Die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée: program

Klik hier vir die volledige program.

Die tweede Etienne van Heerden Veldsoirée, die breinkind van en georganiseer deur Darryl David, word van 22 tot 24 September in Cradock en Somerset-Oos aangebied. Vanjaar sal ‘n gratis slypskool vir ontwikkelende skrywers by die soirée aangebied word en dit begin reeds met openingslesings deur Etienne van Heerden op 20 September, om 18h00.

Ander veldskoolaanbieders is Chanette Paul, Maya Fowler en Izak de Vries (prosa), asook Fanie Olivier, Bibi Slippers en Melt Myburg (poësie). Veldskoolbywoners sal ook deur die loop van die dag op 21 September by hulle sessies hê.

Hierdie skrywers sal nie net op 20 en 21 September as mentors by die skryfskool optree nie, maar sal ook 22–24 September aan feesitems en paneelbesprekings op die veldsoiréeprogram deelneem. Die veldsoirée en veldskool vul mekaar dus aan, aangesien die veldskoolbywoners ook die gratis feesitems kan bywoon.

Hulle kan só hul mentors beter leer ken, en het gratis toegang tot ’n uitgebreide feesprogram wat ’n wye verskeidenheid aspekte van die skryfkuns oor verskillende genres heen aanspreek. Die veldskoolbywoners sal ook die geleentheid hê om hul werk aan die publiek bekend te stel.

Nes die geval is met die veldskoolaanbiedings, is alle veldsoirée-items vir alle soiréebesoekers gratis, met uitsondering van die biltong-en-sjerrie Olive Schreiner-sarkofaagbesoek per 4×4 (R150 per persoon) en ’n klein toegangsfooi by die Walter Battiss-museum in Somerset-Oos.

Karin Brynard, Bettina Wyngaard, Ronelda Kamfer, Dana Snyman en Nathan Trantaal sal op Sondag 23 September by die Jakes Gerwel-huis in Somerset-Oos optree. Soiréegangers sal dus vanaf Cradock na Somerset-Oos oorry vir die dag se bedrywighede.

Tien reisbeurse van R1 000 elk is beskikbaar vir Veldskool-bywoners, asook spesiale verblyftariewe. Vir besonderhede hieroor of navrae ivm die Veldsoirée in die algemeen, kontak feesorganiseerder Darryl David by 081 360 9231 of davidd@ukzn.ac.za.