Die biblioteek aan die einde van die wêreld: discussion on LitNet

(Scroll down for more posts.)

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking
deur Chris van der Merwe

Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hier onder gedeeltes van die intrige verklap.

Die verhaal

Vir ’n beter begrip van die roman is dit nodig om eers die verhaal te rekonstrueer, want dis ’n verhaal wat wissel tussen verskillende perspektiewe en verskillende tye, en die leser moet, soos David Kramer sê, “wakker slaap”.

Die vertaalseminaar wat dr Eliot by die Universiteit van Kaapstad aanbied, bring die drie sentrale karakters bymekaar: Ian, ’n Afrikaanse taalstryder en gewese jong Afrikaner-rebel teen apartheid; Jerome, ’n bruin man, slagoffer van apartheid én van postapartheid; en Thuli, dogter van die ANC-banneling Cat Khumalo, nou terug in Suid-Afrika. Thuli is deel van die Valliste-beweging, wat hulle daarvoor beywer dat apartheidsmonumente moet val – maar sy is tog ook nie volkome een met al hul strewes nie; sy bly ’n buitestander. By die seminare vind daar heftige botsings tussen Ian en Thuli plaas; Jerome hou hom buite hierdie debatte.

Op pad na ’n konferensie in Boedapest word Ian geïrriteer deur die stadige diens op die Kaapstadse lughawe en stuur dan ’n twiet uit dat daar in Afrika geen haas is nie, behalwe vir onafhanklikheid – ’n twiet wat sy lewe sou verander. Hy word allerweë beskuldig van rassisme en word van alle kante verstoot; die prokureursfirma waarvoor hy werk, stel nie meer belang in sy dienste nie. Hy moet daarom werk soek, en hy kry verskeie aanbiedinge:

  • Bill beplan ’n nuwe Monopoly-spel met terme wat aangepas is vir die nuwe Suid-Afrika; daarna probeer Bill hom betrek by die Vryboere, ’n groep wat in die verlede lewe, in verset teen die veranderde Suid-Afrika. Later blyk dit dat Bill ook werkloos is; hy is dus net so desperaat soos Ian op soek na nuwe moontlikhede.
  • Grotius, die sakeman, werk aan die skepping van blanke woonbuurte, geïsoleerde eilande wat beheer en beskerm word deur sigbewaking. Grotius sowel as Bill wil van Ian se regskennis gebruik maak vir hul projekte.

Hierdie eerste twee aanbiedinge is egter nie vir hom aanvaarbaar nie.

  • Hy word ook genader om deel te neem aan die maak van ’n dokumentêre program oor die Grensoorlog van die 1980’s; Kubane sowel as Suid-Afrikaners wat aan die oorlog deelgeneem het, sal in die dokumentasie betrek word. Hierin stel Ian wel belang, want hy het self aan die oorlog deelgeneem en word steeds gekwel deur skuldgevoelens oor ’n medesoldaat wat by hom gesterf het. Hy gaan na Namibië vir die projek, maar hiervan kom niks tereg nie – behalwe dat hy en sy vriendin Elizabeth ’n kort tydjie saam in Namibië is en nader aan mekaar kom as ooit.
  • Die een wat die grootste invloed op hom het in sy soeke na ’n nuwe bestaansmoontlikheid, is Piekenier Leqluerck, ’n plastiese chirurg. Piekenier het ’n groot belangstelling in die popliteale fossa (die holte aan die agterkant van die knie), wat uniek by elke mens is. Sy projek is om aan mense nuwe fossae gee, om daardeur hul identiteit te verander sodat hulle kan inpas in die nuwe wêreld wat aan die ontwikkel is. So verander hy ook Ian se identiteit deur plastiese chirurgie, waardeur Ian Brand herskep word tot John Smith.

Piekenier het vir Snaar in sy diens (dieselfde Saar/Snaar van In stede van die liefde en Klimtol), wat deur Piekenier ’n manlike identiteit gekry het. Piekenier sorg dat Snaar ’n bom by die Universiteit van Kaapstad laat ontplof wat pandemonium veroorsaak sodat Ian sy plan kan verwesenlik: om die skilderye te steel wat die universiteit gesensor het en om dit te vervoer na sy biblioteek “aan die einde van die wêreld”.

Piekenier maak gebruik van mense se swakhede om hulle te manipuleer: van Ian se ontreddering omdat hy verstote voel, en ook van Snaar se woede omdat hy nêrens aanvaar word nie. Hy laat Snaar hane maak wat oral in Kaapstad opgehang word en wat die mense as onheilspellende tekens interpreteer. So help Snaar om die chaos te skep wat inpas by Piekenier se agenda. Snaar se instrument van wraak is ’n kruisboog, en daarmee vermoor hy onder andere een nag vir Bill, in Ian se teenwoordigheid.

Nog iemand wat ’n belangrike rol in Ian se lewe speel, is Elizabeth, wat by ’n uitgewery werk. Hulle het ’n opwindende seksuele verhouding, maar mettertyd, soos wat hy eensamer raak, soek Ian meer as seks by haar. Elizabeth is egter skrikkerig vir ’n intieme verhouding en word finaal van hom vervreem deur sy besluit om sy identiteit te laat verander. ’n Vriendskap ontwikkel tussen Elizabeth en Thuli, wat deur Elizabeth as sensitiwiteitsleser vir haar uitgewery gebruik word.

Thuli vermoed ’n onheilige verbintenis tussen haar pa, Cat, en Sello – Sello wat telkens in ’n ander vermomming verskyn en net aan sy skewe skouer herkenbaar is. Sy gaan stilletjies in haar pa se kluis in en ontsyfer die wagwoord op sy rekenaar. So ontdek sy dat die waarheid skynbaar nog meer ontstellend is as haar vermoedens. Vir diegene wat nog nie die roman gelees het nie, verswyg ek wat Thuli op die rekenaar gelees het. Wel sal ek noem dat sy agterkom haar pa en Sello is betrokke by ’n onheilige samewerking met die Chinese regering.

Vasberade om agter die waarheid te kom, vertrek Thuli na China, kastig ter wille van navorsing vir ’n tesis. Sy bieg egter aan haar Mandarynse dosent by die Universiteit van Kaapstad, dr Zhou, wat haar werklike beweegrede is, en hy adviseer haar waar sy hulp in China kan kry. Daar ontmoet sy ’n jongman met die naam Jun en ’n verhouding ontstaan tussen hulle. Hy tree as haar gids op en lei haar onder andere na die Verbode Stad, waar sy die virtuele wêreld wat in China tot stand gebring word, leer ken, en sien hoe die tegnologie gebruik word as middel tot magsuitbreiding.

Die tyd in China lei tot allerlei gevare en ontnugterings. Thuli ontdek dat Jun ’n valse vriend is en dat dr Zhou ook nie vertrou kan word nie. Op ’n dag merk sy dat sy agtervolg word – die skurkagtige Sello en Snaar met sy kruisboog is agter haar aan … Maar ek laat die sluier sak oor wat toe gebeur het.

Die uitbeelding van ’n oorgangstyd

Die motto vooraf gee aan die leser ’n goeie aanduiding van wat om in die roman te verwag:

Truth becomes fiction when the fiction’s true;

Real becomes not-real when the unreal’s real.

Die verhaal en die karakters is fiktief, maar dit is fiksie wat waar is. Dit bevat ’n analise van ons tyd, plaaslik en globaal. Wanneer hierdie fiksie onwerklik voorkom, is dit omdat die werklikheid so vreemd is, nie omdat die fiksie onwaar is nie. Die kunsmatige wêreld wat in China geskep word, is byvoorbeeld byna onvoorstelbaar.

Dis ’n roman oor ’n oorgangstyd. Suid-Afrika verkeer in ’n situasie waar die ou narratiewe hul sin verloor het en nuwe betekenis gevind moet word. In die kursus van dr Eliot kom die drie sentrale romankarakters bymekaar: Ian die Afrikaner, Thuli die Afrikaan en Jerome die bruin man. Elkeen reageer verskillend op die tyd, elkeen het ’n eie perspektief op oorlewing waaruit hul verskillende waardes en ideale blyk. Al drie word in die roman toegelaat om hul sê te sê, elkeen word uit eie reg geteken, met deernis en begrip. Hulle het elkeen ’n sinvolle bydrae om te lewer, maar die seminare openbaar die verdeeldheid in die land, want hulle standpunte is onversoenbaar. Ian is byvoorbeeld besorg oor die toekoms van Afrikaans en pleit vir meertaligheid, maar vir Thuli is sy argumente betekenisloos in ’n situasie waar die Afrikaner sy mag verloor het en waar daar volgens haar groter kwessies is wat aandag verdien as die erkenning van Afrikaans. In die hewige debatte tussen die twee word Jerome tot stilte gedwing; sy mening word nie ’n kans gegun nie.

Die kentering van die tye geld nie net vir Suid-Afrika nie, maar ook vir Hongarye, waar die kommunistiese heerskappy beëindig is, en vir China, waar ’n tegnologiese revolusie plaasvind wat die bekende werklikheid onderstebo keer. Ian se reis na Boedapest en Thuli se besoek aan China verbreed die tematiek van die roman: Wat in Suid-Afrika gebeur, gebeur ook elders, en wat daar gebeur, het ’n invloed op Suid-Afrika. Dit sien ons in die volgende aanhaling oor wit mans in Suid-Afrika:

Almal wit manne wat in die aangesig van die groot wending, die Vierde Revolusie, met die groot digitale kolonisering deur China se KI-netwerke vooraan, spook en spartel met bullshit schemes. Hulle is besig om ’n soort Monopoly te bedryf, om aan die lewe te bly, om terug te gaan na “Go” en die dobbelsteen te skommel in die stryd om relevant en ekonomies aktief te bly. (392)

In die vakuum wat geskep is, ontstaan ’n gevoel van leegheid, van wanhoop selfs, omdat die ou narratiewe nie meer betekenis gee nie. Die verlede is verby, en tog nie verby nie; daar ontstaan “littekenliteratuur” (128), in Suid-Afrika soos ook in China. Dis ’n gevaarlike tyd: Valse verlossers, magsoekers en gierigaards kom na vore met allerlei onderduimse aktiwiteite.

Dis ’n roman oor ons tyd, maar ook oor meer as ons tyd – essensies van die menslike bestaan word geopenbaar. Die bedreiging van vryheid en die noodsaak van verset, kenmerkend van die hede, is ’n stryd wat in alle tye voorkom, telkens in ’n nuwe variasie. Die roman is ’n spieël van ons tyd, maar dis nie net ’n spieël nie – die werklikheid word omskep tot sinvolle begrip. Die vraag wat in die seminaarklas by die Universiteit van Kaapstad gestel word, is ’n vraag wat ook op hierdie roman en op die literatuur in die algemeen toegepas kan word: “Dit raak ’n vraag na sin. Hoe vertaal jy die dinge wat om jou gebeur tot begrip? Hoe gee jy daaraan sin?” (43).

Die sentrale karakters

Die drie sentrale karakters is enkelinge, maar in ’n sekere sin is hulle ook verteenwoordigers van ’n tydperk; die karakteropenbaring in die roman gaan saam met ’n analise van die huidige Suid-Afrika. Ook is Thuli en Ian reisende karakters wat ’n blik bied op ontwikkelinge elders, in Hongarye en China, waardeur globale kwessies ingebring word. Die drie se interaksie betrek universele temas wat elkeen op ’n eie manier beleef: verdeeldheid, versoening en verset; oorlewing in ’n oorgangstyd en die bestryding van die onreg wat hulle ervaar.

Ian

Ian se van is Brand, en die titel van die eerste afdeling is “Brandmuur”. Daar is heelwat konnotasies wat aan “Brand” en die “Brandmuur” geheg kan word. Oral is daar tekens van onrus in die land – opstand, geweld en brandstigting. Volgens Thuli is vuur noodsaaklik – dit moet brand en genees (47) – maar hier is brandmure tussen die mense, en hulle gedagtes en gevoelens kan daarom nie tot mekaar deurdring nie. Ian is aan die brand vir Afrikaans, en hy het brandwonde van sy verlede, van oorlewingskuld wat uit die Grensoorlog dateer, maar die ander het geen belangstelling in sy Afrikaner-stories nie. Die titel “Brandmuur” verwys ook na China, wat ’n muur van isolasie om hom bou sodat geheime aktiwiteite ongesiens daar kan plaasvind.

In sy blog sit Ian dikwels boeiende sienings uiteen. Hy is ’n “privaatheidsaktivis” wat wys op die gevaar van sigbewaking (25); hy beywer hom vir meertaligheid en waarsku teen die hegemonie van Engels. Maar hy is nie sonder foute nie: Hy leef self agter ’n brandmuur en stuur ’n onsensitiewe twiet uit sonder ’n benul van wat die effek daarvan sal wees. Sy uitreik na Jerome is moontlik nie vry van eiebelang nie, soos wat Elizabeth suggereer (544) – Jerome moet sy bondgenoot wees in die stryd vir Afrikaans, wat hy as sy vaderland beskou (220).

Ian is ten gunste van genuanseerde denke en verset hom teen die “eensillabige sekerhede van politieke slagspreuke” (71). Dit kwel hom dat daar nie meer ’n plek is vir vrye meningswisseling is nie, en hy dink: “Ons woon in die Republiek van Taboe” (51). Volgens hom word taal ’n instrument van geweld; woorde is “rubbersambokke” (184–5) waarmee die teenstander bygekom word. Dit is daarom nodig dat taal gesuiwer word, dat dit die waarheid onthul in plaas van om dit toe te smeer. Die onverdraagsaamheid waarteen hy waarsku, ervaar hy aan eie lyf wanneer hy en dr Eliot uit die kafee gedwing word waar hulle ’n akademiese gesprek sou voer; dis ’n teken dat ’n diktatuur teen kritiese denke gevorm word (294–5).

Die drie sentrale karakters word deur “diepslote” van mekaar geskei, tog is daar ontwikkelinge in die roman wat suggereer dat die skeidings miskien oorbrug kan word. Ian begin skuldig voel oor die manier waarop hy Thuli in die seminare beledig het (393), en van haar kant kry Thuli ’n begrip vir Ian se “taalangs” wanneer sy in China is (405). Jerome verset hom teen Ian se pogings om hom by die universiteit te betrek by die veldtog vir Afrikaans, maar hulle kom tog tot ’n gesprek wanneer Ian hom ’n geleentheid in sy motor gee. In die gesprek blyk die groot verskil tussen hulle narratiewe. Soos Jerome sê: “Jy worry oor jou skaamte en ek worry oor waar ek vanaand iets gaan kry om te eet” (527). Maar die feit dat hulle aan mekaar vertel wat hulle kwel, is ’n stap in die rigting van oorbrugging.

Dis darem nie net in taal dat Ian belangstel nie. Sy verhouding met Elizabeth is aanvanklik seksueel van aard, ’n ontlading van hul spanning, maar met verloop van tyd word sy behoeftes groter en verlang hy meer van haar. Daarvoor sien Elizabeth egter nie kans nie. Die volgende aanhaling toon die verskil tussen die twee:

“Elizabeth, ek gaan ondergronds. Niks gaan my red nie. Jy weet selfs die openbare beskermer het afgetree. Die fokken land …”

Sy leun oor en fluister na hom: “Seks,” sê Elizabeth met intense swart pupille. “Slordige, vreeslik embarrasserende kopulasie.”

“Nee.” Hy skud sy kop. “Koestering en liefde.”

Sy ruk haar bolyf regop, gooi haar servet neer en stoot haar stoel agteruit. (350)

As gevolg van ’n problematiese verhouding met haar moeder is Elizabeth bang om te betrokke te raak, maar sy gee wel vir Ian om en gee meer as een keer vir hom verstandige advies. Hieroor later meer.

Ian se groot droom is om ’n “biblioteek aan die einde van die wêreld” tot stand te bring. Dit sal anders wees as die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad, waar skilderye gesensor word wat nie polities korrek is nie; anders ook as Grotius se digitale biblioteek en as die biblioteek agter die swart deur in China, wat toegang voorbehou. Die simboliese biblioteek is ’n fassinerende tema wat reeds in Die wêreld van Charlie Oeng voorkom, en waarop hier uitgebrei word. Geen besoeker is in hierdie biblioteek onwelkom nie, elkeen se unieke agtergrond is ’n voorwaarde vir binnekoms – die toegangsfooi is “’n bottel water van die besoeker se plek van herkoms” (504).

Die biblioteek is in baie opsigte ’n reaksie teen die tyd waarin Ian leef, waar vlugtelinge van allerlei aard nie ’n toevlug het nie, en waar haastigheid die soeke na betekenis belemmer:

Ons gaan aan hierdie vlugtelinge ’n toevlug bied, ’n hawe waar hulle toegelaat sal word om hul eie tyd en die tyd van ander te verspil.

Jy sien, ons stel meer belang in psigologiese tyd as in horlosietyd. Ons is meer geïnteresseerd in betekenis as in die meting van uitsette (562).

Dis ’n plek waar gefokus word op tydlose waardes, daarom dat “woorde soos week, maand en jaar verbied moet word”. Die biblioteek bevat ’n etiese kode wat alle skeidings kan oorbrug: “Al dekreet wat jy hier staande sal kry, is die opdrag tot deernis” (563). Die volle werklikheid word bewaar – “al die mooi dinge” asook die “skete en skandes” van die mensdom (614). Dis ’n plek van troos wat ook “die geseling van die kuns” bevat (628); daar is littekenliteratuur asook boeke oor onreg en verset.

’n Biblioteek is ’n simbool van die kunste, in sonderheid van die literatuur, as argief van ’n tyd en ook van die tydlose. Iets van hierdie droom word inderdaad verwesenlik in Die biblioteek aan die einde van die wêreld, wat soveel deernis en begrip in die karakterisering vertoon; dis ’n roman wat die volle werklikheid betrek – littekens en liefde, misdaad en verset. Thuli Kumalo kry ’n standbeeld in die biblioteek (629) – in ’n sekere sin het sy reeds ’n standbeeld in Van Heerden se roman gekry.

In die droombiblioteek is daar ook die “Dam van Baie Waters” (629). Dit is ’n plek van lafenis en reiniging:

Die koel water skep jy in jou hande op, jy drink gretig en geniet die koelte van die aarde, van klip en aar diep onder jou voete. Jy skep hande vol water oor jou kop en agternek uit en druk jou gesig in die water en maak jou oë onderwater oop, ook om jou sien skoon te was. (629)

Dis ’n mistieke ruimte waar alle teenstellings opgelos word, waar die enkeling opgaan in die groot geheel. Die mistieke visioen inspireer Ian tot poësie wanneer hy aan Elizabeth daaroor skryf:

jy as klip sal blou
word soos lug
en jy as lug sal lui word soos klip, en jy sal
val
na waar bo
na waar onder
nie bestaan nie, maar als uitplaat in die oplos. (572)

Die biblioteek kan ook simbool wees van ’n begeerde werklikheid wat nooit verwesenlik word nie. “Die biblioteek aan die einde van die wêreld” is dalk soos die pot goud aan die einde van die reënboog, iets waarna verlang word maar wat onbereikbaar is. Dit is opmerklik dat Ian steeds op pad is na die plek waar sy biblioteek moet wees, maar nooit daar uitkom nie. Miskien sal die biblioteek eers na ’n apokalips tot stand kom, ná “die einde van die wêreld”, as die tydelike tot tydloosheid omskep word.

Thuli

Thuli is, soos reeds genoem, deel van die Valliste-beweging, maar sy pas tog nie heeltemal in by die groep nie. In ’n sekere sin is sy die heldin van die storie; sy identifiseer haar nie met ’n groep of ’n persoon nie, maar met dit wat reg is. Soos sy aan Elizabeth skryf: “Ek sê vir myself: Daar is reg. En daar is verkeerd. Staal jou teen die verkeerde. Hardloop met wat reg is” (163).

Thuli se selfstandigheid bring haar egter in gevaar; dit lei daartoe dat Sello haar wil elimineer, omdat sy nie die party klakkeloos gehoorsaam nie. Wanneer sy van haar pa en Sello se onderduimse aktiwiteite uitvind, is sy in ’n dilemma – sy moet kies tussen lojaliteit aan haar vader, vir wie sy lief is, en lojaliteit as landsburger. Dit behels die keuse van ’n simboliese “vaderland”, ’n besluit oor waar haar diepste lojaliteit lê. Sy verwoord haar konflik soos volg:

Want hoe kies jy tussen twee vaderlande? Een vaderland, jou pa. Ja, vir haar: die pa as vaderland, so inkorrek, so patriargaal as wat dit is. En tog, in haar geval, wáár.

Jou gewroegte, oorwerkte, deurdrenkte pa.

Pa met kant nog wal.

En die tweede vaderland, die ánder been van die onmoontlike en wrede vurk, was die republiek wat meer as twintig jaar ná wat as bevryding genoem is, nog wag om gebore te word. (16)

As selfstandige persoon besluit sy om haar verhaal in boekvorm te vertel soos wat sý dit ervaar het, nie soos dit aan haar opgedwing word nie (434). Die taal van haar boek sal dan ook ’n taal van onthulling wees, van die blootlegging van korrupsie; dis ’n eerlike taal, anders as die eensillabige taal waarteen Ian in sy blog protesteer.

Thuli speel ’n rol in die deurbreking van die “brandmure” tussen mense. In haar stryd teen rassisme leer sy om self ook rassegrense te oorskry. Sy kry insig in Jerome se swaarkry, en hierdie ontdekking lei by haar tot ’n tipe hergeboorte (64). Sy kry ook simpatie met Ian se taalangs, soos reeds genoem, en is later selfs oor sy veiligheid besorg (604). Tussen haar en Elizabeth ontstaan ’n openhartige meningswisseling wat later tot ’n vriendskap ontwikkel.

Deur Thuli se besoek aan China kry die leser ’n blik op ontwikkelinge in daardie land. Baie van wat sy daar sien, kom vir haar bekend voor: die oorgang na ’n nuwe tydperk (212) en die kloof tussen ryk en arm (61–2). Die skep van ’n kunsmatige, virtuele werklikheid, wat in Suid-Afrika nog in ’n betreklik vroeë stadium is, het hier tot ’n skrikwekkende omvang ontwikkel. Jun neem haar na die verbode stad waar masjiene die plek van mense inneem (145). Dis ’n wêreld gekenmerk deur kunsmatigheid en vervalsing – “Instituut vir aanmoediging” (298 ev) is die eufemisme vir ’n diktatoriale opset. Magsug is die dryfveer en tegnologie word die instrument tot groter regeringsbeheer. ’n Virtuele werklikheid word geskep wat feitlik ’n parodie is op God se skepping van die aarde soos vertel in Genesis 1. Dit is die mens wat hier die skepper is, met selfs die aanbod van ’n ewige lewe (op ys! – 435). In die “Saal van tonge” word ’n oplossing vir die taalverskeidenheid in die wêreld aangebied, maar dit is masjientale wat geskep word, en werkers dra almal dieselfde uniform (402). Thuli neem die “geweld van eenselwigheid” waar (453); boonop kom sy agter dat die nuwe wêreld tot stand gebring word deur bloedvergieting – almal wat dit teenstaan, moet dit ontgeld (454).

Gelei deur Jun, word sy gekonfronteer met ’n visioen van China as toekomstige wêreldleier, en dit hou onheilspellende moontlikhede in. China is die BigEar, baie soos die Big Brother waarteen George Orwell gewaarsku het. Deur die tegnologie weet die Chinese maghebbers alles wat oor die wêreld heen gebeur (233); hulle hou ook Suid-Afrika dop (310) en weet selfs van Thuli en haar pa se bedrywighede (317–8). Jun is gloeiend van geesdrif oor die ontwikkelinge in China, maar Thuli kom agter dat hy in diens van die Chinese maghebbers staan en haar vir sy doeleindes wil gebruik. Sy besef dat hy vals is, ’n man van plastiek (457), en beëindig daarom die verhouding. Deur haar breuk met Jun bevestig sy haar selfstandigheid, en ook dat haar eintlike vaderland die menslike waardigheid is (440), wat ondermyn word in ’n land waar masjiene die plek van mense ingeneem het.

Jerome

Jerome is die enigste karakter wie se ervarings in die eerste persoon vertel word. Dit is moontlik ’n aanduiding van die simpatie van die skrywer – die karakter wat tot stilte gedwing word in die vurige debatte rondom hom, kry hier ’n direkte stem in die eerstepersoonsvertelling. Hy word in die roman die ruimte gegun om vir sy ma te vertel wat hy nie by die universiteit mag sê nie: “Die First Peoples, Ma. Die land en als wat in hom is, daar van Fluitjiesdrif tot hier by Duiwelspiek, Ma, dis ons s’n” (275).

By die universiteit, én in die land, is daar nie plek vir sy storie nie: “Dis dinge wat ek nie mag sê nie, Ma. Dis uncool. Dis nie woke nie. Weet Ma wat woke beteken? Dit beteken jy weet na daai plek gaan jy net nie. Jy mag jou bek nie verbypraat nie” (275).

Sy diepste litteken is dat sy mense soos honde weggejaag is uit die gebied wat aan hulle behoort; daarom noem hy sy woonplek “Futsek” en sy mense die “Futsek tribe” (275).

Anders as die ander twee sentrale karakters, het Jerome geen geld nie. Sy ma verloor haar werk, en kan hom gevolglik nie finansieel help met sy studie nie. Daar is ook geen beurs vir hom by die universiteit nie; wanneer hy om ’n beurs aansoek doen, word hy verbaal mishandel (143). Deur sy armoede word hy gedwing tot dade wat teen sy sin is. Die Valliste betaal hom om petrol by sy oom te steel en ’n skaap te kry wat by die universiteit geslag kan word; ook Piekenier, wat mense se swakhede uitbuit, wil hom in sy diens gebruik. Daar is egter perke aan wat Jerome bereid is om te doen – hy het nie, soos Sello, alle moraliteit prysgegee ter wille van geld nie. Hy sal nie brand stig nie en gaan nie aanhou petrol steel nie: “Ek sal march, maar brandsteek, dit kry ek nie in my nie. Petrol stéél. Nee” (361). En hy sien deur Piekenier se planne met hom: “Ek het besef: Daai Snaar wat by Futsek aangekom en my cash gegee het, en daai great dane-baas van hom: dis net hulle manier om my aan hulle vas te knoop” (361).

Jerome pas nêrens in nie. Hy het, soos die ander twee sentrale karakters, ’n vuur in hom, maar sy dryfvere is anders as hulle s’n: “Da brand ’n vuur in my, Ma. Nie by die Boere nie. Nie by die Engelse nie. Nie by die Africans nie, Ma” (274). Hy neem deel aan die studente se protes teen Ian en dr Eliot (290), maar dis waarskynlik meer uit druk as uit innerlike oortuiging. Steeds is daar ’n afstand tussen hom en die ander. Snaar, wat ’n buitestander is soos hy, maak toenadering tot hom (570), maar Snaar is in diens van Piekenier, vir wie Jerome nie vertrou nie. Daar is ook ’n afstand tussen hom en Ian, soos hier bo genoem, maar dit is tog betekenisvol dat hy uiteindelik saam met Ian in die motor ry op pad na Ian se biblioteek – waarskynlik deel hy Ian se droom en sal daar ook vir hom ’n plek wees in die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Newekarakters

Cat

Thuli se pa is, nog meer as sy, ’n gekwelde persoon; verskeur tussen sy lojaliteit aan die Beweging en sy liefde vir sy dogter. Hy is getrou aan die Beweging, maar is vol droefheid oor die verwording daarvan; dit dryf hom tot drank (280). Wat hom verder kwel, is sy samewerking met Sello, wie se “krapstappie” ’n aanduiding is dat dié man nie die reguit pad loop nie. Hul samewerking bring wel geldelike voordeel, maar ook gewetenskwelling vir Cat. Hy kom agter dat Sello sy mes in het vir Thuli, wat haar nie deur die Beweging wil laat voorsê nie en wat ’n bedreiging vir Sello se onderduimse planne is. Cat moet dus kies tussen die Beweging, waar onheilige dinge aan die broei is, en sy dogter – as hy sy dogter kies, doen hy wat reg is, maar dit kan hom in groot moeilikheid bring, want Thuli is van plan om sy en Sello se misdade te openbaar. Uiteindelik triomfeer sy vaderliefde – hy stuur vir haar geld terwyl sy in China is, en later volg hy haar daarheen om haar te beskerm, want hy weet watter gevare haar bedreig. So offer hy homself op uit liefde vir sy dogter.

Elizabeth

Elizabeth is betrokke in ’n verhouding met Ian, maar wil ’n afstand tussen hulle behou. Dit is nie wat sy ten diepste begeer nie, maar dit is wat emosioneel vir haar moontlik is. Vir ’n kort tydjie in Namibië saam met Ian kom hulle baie na aan mekaar; dis ’n “paradyslike wegbreek”, maar die paradys kan nie voortduur nie, en daarom huil sy (418). Hoewel sy en Ian uiteindelik heeltemal weg van mekaar beweeg, dra sy sy belange op die hart en gee sy hom dikwels verstandige raad – sy word ’n tipe wysheidsfiguur in die roman. Sy is tereg kwaad oor Ian se naïewe plan om sy identiteit te probeer verander deur ’n operasie van Piekenier, en gee aan hom goeie advies oor wat ’n betekenisvolle verandering behels in die nuwe era:

As ek jy is, gaan soek ek na wat vir my hier betekenis gee. Kyk terug jou verlede in, en sê: Aanvaar gister se onvoorspelbaarheid. Gister sal nog in onverwagte gedaantes na jou aankom. Gee jou oor aan ’n nuwe betekenis. Soek dit.

As jy dit gekry het, kan jy begin afskud.

En afgee. Jy sal moet begin afgee. (520)

Innerlike vernuwing beteken nie dat hy moet ontken wie hy is nie; haar advies is: “Jy moet eien wat joue is” (575). Dit behels volledige aanvaarding van homself – “wat jy geërf het. Wat jý aangedoen het. Wat jý toegevoeg het. Wat jý veroorsaak het” (575).

Elizabeth sluit ’n vriendskap met Thuli; hulle korrespondeer openhartig met mekaar oor ’n verskeidenheid aktuele sake. ’n Debat ontstaan tussen hulle, maar dis anders as die debatte in dr Eliot se seminaarkursus, omdat die twee vrouens mekaar vertrou; hulle word susters oor die rassegrens heen. ’n Beslissende oomblik breek aan wanneer daar ’n heftige meningsverskil ontstaan sonder dat dit die vriendskap beëindig. “Dis toe, dink Thuli dikwels agterna, dat sy en hierdie jong vrou saam ’n besluit geneem het: Hulle sal bly praat, ondanks wat gesê word” (132–3). En so bring die twee vroue hoop in ’n manswêreld: die hoop dat ras- en meningsverskille oorkom kan word mits daar wedersydse vertroue is.

Eliot

Dr Eliot is ’n outydse Engelse liberaal, en hy is uiters ongemaklik in ’n tyd wat kennelik nie meer ’n plek vir die liberalisme het nie. Hy bied ’n seminaarkursus aan by ’n universiteit wat nog in naam ten gunste van vrye meningsuiting is, maar waarvan daar in die praktyk nie veel van teregkom nie. Wanneer die studente vir hom en Ian op gewelddadige wyse bedreig, ervaar hy die angs van iemand wat nie meer inpas in die nuwe tyd nie, en vir hom is daar dan net een uitweg vir oorlewing: om na Engeland te emigreer.

Snaar

Baie van die karakters is buitestanders; Snaar is dit ook, nog meer as enige van die ander romanfigure. Ons het Snaar leer ken in twee van Van Heerden se vorige romans: In stede van die liefde en Klimtol. Snaar was Saar in In stede van die liefde, ’n meisie wat pragtig op die viool kon speel en haar diepste gevoelens so tot uiting kon bring. In Klimtol het ons ontdek dat sy ’n transgender persoon is, en in Biblioteek het sy, deur Piekenier se operasie, ’n manlike identiteit gekry – Saar het Snaar geword. Steeds is hy egter ’n uitgestotene, want niemand wil hom aanvaar vir wat hy is nie; selfs die mense tussen wie hy grootgeword het, verwerp hom as hy toenadering by hulle soek.

Piekenier, wat mense se swakhede goed raaksien en dit vir sy eie doeleindes gebruik, maak effektief met Snaar kontak wanneer hy vir hom sê: “Ek het jou gesien” (482). Piekenier weet dit is wat Snaar ten diepste verlang, dat hy raakgesien moet word, en Piekenier se woorde lei dan ook tot ’n totale lojaliteit van Snaar teenoor die chirurg; hy verklaar: “Vir hom doen ek énige ding” (483). So word Snaar, deur moord te pleeg en paniek te saai met sy hangende hane, in Piekenier se planne gebruik. Deur Piekenier word hy ook deel van Sello se moordplanne. Snaar se kruisboog het nou in die plek van Saar se viool gekom; die vioolsnaar het ’n boogsnaar geword waarmee Snaar aan sy opgekropte woede uiting gee.

Piekenier

Piekenier is ’n slim man, iemand met insig in die mense se behoefte aan ’n nuwe identiteit in die oorgangstyd; daarom sy aanbod van ’n nuwe identiteit deur die verandering van die popliteale fossa, die holte aan die agterkant van die knie wat by elke mens anders is. Die uniekheid van elke mens word uitgewis in sy droom van eenvormige fossae (621); dit kontrasteer met Ian se droom van ’n biblioteek wat plek het vir elke individu met sy eie persoonlikheid, agtergrond en ideale. Sy valse van, Leqluerck, wat kennelik ’n vervormde “De Klerk” is, suggereer die valsheid van sy persoonlikheid. Sy naam, Piekenier, het die betekenis van ’n soldaat gewapen met ’n piek (’n lans) – maar sý piek is die skalpel, waarmee hy sy eie oorlog voer. Hy het letterlik en figuurlik ’n lang neus, wat hy oral insteek, sodat hy kan agterkom wat aangaan en mense vir sy eie voordeel kan inspan. Hy gebruik vir Snaar; hy wil ook vir Jerome en Ian gebruik. Hy spioeneer op almal; hy weet nie net van Snaar se behoeftes nie, maar ook van Ian se verstotenheid en Jerome se behoefte aan geld.

Die suggestie dat Piekenier kokaïen gebruik (283) is ’n aanduiding dat hy ’n gevaarlike man is. Uiteindelik word hy as skurk ontmasker – ’n gewetenlose bedrieër wat sorg dat hy, tot sy eie voordeel, altyd aan die kant van die maghebbers is. Hy was ’n spioen vir die apartheidsregering, nou is hy dit vir die nuwe bewind (595–6). Oral waar daar mag is, daar is hy: Hy werk saam met Sello én dr Zhou; in Suid-Afrika én in China het hy ’n hand in die pot. Al die karakters in die roman worstel met die probleem van oorlewing in ’n oorgangstyd; Piekenier oorleef deur slinksheid en gewetenloosheid – maar in die proses word baie ander se lewens vernietig (601).

Struktuur

Uit die voorgaande bespreking blyk die ryke genuanseerdheid van die uitbeelding van die huidige Suid-Afrikaanse politieke en sosiale situasie; ook hoe die temas verbreed word deur die omstandighede in Hongarye en China by te bring. Universele temas word betrek, soos gierigheid en magsug en die noodsaak van verset; eensaamheid, verdeeldheid en verdraagsaamheid; menslike verlange en mistieke lafenis. Tog is dit ook van belang om na te gaan hoe hierdie tematiese rykdom in die struktuur van die roman verwesenlik word.

Dit val op dat die verhaal nie chronologies vertel word nie. Wanneer ’n verhaal chronologies vertel word, is daar ’n suggestie van ’n reeks gebeurtenisse wat begin, ontwikkel en eindig. Hier is juis geen volkome afsluiting nie, want die geskiedenis gaan voort. Daarom is die laaste woorde in die roman, net voor die agterna-perspektief: “Word vervolg”. Ook bevestig die deurbreking van die lineêre volgorde dat die roman tydlose temas wil uitbeeld. Die struktuur is meer soos ’n mosaïek wat steentjie vir steentjie voltooi word, as ’n rivier wat in een rigting vloei. ’n Rivier beweeg, ’n mosaïek is onbeweeglik; die mosaïekstruktuur bevestig daarom die vasvang van die universele en die tydlose in die roman.

Die verbreking van die chronologie is ook belangrik vir die skep van spanning. Die verhaal begin aan die einde, maar sonder om die afloop volledig weer te gee. Die leser wonder dus: Wat het gebeur? Het Thuli in China gesterf? En dan kom die verrassing aan die einde van die roman. Spanning en verrassing is wesenselemente van die intrige. Karakters soos Cat, Jun en dr Zhou het ’n “dubbele bodem”, en die leser word telkens verras en steeds aan die raai gehou: Wie van die karakters kan vertrou word? Algaande word hulle ontbloot. Die skurke van die storie raak ontmasker: Sello, Piekenier en Jun – van verskillende rasse, uit verskillende lande, tipes wat jy oral vind. Daar is ook die helde, en veral die heldinne, soos Thuli, en die slagoffers, soos Jerome en Snaar. Die struktuur is dié van ’n spioenasieverhaal of ’n misdaadroman.

’n Belangrike element in die skep van spanning is die geheimsinnige e-posse wat gestuur word. Aanvanklik is die leser geneig om te dink dit is maar ’n aspek van die hedendaagse lewe, dat skelms e-posse uitstuur om geld in die hande te kry – maar hier is die waarheid van die eposse anders, en verrassend. Die eerste e-pos-fragment is waarskynlik tong-in-die-kies geskryf: “’Ellos partner! Can I trust you?” Dis soos ’n WhatsApp aan die leser, reg aan die begin. Maar die leser sou dit kon omkeer en vir die skrywer vra: “Can I trust you?” Want die skrywer mislei jou die hele tyd doelbewus. Daarom die nota vooraf wat tereg waarsku: “’n Trigger warning is gepas.”

Gepaard met die deurbreking van die chronologie gaan die wisseling tussen die perspektiewe van die sentrale karakters. Soos vroeër genoem, word die karakters se opvattings elk uit eie reg weergegee, sonder ’n duidelike reg en verkeerd – elkeen het ’n stuk waarheid beet, maar die beperkte waarhede kan meestal nie in ’n inklusiewe, groter waarheid opgaan nie. Die perspektiefwisseling openbaar dus die brandmure tussen die karakters, maar tog ook soms die moontlikheid om die afstande te oorbrug, soos wat ons by Thuli en Elizabeth sien.

Die roman eindig met die perspektief van ’n “Agterna” wat op Heathrow-lughawe afspeel. Ian is besig met die reël van ’n byeenkoms in ’n boshut in die (betreklik) ongerepte landskap van die Veluwe in Nederland. Die deelnemers kom uit verskillende lande; hulle is die “do-gooders” van die wêreld wat hulle teen verskillende vorme van onreg verset, onder andere die bedreiging wat sigbewaking inhou en die vernietiging van die natuur. Ian het nou sy idealistiese droom van ’n biblioteek aan die einde van die wêreld laat vaar en betrokke geraak by aktuele kwessies. Hy is veral aktief in die organisasie EyeCare, wat hulle beywer vir die vryheid om te kies of jy private inligting bekend wil maak.

Ian het wel deur Piekenier ’n nuwe popliteale fossa en ’n ander naam gekry, maar tog is hy basies nog dieselfde persoon. Hy het wel verander deur meer betrokke te raak by aktuele bewegings en het sy onrealistiese drome te laat staan; maar hy is nog steeds iemand wat hom teen onreg verset. Daarom kan hy die beroemde woorde eggo (614, 634) van Johannes van Melle se Bart Nel (614, 634) – van iemand wat wel verander, wat ryper word, maar ten slotte tog kan sê: “En ek is nog hy.” Sy verhaal eindig met ’n dubbelpunt (634): Sy storie is nie klaar nie, daar is nog werk om te doen. Deur daardie werk kan hy moontlik ’n identiteit ontwikkel wat pas in die nuwe tyd wat aangebreek het.

Die dubbelpunt wys ook vooruit na die vier Chinese woorde op die laaste bladsy: tong xin ji shou. Dit verwys na die wreedhede wat die Chinese owerheid gepleeg het teen die studente wat op die Tiananmen-plein geprotesteer het – ’n gebeurtenis waarvan op bladsy 377 vertel word. Ná die gebeure het die redakteur van ’n prominente kommunistiese koerant net vier woorde in sy koerant laat verskyn, niks meer nie: tong xin ji shou. Die strekking daarvan is: Treur en rou; dis hartverskeurend. Nie verbasend nie, het die redakteur kort daarna sy pos verloor. Hierdie laaste woorde staan los van die voorafgaande perspektiewe van die sentrale karakters. Dit is byna asof die skrywer hier self na vore tree met ’n gevolgtrekking wat voortvloei uit die verhaal wat vertel is: Daar is rede om te treur, rede vir verset.

Klik hier om die bespreking op LitNet te lees.