, aan te spreek in ’n verbeeldingryke fiksionele struktuur waarin oortuigende karakters mekaar opponeer, beïnvloed en bepaal. Alhoewel hy wel daarin slaag om van die jong swart vrou Thuli en haar familie geloofwaardige karakters te maak, kry ek die gevoel dat die roman se swaartepunt by die karakter Ian lê. Die mees aantreklike element in die boek is die idee van ’n biblioteek, gevestig in ’n godverlate plek aan die einde van die wêreld, wat die ou ideale van die langsame verwerwing van kennis deur toewyding en die gewillige blootstelling aan die gevaar van omgaan met idees wat nie noodwendig met jou eie strook nie, verteenwoordig. Dit is veral op hierdie punt dat die roman my oorrompel en oortuig het.
Vrouekeur: Willie Burger discusses sensory perceptions in prose
Wanneer mense met mekaar praat oor die boeke wat hulle gelees het, vertel hulle mekaar meestal van die emosionele impak wat dit op hulle gehad het – hoe dit hulle laat voel het. Waaroor egter dikwels nié gepraat en geskryf word nie, is die manier waarop die roman geskryf is, die maniere waarop taal en verteltegnieke aangewend word. Selde word gevra hoekom die roman byvoorbeeld ’n bepaalde effek op die leser het, wat in die teks veroorsaak dat die leser emosioneel reageer.
Dit kan egter baie bevredigend wees om bietjie versigtiger na bepaalde paragrawe en sinne en die effek daarvan op ’n leser te kyk. Ek het pas begin om Etienne van Heerden se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, te lees. Ek sal binnekort ’n vollediger bespreking daarvan skryf, maar sommer so met die oopmaak van die roman en die lees van die eerste paar bladsye val die manier waarop Van Heerden vertel en hoe hy taal aanwend, ’n mens op. Die eerste sin van die roman is een van daardie rare vasgrypsinne wat ’n leser dadelik nuuskierig maak om verder te lees: “Aan die einde van die storie wat jy nou begin lees, druk die gety wat van die die Oos-Chinese See instoot, Thuli stadig suidwaarts. Sy dryf op die swart water van die Huangpu-rivier wat teen die Bund in Shangai verbyvloei. Haar ledemate is swart en stokkerig uitgesprei.”
Die eerste sin speel oop kaarte met die leser. Hierdie is ’n storie wat jy lees. Aan die einde van hierdie storie (en die roman is oor die 630 bladsye dik!) gaan Thuli stadig suidwaarts dryf. Die vermoede bestaan dat dit haar lyk is wat daar dryf (eers ’n paar bladsye later word die indruk gewek dat sy dalk nog leef). Hierdie eerste sin maak die leser nuuskierig. Wat het veroorsaak dat Thuli hier dryf, is sy dood, is dit moord, hoe het sy in China beland? Van hierdie “eindpunt van die storie” word dan deur middel van terugflitse geleidelik onthul wat voor hierdie oomblik gebeur het – kort voor sy in die water beland het nadat ’n pyl uit ’n kruisboog haar getref het, maar dan ook verder terug in haar verlede, as klein dogtertjie in Londen waar haar ouers, uitgeweke ANC-lede, tydens die die apartheidstyd gewoon het.
Ook meer onlangse terugflitse word aangebied, hoedat Thuli haar ouerhuis kort ná die Fees Must Fall-studentebetogings verlaat het. Hierdie heen-en-weer-spronge maak dit moontlik om in die bestek van enkele bladsye sommer baie inligting vir die leser aan te bied, sonder om in ’n lang uitgerekte verduideliking te verval. Thuli se hele lewensverhaal word nie van haar geboorte tot hierdie dryf in die rivier vertel nie – wat maklik vervelig sou kon word, maar sommer dadelik word op ’n paar opspraakwekkende gebeurtenisse uit haar lewe gefokus, wat veel interessanter as ’n chronologiese relaas is. Boonop word ’n hele aantal belangrike temas op hierdie manier oopgemaak.
DJ Opperman het gedig dat sy nooi in ’n nartjie is en sy ouma in kaneel. Sensoriese waarnemings wat nie tot die visuele beperk is nie, betrek die leser veel nouer by ’n vertelling. ’n Opvallende kenmerk van die roman is hoedat Van Heerden sensoriese waarnemings inspan. Thuli dink byvoorbeel aan haar pa: “Hy was die geur van sy serp: diepsweet en sigaretrook, whiskey en redenasies. Hoop en wanhoop. (…) “Dis wat haar pa vir haar was en is – geur.” Die geur van instemming en meelewing van die Indiër-gesin onder, die geur van kommer en boodskappers en onverwagse reise. Vreemde mense wat skielik in hul kombuisie met die lae plafon staan, hul reënjasse wat drup en hul sambrele wat na skrik en misreën en sigaretrook ruik. Almal weet hoe geur mens na ’n vorige ervaring kan terugvoer.
In Thuli se geval is dit die reuk van haar pa se serp wat allerlei herinneringe oproep. Die beskrywing begin heel “normaal” met die verwysing na die geur van diepsweet en sigaretrook en whiskey. Maar dan volg ’n hele aantal ander sake wat nie regtig geruik kan word nie – “redenasies”, sambrele wat na misreën en sigaretrook, maar ook na skrik en boodskappers ruik. “Die geure het assosiasies. (Hierdie effek is nie in ’n rolprent moontlik nie.) Wat soos ’n neutrale beskrywing van die geur van ’n serp lyk, bring sommer ook ’n hele geskiedenis van angs en onsekerheid mee – waardeur die leser se emosies sensories betrek word. Sensoriese waarnemings is nie tot die reuksintuig beperk nie.
Kyk na hierdie beskrywing: Daar aan die voet van die trap sou haar ma, instinktief die moederhen, haar liewe, liewe, swaargeleefde ma; daar sou haar ma gaan staan, haar kop skeef draai, en sonder dat sy enige ander inligting het, hoor aan die kwaliteit van die stilte, hoor aan die suising van die niks, daarin sou sy hoor, soos net ’n ma kan hoor, met die oor van bloed en naelstring: Haar dogter, haar Thuli. Hul enigste. Is weg. En daar’s ’n geur van ’n brandende kers in die huis.” In hierdie paragraaf word spanning geskep deur die lang sin waarin wat haar ma hoor, telkens uitgestel word deur nóg ’n invoeging, nóg ’n beskrywing en uiteindelik word selfs die tipografie ingespan deur ’n nuwe reël vir die brokkies inligting te gebruik. Die voortdurende verwysing na geure en klank wat saam telkens ander herinneringe oproep, betrek die leser op ’n sensoriese manier wat deur assosiasie ’n emosionele ervaring tot gevolg het.
Read the review on Vrouekeur: https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/die-storie-agter-die-storie-sensoriese-waarnemings-in-prosa
Huisgenoot review by Elna van der Merwe
Click on the photo for a larger version.
Review on Book of the month, Maroela Media
Die geweld en inhaligheid van die jare tagtig wat Etienne van Heerden in die oog gehad het in Casspirs en Campari’s, sy roman van 1991 (wat hy “’n historiese entertainment” noem), leef bykans 30 jaar voort in Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Dalk net met minder ratelende konvooie. En Biblioteek is dalk minder van “entertainment” as Casspirs, maar nie minder histories van aard nie. Bowenal is die groot ooreenkoms die sug na betekenis.
In sy agterkop het Ian Brand ’n biblioteek iewers in die Karoo. ’n Plek waar alles wat al oor die Karoo in die een of ander vorm van taal voortgebring is, boeke én skilderye, veilig versamel kan word. Ian Brand is ’n suksesvolle Kaapstadse prokureur van bykans 50. Hy het ’n LLM van Oxford én een van Cambridge, en sy spesialisasieveld is regskwessies rondom kunsmatige intelligensie, masjiengeleerdheid, privaatheid, kubersekuriteit en biotegnologie.
Hy het in Welgemoed grootgeword, het diensplig op die grens gedoen, was ’n Mandela-Rhodes-beurshouer, en het pas, met #FeesMustFall in volle swang op die kampus, ingeskryf vir ’n kursus in vertaalkunde aan die Universiteit van Kaapstad.
Thuli Khumalo, dogter van die aktivis en deesdae “Fat Cat” Khumalo, is saam met Brand in dié klas. As een van die voorste Valliste word daar na haar verwys as die “nuwe Winnie Mandela”. As haar ouers se enigste kind het sy in ballingskap in Kensington, Londen, grootgeword. Onder die voorwendsel dat sy navorsing gaan doen as deel van die kursus, reis sy na Sjanghai in China om agter die kap van die byl te probeer kom van planne waarmee haar pa besig is.
Saam met dié welgesteldes is Jerome Maarman ook ’n medestudent. Hy kom oorspronklik uit die Noord-Kaap, woon naweke in ’n hok agter sy oom se blyplek in Fagan’s Farm, en in die week in Futsek, “’n paleisie op die eiland tussen die highways” (p. 222). Sy oom is ’n UDF-veteraan en roem hom, teenoor die onordelike protes van hedendaagse UK-studente, in die gestruktureerdheid van die struggle. Ondanks dié aktivisme het die koms van die demokratiese bestel nie vir die oom óf vir Jerome ’n beter lewe gebring nie.
Dit is inderdaad Etienne van Heerden se geronde karakters en die intrige wat die leser op ’n reis neem, van Boedapest tot Beijing, en die leser wat wil volstaan met ’n gawe leeservaring meer as genoeg bied. Maar daar is meer aan Die biblioteek aan die einde van die wêreld: à la Umberto Eco word dit eerder ’n kwessie van wat die boek beteken as wat dit sê. Soos Van Heerden self daarna verwys, is dié boek ’n “ideeroman” wat, borduur en torring, lostorring en ontrafel, op die keper beskou, betwyfel en vra na betekenis wat maklik so maklik vervloei in vertaling.
Vergelyk byvoorbeeld maar net die verhulde betekenisse in die name van karakters. Daar is die vurige hoofkarakter, ene Ian Brand, wat dalk soos Jan Brand ’n hoop koester dat alles sal regkom, maar wat diverse brûe agter hom aan die brand steek; Jerome die maer man wat soos St. Hieronymus die vertaler ’n soort grotskuiling bewoon; Elizabeth Gunther, die vrou met wie Brand in ’n “slordige” verhouding is, wat meer gunter as hier is; en dan is daar die magdom newelkarakters wat Brand veral op vliegtuie ontmoet – van Piekenier Leqluerck, die plastiese chirurg, tot die speelgoedman Jack Lemkus.
Die wêreld van kunsmatige intelligensie, die afwesigheid van privaatheid en die vermoë om alles en almal dop te hou, is nie meer ’n toekomsskim nie. Die “stad sonder naam” wat Thuli in China besoek is klinkklare aanduiding dat Aldous Huxley se Brave New World nie meer ’n toekomsvisie is nie. Dit het nou aangebreek.
Data en alles wat met data gedoen kan word die spil en die roman verken die plek wat data het in die samelewing (van kuns as vorm van data tot sosiale media), die ontwikkeling van kennis en die invloed van algoritmes. Dit is immers ’n onbewaakte twiet wat Brand se lewe in ligte laaie het.
Van Heerden se jongste roman is ’n heerlike dog onthutsende verkenning van lewe in die woke era. Terloops, “woke” word pikant gedefinieer as “politieke korrektheid op steroïde”.
Johan Myburg
Review from www.fak.org.za
Hierdie boek behoort in ’n televisiereeks omskep te word
Source: http://www.fak.org.za/2020/03/13/hierdie-boek-behoort-in-n-televisiereeks-omskep-te-word/
Review in Sarie magazine, March 2020
Click on the image for a larger version.
Review by Jean Meiring in Sunday newspaper Rapport
Click on the images for larger versions.
Frederick Botha reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld on LitNet
Op ’n Woensdagmiddag vroeg in 2013 laai ek een van Afrikaans se mees gerespekteerde literatore by Rosebank se Gautrein-stasie op om na die universiteitskampus in Aucklandpark te neem. Daardie jaar tree hierdie emeritus professor as gasdosent vir die honneurskursus oor die Afrikaanse prosa op, en ek, as pas aangestelde (tydelike) letterkundedosent, speel haar chauffeur. Dis my jaar van Driving Miss Daisy. Daardie middag, as inleiding tot haar kursus waarby ek gretig ingesit het om te luister en te leer, maak sy ’n stelling wat my siening van letterkunde ingrypend verander: Literatuur is ’n produk van die lewe waardeur ’n mens die problematiek van ons tyd leer ken en selfs beter verstaan. Die prosa, het sy aangevoer, word gevorm deur konteks en geskiedenis, en ontstaan deur iemand wat deel van ’n gemeenskap is.
Die daaropvolgende jaar skryf ek in vir my doktorsgraad in Afrikaanse letterkunde, met ’n onderwerp wat bogenoemde stelling as vertrekpunt neem en spesifiek fokus op die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ná 1994. Aan die einde van 2019, tydens die finale afronding van my proefskrif, word ek versoek om Etienne van Heerden se nuutste roman te resenseer. As selferkende Van Heerden-dissipel aanvaar ek die versoek sonder huiwering. Die afgelope twee jaar was ek toegewyd gefokus op my proefskrif, en het ek nie my hand aan enige resensies gewaag nie. Watter beter skrywer as Van Heerden om weer tot die Afrikaanse resensie terug te tree! Boonop het ek nodig om myself los te maak van my proefskrif en van hierdie onderwerp wat my by tye tot waansin gedryf het. Hierdie resensie, meen ek, sou die perfekte geleentheid bied om dit te doen.
Aikôna.
Want sien, Etienne van Heerden se nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, moes deel van my doktorale studie gewees het. Nie alleen bied hierdie roman ’n magdom besinnings oor Afrikaneridentiteit in die postkoloniale Suid-Afrika van ná 1994 nie, maar dit is ’n roman wat die leser uitdaag: ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik maar ook internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. En wat presies is daardie beeld wat die leser vind?
Dis die tyd van Trump, fopnuus, sosiale media, toksiese maskuliniteit, blackface, grondgrype en die konstante aanmaning om woke te wees. Dis die tyd van #RhodesMustFall, #FeesMustFall, en ’n rits ander hutsmerke. Dis die tyd van selfsensuur, politieke korrektheid, en die verwagting dat Afrikaners onsigbaar moet wees. Om van hierdie roman as tydsdokument te praat, sou nie verkeerd wees nie. Talle werklike nuusgebeure word op kreatiewe wyse by die verhaal ingewerk.
Teen hierdie agtergrond leer ken die leser verskeie uiteenlopende karakters. Ian Brand, die Kaapstadse prokureur en kampvegter vir Afrikaans, stuur in ’n oomblik van frustrasie ’n ondeurdagte twiet waarin hy dienslewering kritiseer. ’n Twitter-storm bars los, wat aan Ian die nuwe naam as die Twietboer besorg, en wat die lewe vir hom warm maak. As deeltydse student in ’n vertaalkundekursus wat gemoeid is met die wyse waarop Suid-Afrikaners hulself in ’n nuwe era behoort te vertaal, jaag Ian sy klasmaats se bloeddruk gedurig op met sy uitlatings oor Afrikaans en Afrikanerskap. Ian vind ontvlugting in sy vurige seksuele verhouding met Elizabeth, ’n uitgewer. Elizabeth is bevriend met Thuli Khumalo wat sy as sensitiwiteitsleser vir haar uitgewery se manuskripte gebruik in die tyd van pc-kultuur. Thuli is ’n bekende studenteaktivis, die nuwe Winnie Mandela, en leiersfiguur in die Fees Must Fall-beweging aan die Universiteit van Kaapstad. As medestudent in die vertaalkundekursus, bots sy konstant met Ian se sienings wat sy as patriargaal, chauvinisties en koloniaal ervaar. Dan is daar Jerome Maarman, ook ’n student saam met Ian en Thuli, maar anders as hulle, het hy nie die luukse van ’n bevoorregte lewe nie, maar veg hy elke dag vir oorlewing in ’n selfgemaakte shelter langs die N2. As bruin man is hy ’n pion in die ideologiese argumente tussen Thuli as swart vrou en Ian as wit man. In ’n oeuvre vol onvergeetlike karakters het Van Heerden met Jerome ’n karakter geskep waarvan ek nog nie genoeg gekry het nie. Ek hoop van harte dat daar weer aan hierdie komplekse en tragiese karakter ’n stem gegee sal word in volgende romans. En so van komplekse karakters gepraat: dis presies hoe meeste van die karakters in hierdie roman uitgebeeld word, veral soos gesien in Elizabeth se wisselende ideologiese oortuigings. Suid-Afrika, so wil dit voorkom, is ’n skisofreniese land, so hoekom sal haar landsburgers anders wees?
Die leser ontmoet ook die plastiese chirurg, Piekenier Leqluerck, en sy fassinasie met die agterkant van mense se knieë, oftewel die popliteale fossa; Bill van Bellville, wat ’n bordspeletjie “Nkandla” ontwikkel het, en vas oortuig is dat die Afrikaner in ’n krisis verkeer. Dan is daar ook die Stellenbosse mafia wat Ian by hulle pogings wil betrek om veilige ruimtes vir Afrikaners te skep waarbinne hulle van Suid-Afrika kan afstig; Thuli se ouers, die ANC-veterane wat destyds in ballingskap in Londen was; die slinkse Sello, drinkebroer van Thuli se pa; en doktor Stephen Eliot, die ouskool-liberalis aan die Universiteit van Kaapstad en dosent in vertaalkunde, wat sy hande vol het om sy studente tevrede te hou terwyl die gemoedere hoog loop op kampus.
Van Heerden bring al hierdie karakters – en nog vele ander – op meesterlike wyse bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Daarom is die roman aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser sal boei.
Ian se twiet wat die groot konflik in die roman veroorsaak, is tekenend van die hedendaagse tendens waar sosiale media aan almal ’n stem en opinie bied, daar waar hulle agter die skerms van hulle rekenaars of slimfone skuil – sonder om aan die gevolge van hul plasings te dink. Terselfdertyd is dit ook tekenend van hoe ons, ten spyte van vryheid van spraak, steeds gesensureer word. Die roman bied uiteindelik ook ’n besinning oor die rol van tegnologie, en watter implikasie dit vir ons privaatheid inhou. Met biblioteke as ruimtes van kennis wat weens assosiasies met kolonialisme deesdae geteiken word, word toekomstige kennis eerder in kunsmatige intelligensie gevind, met Van Heerden wat op fassinerende (en skrikwekkende) wyse aandui hoe hierdie tegnologie in die toekoms deel gaan wees van ons alledaagse lewe, wat sulke ingrypende gevolge vir die mensdom inhou, dat dit as’t ware die einde van die wêreld soos ons dit ken, sal beteken. Die toekoms van Afrikaans, en die moontlikhede wat veeltaligheid vir ’n diverse land soos Suid-Afrika inhou, word eweneens onder die soeklig geplaas, en daar word selfs gespeel met die idee van Afrikanerkultuur as ’n groot biblioteek wat besig is om af te brand.
Hierdie roman dien uiteindelik ook as biblioteek van Van Heerden se eie oeuvre. Bekende temas word weer hier gevind: rassespanning, vermomming, kollektiewe en individuele skuld, en die soeke na identiteit. Ook wat die struktuur betref, maak Van Heerden weer eens gebruik van bekende tekstuele aspekte wat sy vorige romans kenmerk: die wisselende vertelperspektief, die jukstaponering van geografiese ruimtes, die rol van briewe, en ’n oop romanslot. Saartjie Windvogel, die talentvolle viooldogtertjie van Matjiesfontein in Van Heerden se In stede van die liefde, wat die leser later in sy roman Klimtol as die verstote Snaartjie leer ken, keer in hierdie roman terug as Snaar, maar in ’n heel ander (fisiese) gedaante. Dit is ook die idee van die boek as biblioteek van ander literêre werke wat geaktiveer word deur intertekstuele verwysings na, onder andere, George Orwell se 1984 en J. van Melle se Bart Nel.
Die biblioteek aan die einde van die wêreld kan beskryf word as ’n spanningsroman, in die wydste sin van die woord. Die roman begin met ’n moord, met die leser wat in spanning deur hierdie allemintige bielie van ’n boek moet lees om antwoorde op hierdie treffende verhaalopening te vind. Dis met rede dat hierdie roman oor die 600 bladsye beslaan, want om die uiteenlopende hedendaagse spanning op die sosio-maatskaplike en -politieke front te boekstaaf, is geen eenvoudige of korterige taak nie. Vanweë haar betrokkenheid by die Fees Must Fall-beweging, verkeer Thuli in spanning met haar ouers teen wie sy in opstand kom. Aanvanklik sukkel sy ook om as sogenaamde coconut, gevorm deur haar grootwordjare in Londen, haar met Afrika te identifiseer tydens hul terugkeer. Ian verkeer in spanning met sy traumatiese verlede op die Grens, maar ook as Afrikanerman met die onstuimige Suid-Afrika van vandag. Snaar, in transisie, verkeer in spanning met sy lyf en die werkinge van institusionele manlikheid. Ook Jerome is in spanning met die sisteem, die nuwe Suid-Afrika, en Madiba se idee van ’n reënboognasie wat hom as bruin man gefaal het, want alhoewel dit demokrasie na Suid-Afrika gebring het, is daar steeds nie vryheid vir alle Suid-Afrikaners nie. Spanning word ook geskep met die leser wat as speurder moet optree om uit te vind wie die kruisboog-moordenaar is wat Kaapstad teister. Dis veral in die laaste twintig bladsye van hierdie roman waar die spanning só koorsagtig hoog loop, dat die leser nie vinnig genoeg kan omblaai nie.
Op ontstellende wyse herinner die roman dat sosio-maatskaplike en -politieke chaos op weldeurdagte wyse geskep en gemanipuleer kan word, juis as manier om beheer uit te oefen – alles in die naam van korrupsie as die groot merker van ons tyd. Die grootste beloning van hierdie roman is egter die uitsonderlike wyse waarop Van Heerden aandui hoe kompleks maar ook bisar rassekwessies in Suid-Afrika kan wees. Terselfdertyd word daar ook besin oor die rol, relevansie en selfs luuksheid van fiksie in ’n land met dwingende probleme, en word die leser herinner aan Philip Roth se stelling: “Actuality is continually outdoing our talents.”
Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïs: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek, of hom daaraan steur om polities korrek te wees nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Sonder om bloot beskrywings van die stormagtige situasies te bied wat soos ’n ontnugterde gesanik of gekerm klink, of wat selfs as voorskriftelike prekery ervaar kan word, ondersoek Van Heerden hierdie kwessies oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Van Heerden, by monde van Elizabeth tydens ’n gesprek met Thuli oor ’n manuskrip se kulturele gepastheid, stel dit soos volg: “Vir my is die sterkpunt van die boek dat elke karakter sy of haar kans kry om hul sê te sê. Dink jy nie dis ideologies mooi gebalanseerd nie? Dalk is dit eintlik ’n baie liberale uitbeelding van ons land se probleme […]” (130). Dieselfde geld vir Van Heerden se roman.
Net soos Ian, mag talle lesers voel dat hulle ook eerder wil wegbreek uit hierdie “uitputtende land” (165), en daarom nie ’n roman daaroor wil lees nie. Die roman begin immers met ’n trigger warning! Maar dalk is dit juis die rede hoekom hierdie roman gelees móét word: omdat dit poog om insigte in hierdie gekwelde land te bied en al hierdie brandende kwessies te verstaan; omdat dit gemoeid is met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel. En dit is nodig, want soos die roman aandui, is dit onmoontlik om van hierdie omstandighede te ontsnap. Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n broodnodige roman waarmee Suid-Afrikaners die nuwe dekade kan betree.
Frederick Botha
Visit LitNet: https://www.litnet.co.za/resensie-die-biblioteek-aan-die-einde-van-die-wereld-deur-etienne-van-heerden/
SKROP: Deborah Steinmair reviews Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Die biblioteek: Van Heerden in vyfde rat
Etienne van Heerden is ’n gevierde romansier, een van ons grootstes. Hy is ook ongelooflik prolifiek: dit voel soos gister toe die lywige Die wêreld van Charlie Oeng op die Afrikaanse lettere losgelaat is. En nou: Die biblioteek aan die einde van die wêreld: ambisieus, groots in omvang, aktueel, polsend, kompleks en verbluffend.
Waar kom hy aan al sy idees en storielyne? Van Heerden sê in die bedanking die volgende oor die ontstaan van die boek: “Hierdie roman het ontstaan toe my bergfiets my in Jonkershoek buite Stellenbosch afgegooi het … In die dae wat volg, plat op my rug met ’n stukkende ribbekas waar die fietsstang my met die valslag getref het en op pynpille wat kodeïen bevat, het ek droomsnapse op my Facebook-muur gepos … Dit was verbeeldingsvlugte oor ’n biblioteek aan die einde van die wêreld.”
Hy was ook op ’n lesingreis na China, in hierdie roman ’n sentrale koplandskap.
Oor die woelige, hiper-aktiewe roman sê hy: “Die teks gaar dus op – nes die hamerkop, die weerligvoël, in sy nes opgaar aan die debris wat hy in die omringende landskap kry.” Van Heerden het tot aan die einde van 2016 die Hofman-leerstoel beset as emeritus professor van die Skool vir Tale en Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad – dus het hy die #Feesmustfall-beweging van naderby beleef en dit vind ook neerslag in die boek.
“Menings en formulerings en uitroepe en slagspreuke en frases en clichés – die chronolek waarna hierbo verwys is – in digitale en gedrukte vorm op plaaslike en internasionale forums, vind jy in hierdie teks.”
Hy verklap enkele van die temas: “Kwessies van identiteit … Daarbenewens is daar die groeiende diskoers – plaaslik en internasionaal – rondom sigbewaking. Kunsmatige intelligensie en verwante nuwe tegnologieë se impak op privaatheid en identiteit …”
Ten slotte stateer hy dat dit uiteindelik fiksie is: “en weerspieël die insigte en menings van storiekarakters nie noodwendig dié van die ondergetekende nie.”
Alhoewel, gee hy toe: “’n skrywer se boeke uiteindelik hóm skryf.”
Dié woelige Biblioteek wemel van temas en standpunte en die skrywer stuit nie vir sogenaamde cultural appropriation nie, hy is immers romansier en storiewewer en sy verbeelding is fenomenaal. Hy is ook nooit toondoof nie (ek sien daar was twee sensitiwiteitslesers, nog ’n relatief nuwe bergip: Bettina Wyngaard en Christi van der Westhuizen).
En uiteindelik is dit ’n uitasem leeservaring wat jou by die venster uitwaai, teen die kant van die kop klap en al vinniger laat omblaai, soos ’n Deon Meyer-misdaadroman. Leesstof uit die boonste rak, maar hou dit vir ’n naweek of vakansie wanneer jy al jou aandag daarin kan belê.
Deborah Steinmair
Visit SKROP: http://skrop.co.za/boeke/?fbclid=IwAR3v1a48UUXaqQO4EQNlKI7FGVNxMVUzFss1R-IA45HyJJL-Azt52iQ0_eA
Blog: Izak de Vries writes about Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Blikskottel.
Die biblioteek aan die einde van die wêreld is wêreldletterkunde. Dit staan breëbors langs enige Nobelpryswenner wat ek al gelees het.
Die biblioteek aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden is ’n BOEK, in hoofletters. Drie PhD-skripsies sal nie genoeg wees om dié een na waarde te skat nie. Dit is ’n enorme werk met geweldig baie lae.
Die storie? Dit is in die eerste plek ’n spioenasieverhaal.
Die leser moet egter gewaarsku word: die postmodernistiese bladspieël (let op na die talle wit spasies en twietagtige, kort paragrawe en hutsmerke), ook die voortdurende, metafiksionele selfondersoek, vertraag die leesproses baie bewustelik.
Die boek is dus meer as ’n storie. Soos enige goeie boek het dit lae van die betekenis, hierdie een se lae loop diep, baie diep. Hier is van die betekenislae wat vir my uitstaan:
- Verbluffende insae vir Afrikaanse lesers in die denke van die Falliste (#FeesMustFall).
- Taal, veral Afrikaans, se plek in die nuwe Suid-Afrika.
- Afrikaanswees vs Afrikanerskap vs Afrikaanssprekend wees.
- Identiteit.
- Grond.
- Lyflikheid.
- Seks vs liefde, of juis nie?
- Gender.
- Kuns vs proteskuns vs kommersiële kuns vs die teks vs die neweteks.
- Trigger warnings.
- Die reg op privaatheid vs die reg op veiligheid.
- Die plig van die staat vs die regte van die individu.
- Die grensoorlog.
- Volkstate (in verskillende vorme) vs vryheid.
Die lys is langer, maar kom ons laat dit daar.
Pryswenner
Ek vermoed hierdie boek gaan die wenner wees van volgende pryse:
- Die UJ-prys
- WA-Hofmeyerprys
- ATKV-Prosaprys (hang af wie die paneel is)
- kykNET-Rapportprys vir fiksie
- Die Hertzogpyrs vir prosa
My opmerking oor die ATKV-Prosaprys is belangrik. Daardie prys is ingestel om toeganklike literatuur te bekroon. In hierdie verband sou Grensgeval van Marita van der Vyver, Halley se komeet deur Hannes Barnard, of Reney Warrington se Smit Motors, dalk ’n waardiger wenner wees, want Die biblioteek aan die einde van die wêreld speel met al postmodernistiese truuks om die leser uit te daag en te laat dink, te laat lees.
Van der Vyver, Barnard en Warrington skryf ’n heerlike storie, hulle bied dit aan op ’n manier wat lekker lees, en skep verskillende lae wat vir ’n slim leser wag om ontdek te word; toeganklike letterkunde dus met baie diepte.
Van Heerden aan die ander kant, skep ’n teks wat die hele tyd vir die leser aandui dat lees ook ’n skeppingsproses is. Jy móét kophou, al is die storielyne redelik eenvoudig. Die teks is uitgerafel en blootgelê, die agterkant van die tapisserie word vorentoe gehang, die steke en die nate wys. Dit ís ’n lekker, onderhoudende storie vol spanning, maar dit is ook ’n selfbewuste artefak. Dit sal dus interessant wees om te sien hoe die paneel die ATKV-Prosaprys se akte lees.
Die ander pryse? Wel. Ek weet wie ek sou kies!
Wie moet die boek lees?
Almal wat behoort aan leeskringe: plaas die een nou al op julle lysies vir 2021, of druk dit in daardie gaatjie wat nog gevul moet word vir 2020. Julle gaan nie ’n lekkerder bespreekboek kry as hierdie een nie.
Vir wie is die boek nie?
Dit is nie ’n boek met ’n enkelvoudige verhaallyn nie en die einde is nie voorspelbaar nie. Ek weet daar is diegene wat suiwer wil lees om te ontsnap. Dan is die boek dalk nie vir jou bedoel nie. Tog, al my navorsing toon dat Afrikaanse lesers honger is vir lekker stories met diepte, daarom vermoed ek hierdie een sal wyd gelees word. Juis omdat dit soveel diepte het.
Bespreek die boek
Nee, dis nie ’n maklike boek nie, dit is egter ’n boek wat jou deeglik inslurp en vashou. ’n Kort resensie soos hierdie is glad nie genoeg om daaroor te praat nie.
Koop dit, lees dit, nooi jou leeskring of ’n klomp vriende, sit ’n hele dag opsy, bespreek die Ubers en maak die rooiwyn oop, begin dan praat. Daar gaan woede wees, want die boek sny diep. Daar gaan uiteindelik ook kollektiewe insig wees – al is dit dan juis in alles waaroor ons nie saamstem nie.
Lees dit.
Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n bedonnerde werk. Dit slaan hard. Dit slaan jou binne. Dit slaan jou asem weg. Dit dwing jou om jou brein te laat werk.
Dit is nie maklik nie. Dit is egter fantasties.
Die biblioteek aan die einde van die wêreld is my 2019-letterkundeboek-van-die-jaar. Glo my, daar is ongelooflike werke gepubliseer in 2019, so ek sê dit dus nie sommer nie.
Baie van die ander uitstekende boeke lees makliker. Ek was nog altyd, skaamteloos, ’n voorstander van toeganklike letterkunde, maar wanneer ’n boek soos hierdie een verbykom, dan moet ’n mens tyd en kopspasie maak en gewoon sê: Ervaar.
Source: http://blogs.litnet.co.za/devries2/2019/12/15/die-biblioteek-aan-die-einde-van-die-wereld/