‘Gebeente’: A master storyteller at work

Gebeente is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers

Gebeente
Etienne van Heerden
Tafelberg
ISBN: 9780624094678

The full extent of Etienne van Heerden’s talent is exhibited in this work: his unbridled imagination; words that sound like he marinated his computer in honey; a sharp analysis of society; a fine sense of humour and irony; a master storyteller; and a thorough understanding of his medium.

Gebeente: LitNet Akademies-resensie-essay deur Willie Burger

Die volle omvang van Etienne Van Heerden se talent word in hierdie werk uitgestal: sy ongebreidelde verbeelding; woorde wat lees asof hy sy rekenaar in heuning gemarineer het; ’n skerp analise van die samelewing; ’n fyn sin vir humor en ironie; ’n meesterverteller; en ’n grondige begrip van sy medium.

Gebeente voer die leser met betowerende vertellings weg na ’n magiese wêreld wat terselfdertyd ’n angswekkend realistiese, kontemporêre Suid-Afrika is. Sodoende bied die roman presies wat ek van letterkunde verwag, naamlik dat dit mens moet meesleur en betower, nie sodat ons kan ontsnap uit die wêreld waarin ons leef nie, maar sodat ons kan ontsnap uit konvensionele maniere van kyk na die wêreld waarin ons leef, uit gevestigde maniere van dink oor die wêreld waarin ons leef.

Nuwe idees kom nie in ou wynsakke nie. Nuwe taal en nuwe vorme is nodig om denke te verlê, om anders te kan kyk. En vernuwende taal is wat Van Heerden deurgaans in Gebeente inspan. Sin na sin is vars en nuut en oorrompelend.

……..
En vernuwende taal is wat Van Heerden deurgaans in Gebeente inspan. Sin na sin is vars en nuut en oorrompelend.
……..

Die oordrewe en selfs lawwe name, verdraaiings van geykte uitdrukkings, uitgebreide beskrywings en verrassende plotwendings maak ’n aweregse blik op die wêreld oop wat ’n mens opnuut laat dink oor ons land se huidige politiek, oor die regstelsel, oor dekolonisering en korrupsie, oor skuld, oor aanspreeklikheid, oor die omgewing, oor geskiedskrywing, maar veral ook oor die maniere waarop na al hierdie dinge gekyk word. Die roman herinner ons deurgaans daaraan dat ons manier van verstaan ideologies gelaai is, bevooroordeeld, beperk. Boonop is hier ook, anders as in baie van Van Heerden se romans, ’n meer deernisvolle kyk na die mens en menswees. En soos alle groot romans, word in Gebeente ook gestoei met wat ’n roman is, met die aard van ons kennis oor die wêreld en hoe ons dit kan weergee en bedink.

Toorberg is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers

Gebeente sluit op verskeie maniere aan by Toorberg, Van Heerden se bekroonde debuutroman wat hierdie jaar 40 jaar gelede verskyn het. Hier is weer ’n misdaad wat in ’n afgesonderde gemeenskap gepleeg is, en weer kom ’n landdros van “buite” om reg te spreek. Weer is ’n hele gemeenskap aandadig. Weer is die roman geskryf in die modus van die magiese realisme. Die komplekse aard van skuld staan ook weer sentraal. In die Nota voorin Gebeente word dit egter uitdruklik gestel: “Die Magistraat in hierdie boek is nie Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt nie, alhoewel Gebeente se Magistraat Imker Goedeman ’n ruk saam met Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt in die Bellville-landdroshof gewerk het. Maar dit was lank gelede” (8).

Miskien is daardie laaste sin die belangrikste, want nieteenstaande al die ooreenkomste tussen Toorberg en Gebeente is daar ook ’n enorme verskil – ná 40 jaar se tydverloop. Die wêreld waarin Gebeente verskyn, verskil radikaal van die wêreld waarin Toorberg verskyn het. Die sosiale en politieke werklikheid waarin skuld nóú opnuut bedink word, het verander; die woordeskat waarmee ons die wêreld analiseer, het verander.

Tussen Toorberg en Gebeente het Van Heerden tien romans geskryf. Vir my is die hoogtepunte uit hierdie indrukwekkende oeuvre Die swye van Mario Salviati (2000) en Die wêreld van Charlie Oeng (2017). Maar sodra ek dit sê, onthou ek hoedat In stede van die liefde (2005) my gehelp het om die opwinding en melancholie van ons era van verglyding (die postmodernisme) te ervaar en te verstaan. En ek kan nie anders nie as om vol bewondering te staan voor Van Heerden se grootse poging om met Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019) ’n greep te kry op die oorrompelende oordaad van inligting en die onbegryplike skaal van alles wat in ons wêreld gebeur, ten spyte van die beperktheid van menslike waarneming.

Die swye van Mario Salviati is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers

Van Heerden was van die begin af ’n meesterverteller en met landdros Van der Ligt wat StamAbel in Toorberg terug na sy graf jaag en dan versigtig om hom loop sodat hy nie op sy skaduwee trap nie, het hy die magiese realisme wat so kenmerkend van Suid-Amerikaanse skrywers is, in Afrikaans laat posvat. Soms was daar in sommige romans (byvoorbeeld Casspirs en Campari’s) die gevoel van gemááktheid, die nate van hoe dit aanmekaargesit is, duidelik sigbaar – wat deel is van ’n soort postmodernistiese selfbewustheid, maar wat dit nogtans laat voel het of die eksesse net te veel word.

Die wêreld van Charlie Oeng is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers

In Gebeente kom alles bymekaar; mens beleef die kunstenaar in volle swang.

Die verhaal

In die dorpie Gebeente, op die Klipkaroo, word twee “leeglêers” vir ’n verskeidenheid misdade gearresteer: plaasmoord, godslastering, verkondiging van ’n vals evangelie en “Die Diefstal van die Melkweg”. Een van die twee, Jisses Losper, is die buite-egtelike seun van Altydoopvygie en na sy pa word verwys as “Verbygaande”. Sy “tjommie”, Wolraad Woltemade, het in die tronk “onder die nommer gekom” en toe in hierdie geweste “kom maak hy die gort gaar” (27).

’n Landdros, Imker Goedeman, en ’n staatsaanklaer, Div de Villiers, word uit die Kaap na die dorp gestuur om die saak aan te hoor. Die twee amptenare van Justisie is buitestanders en hulle is veronderstel om te sorg dat reg geskied en die orde in die onrustige gemeenskap herstel word. Die gemeenskap is in oproer, met ondersteuners van Jisses wat hom as Verlosser beskou, as iemand wat ’n belangrike boodskap bring aan die een kant, en aan die ander kant diegene wat hom aankla as die vals Christus, as verleier as “teenrewolusionêr” en as dief van die Melkweg, en wat selfs daarop aandring dat hy gekruisig moet word.

……..
Die Aanklaer is tegelyk ’n cowboy en ’n rocker met sy Stetsonhoed en elektriese kitaar waarop hy smiddags buite die dorpie teen die heuwel gaan speel. (“Wat Hendrix met ’The Star-Spangled Banner’ gedoen het, doen Div met ’Prys die Heer met blye galme’”, bl 30).
……..

Die Aanklaer is tegelyk ’n cowboy en ’n rocker met sy Stetsonhoed en elektriese kitaar waarop hy smiddags buite die dorpie teen die heuwel gaan speel. (“Wat Hendrix met ’The Star-Spangled Banner’ gedoen het, doen Div met ’Prys die Heer met blye galme’”, bl 30). Dit is vir Div moeilik om sin te maak uit die aanklagte in die polisiedossier en uit gesprekke met die beskuldigdes of moontlike getuies. Al die klagte steun op hoorsê en konkrete bewyse ontbreek: “Nuwe tale, dink Div. Nie Astrofisika nie, maar Koeterwaals. Nie Regstaal nie, maar Leeks. Nie Teologie nie, maar Dwaals. Dis die tale wat ek hier hoor” (108).

Teenoor die cowboy se stryd om die feite agter al die stories te vind, begin die Magistraat al meer twyfel oor die toepaslikheid van die Romeins-Hollandse Reg hier op die Klipvlak, en hy toon al meer begrip vir die belang van hoorsêgetuienis, vir die mondelinge tradisie en plaaslike gewoontes en opvattings in Gebeente se afgeleë gemeenskap.

Jisses Losper se ma, Altydoopvygie, is 33 jaar tevore deur haar pa uit die huis gejaag nadat sy deur Verbygaande swanger gemaak is, en sy maak haar seuntjie alleen groot in ’n skaapwagtershut met die naam Opkyk, net buite Gebeente. Sy kry werk by die sterrewag, bekend as die Oog, met sy teleskoop waarmee wetenskaplike kennis ingesamel word, en waarmee in die verlede in gekyk word (en wat ’n Kaapse bende wil steel om as skrootmetaal te verkoop).

Haar kind is op driejarige ouderdom deur ’n maatskaplike werker onder haar sorg uit geneem en Jisses word in die Kaap in ’n weeshuis groot en het talle wedervarings (hy bots onder meer met die gereg as lid van Die Klipkou Vier) voordat hy 30 jaar later na Gebeente terugkeer.

Gebeente is ’n vreemde, magiese ruimte, maar terselfdertyd ook ’n realistiese, bekende werklikheid. In die Nota word Gebeente soos volg beskryf: “Die dorpie op die Vergete Grootpad in hierdie storie is nie Sutherland, Fraserburg, Loxton of Carnarvon of enige ander bekende Karoodorp nie. Gebeente is ’n verbeelde dorp. Hy dryf op lig en is nêrens” (8).

Die dorpie is feitlik afgesny van die buitewêreld weens Eskom se onbetroubare kragvoorsiening, die afstand van die N1-hoofpad en die pad tot daar wat byna onbegaanbaar geword het. Die treine loop nie meer nie, want die spoorweë is verniel, besteel en nie na behore onderhou nie (spoorwegwerkers kry nog salaris). Diesellewering is onbetroubaar. Werkloosheid en armoede oorheers en xenofobie (byvoorbeeld teenoor die Malawiese spaza-eienaar – al weet niemand presies wie hy is nie!) kom voor. Die dorp word beheer deur die burgemeester, Chain Moloi (met terugverwysing na Burgemeester in Die swye van Mario Salviati) en MaSarge – ’n veteraan van die anti-apartheidstryd en polisiesersant wat haar beeld op TV-polisiebeamptes skoei en wie se denke, volgens die Magistraat, op “bubblegum-dekolonisering” neerkom.

……..
Die Magistraat en die Aanklaer is omtrent ewe oud en aan die einde van hulle loopbane. Al gaan hulle al twee in Huis Suiderkruis tuis, vermy hulle mekaar so ver as moontlik weens hulle onderskeie take as aanklaer en landdros, maar ook omdat ’n gebeurtenis tydens hulle studentedae in die struggletyd gelei het tot ’n ernstige skuldgevoel en onvermoë tot vergifnis wat tussen hulle bly lê.
……..

Die Magistraat en die Aanklaer is omtrent ewe oud en aan die einde van hulle loopbane. Al gaan hulle al twee in Huis Suiderkruis tuis, vermy hulle mekaar so ver as moontlik weens hulle onderskeie take as aanklaer en landdros, maar ook omdat ’n gebeurtenis tydens hulle studentedae in die struggletyd gelei het tot ’n ernstige skuldgevoel en onvermoë tot vergifnis wat tussen hulle bly lê. Hulle hospita, Fermi, skryf aan ’n roman oor die geskiedenis van Gebeente en die suggestie word soms gelaat dat sy op ’n postmodernistiese manier hulle almal se lewens skryf. Die Magistraat en die Aanklaer is, soos hierdie titels aandui, tipes, verteenwoordigers van idees, maar hulle is ook soms Imker en Div, individuele mense met weerloosheid. Vir Div is hierdie hofsaak die “last chance saloon” en die Magistraat sukkel met sy gesondheid en raak al hoe meer bewus van sy ouderdom en irrelevansie. Een laatnag sit hulle op die stoep van die gastehuis en word soos volg beskryf:

Hulle sit. Dis te laat vir koffie. Dis te vroeg vir koffie. Dis te laat vir geregtigheid. Dis te vroeg vir geregtigheid.

Dis wat die Magistraat dink en hy vermoed Div dink langs dieselfde lyne. (195)

Hierdie woorde eggo die beroemde openingsin uit Charles Dickens se A tale of two cities:

It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair.

Hierdie is maar een van die kopknikke na die literêre tradisie waarmee Van Heerden sorg dat Gebeente deelneem aan die geskiedenis van die romankuns. Op selfbewuste wyse word in gesprek getree met die romantradisie. Natuurlik word aan die een kant met hierdie spesifieke verwysing bevestig dat Gebeente ook gemoeid met ’n oorgang is, ’n tydperk van geloof en ongeloof, van wysheid en dwaasheid, van hoop en hopeloosheid. Aan die ander kant word egter ook beklemtoon dat Dickens se 19de-eeuse realisme nie langer genoegsaam is om ons werklikheid te ondersoek nie. Dit is die twee ou mans, digby aftrede, wat hierdie ervaring het. Die Magistraat besef maar alte goed dat hulle nou leef in die “era van uitsê” (361), soos hy dit in ’n brief aan sy seun noem: ’n era waarin oppervlak al is wat oorbly, waarin die historiese bewussyn verdwyn en waarin kommodifisering alles in verhandelbare produkte verander, soos wat Fredric Jameson postmodernisme beskryf het.

Die Magistraat besef dat die tyd waaruit hy nog kom, geglo het in gelaagdheid, verwikkeldheid en verhulling, maar dat ons nou in ’n tyd van “onmiddellikheid” met ’n verlies aan historiese diepte leef (360). Hy wil nog vashou aan die Latynse geskrifte; hy kan ook die Hollandse Professor uit die 19de eeu raaksien, maar hierdie tyd van oppervlak en uitsê laat nie meer ruimte daarvoor nie. Wanneer hy laatnag sit en drink, skryf die Magistraat:

Vir jare het ek gedink […] dat ons uit die letterlikheid, uit die verbeeldingloosheid, moet opstaan. Dat ons te gebonde was aan feite en die gerapporteerdes. Dat ons in ’n nou drukgang was met te min beweegruimte vir verbeeldingryke jurisprudensie; dat die Reg dus tekortskiet aan menslikheid en beweeglikheid. Dat dit nooit skietgee nie.

Nou bevind ek my hier in Gebeente in ’n omstandigheid waar ek – verrassend – juis sit en verlang na die voorspelbare; na alledaagse feitelikheid.

Ek het genoeg gekry van die gif van folkloristiese mitologie, van vals nuus en sameswerings, van Maan en die Vals Transit van Venus – wat dit ook al mag beteken. Genoeg van dorpskandes en wegmoffelary en kleingeskiedenis en van engele en ander kaksoekers, van biblioteke met onnodige boeke, van ’n skarreldominee wat nes ’n recycler van Bellville vir glas en yster skarrel, hier besig is om van huis tot huis te skarrel vir siele; ek het genoeg gehad, godweet, van grondhonger en skutdonkies en Karoomarias en lui konstabels en die mens en sy mankemente; sy lieg en sy voorgee en sy vals gestalte van lig. (366)

In stede van die liefde is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers

Van Heerden was nog altyd gemoeid met die postmodernisme, in sy romans sowel as in sy akademiese werk. In In stede van die liefde word postmodernisme as ’n “tyd van verglyding” beskryf, ’n tyd waarin daar geen vaste grond is nie en wat Christian as opwindend ervaar. Die opwinding van die postmodernisme lê in die besef dat kennis nie vas is nie, dat die maniere waarop ons die wêreld beskryf en die konsepte wat ons gebruik, nie onskuldig is nie, en dat ons daarom kennis en mag kan uitdaag. Deur dekonstruksie kan aangetoon word hoedat sogenaamde feite gemáák word, dat kennis en mag keersye is (mag is nodig om kennis te produseer en kennis gee mag) – dat geen kennis sonder mag bestaan nie en dat die meesterverhale en universele wette nie op vaste grond staan nie.

Reeds in Die biblioteek aan die einde van die wêreld, maar nou ook in Gebeente, word die probleem sentraal geplaas dat postmodernisme nie slegs bevryding van onderdrukkende stelsels bring deur die mag daaragter te ontmasker nie, maar dit ook onmoontlik maak om kritiek te lewer teen byvoorbeeld fopnuus of “alternatiewe feite”. Die wetenskapsfilosoof Bruno Latour redeneer dat die gereedskap van “kritiek” uitgedien geraak het. Dit is aanvanklik aangewend om teen ’n bepaalde “vyand” te veg – die vyand van té geredelike aanvaarding van feite wat geen feite was nie, maar bloot idees wat in stand gehou is deur bepaalde denkrigtings en magte (apartheidsregering, patriargie, kapitalisme). Volgens hom is die probleem dat die wapens wat gebruik is om hierdie vals “feite” bloot te lê, nou net so gemaklik gebruik word om die “feite” bloot te lê wat vir ons almal belangrik is.

Dit is hierdie moedeloosheid om valshede te kan afwys, om te verhoed dat elkeen maar net sy of haar eie waarheid skep en wat uiteindelik gesprek onmoontlik maak, wat die Magistraat tot hierdie versugting lei, tot ’n verlange na vaste grond wat iewers onthul kan word.

Gebeente maak nie (soos Toorberg) gebruik van ’n verskeidenheid stemme om sodoende die enkele meesterverhaal te ondermyn en die bevryding van die onderdrukkende meesterverhaal te vier nie. Daar is geen sprake van ’n blote opstapeling van talle klein geskiedenissies om bevryding te bewerkstellig van die onderdrukkende mag van ’n enkele geskiedenis nie. Die klein geskiedenisse, elke alternatief tot oorheersende idees, word ook ondermyn, is dikwels ooglopend vals, en die dekonstruksie van die meesterverhaal lei nie tot ’n begeerlike, bevryde situasie nie, maar ’n moedeloosheid, ’n uitsigloosheid – die Magistraat sit aan die einde soos Godot en wag op die stasie waarlangs treine nie meer loop nie.

Maar die roman bied meer as hierdie gemoeidheid met postmodernisme. As Gebeente nie ’n literêre prys vir Afrikaans fiksie ontvang nie, sal dit baie vreemd wees. Want bloot die manier waarop Afrikaans in hierdie roman gebruik word, verdien al ’n prys. Dit is verfrissend nuut, soms liries, maar deurgaans vol selfspot en ironie, met die gevolg dat die liriese element nie blote “mooiskrywery” word nie. Ek kan talle voorbeelde gee. Soos hierdie van MaSarge wat met haar polisiemotortjie probeer om wet en orde te handhaaf tydens ’n rumoerige samekoms voor die hofgebou:

Op en af MaSarge se karretjie. Die blou lig gloei en die sirene huil, gedryf deur ’n papperige battery, want soms klink dit meer na die klaery van ’n skaap wat keel afgesny word as die aanmanende stem van die Wet. Maar sodra sy vetgee wanneer die kar se neus deur die skare breek en daar ’n entjie straat oop is voor, tel hy weer stem op en is dit inderdaad ’n loeiende, waarskuwende klank. Dan bo by die drif draai sy om en kom weer aan, sukkelend, toeterend, briek-briek, vetgee-vetgee, deur die malende skare. Op en af, elmboog by die oop ruit sigbaar en krale om die pols, ’n helder blerts wat uitsein: Die lewe gaan voort, ook ná vandag.

Soos sy verbykom, klap die mense gemoedelik hul oop hande teen die bakwerk; sy is hul MaSarge, sy was as jong meisie in die Struggle; sy doen haar bes en is ter wille. (386)

Hofdrama, western, Bybelverhaal

Die roman sluit by verskeie populêre genres aan: misdaadfiksie, die western, maar veral die volksverhaal, mite en sprokie (en die Bybelse Jesus-verhaal).

……..
Gebeente sluit baie opvallend aan by misdaadfiksie: Iets is gesteel, iemand is vermoor, en die skuldiges moet vasgetrek word. Meer spesifiek sluit dit aan by die hofdrama, want die hoofkarakters is die Magistraat en die Aanklaer. Die Aanklaer verras die hof met nuwe inligting op grond van sy speurwerk, later met ’n onverwagse getuie en selfs ’n verdere aangeklaagde, terwyl die verhaal opbou na ’n klimaks van finale afrekening in die hof – alles tipiese kenmerke van die hofdrama.
……..

Gebeente sluit baie opvallend aan by misdaadfiksie: Iets is gesteel, iemand is vermoor, en die skuldiges moet vasgetrek word. Meer spesifiek sluit dit aan by die hofdrama, want die hoofkarakters is die Magistraat en die Aanklaer. Die Aanklaer verras die hof met nuwe inligting op grond van sy speurwerk, later met ’n onverwagse getuie en selfs ’n verdere aangeklaagde, terwyl die verhaal opbou na ’n klimaks van finale afrekening in die hof – alles tipiese kenmerke van die hofdrama. Anders as in sommige “literêre romans” wat speurverhaaltegnieke aanwend, is hier regtig spanning en verrassende wendings in die verhaal – tot heel aan die einde. Uiteindelik is die skuldiges en die misdade wat werklik gepleeg is, ’n verrassing, maar soos dit goeie misdaadfiksie betaam, nie iets wat voorsien kon word nie, maar wat tog uit ’n agternaperspektief heeltemal oortuig.

Foto-erkenning: Steve Buissinne op Pixabay

Die plot van die hofdrama verskaf spanning, maar bied ook die geleentheid om na te dink oor reg en geregtigheid, spesifiek binne die Suid-Afrikaanse verband. Hierdie tema is reeds 40 jaar gelede deur Van Heerden in Toorberg ondersoek, maar denke oor die reg in die destydse apartheid-Suid-Afrika verskil van hoe nou nagedink word oor “gedekoloniseerde reg”. Die Aanklaer en die Magistraat bou onderskeidelik ’n saak op en raak vertroud met die gemeenskap se gevoel van geregtigheid. Die Magistraat se briewe aan sy seun (wat herinner aan Toorberg se Magistraat wat aan sy vrou geskryf het) bied insig in sy twyfel en sy nadenke oor die reg. Hulle al twee praat met mense op die dorp, met die beskuldigdes, met die wetgewende gesag (Burgemeester Moloi) en die uitvoerende gesag (MaSarge), wat moeilik onderskei kan word. Hulle hoor skinderstories en verkry anonieme inligting van informante. Daar word selfs ’n aanslag op die Magistraat se lewe gemaak (met verdere misdaadondersoek oor wie die skuldige daaragter kon wees). Uiteindelik stuur alles af op die finale hofsaak wanneer die hofsaal vol is en ’n skare buite saamdrom met kruise – gereed om die beskuldigdes te kruisig, terwyl die “boendoehof” se vragmotor met buitebande agterop ook voor die hof geparkeer staan.

Gebeente sluit ook by die western aan (nie vreemd in Van Heerden se oeuvre nie – in Kikoejoe was daar ook talle verwysings na westerns). Nie slegs herinner die slot aan die “showdown” in die cowboyfliek nie, die Aanklaer met sy Stetsonhoed wat almal met sy Clint Eastwood-skrefiesoë ontsenu en wat alleen die dorpie binne ry en aan die einde weer alleen wegry, wat gefokus en gedug sy stryd teen boosheid voer, is ook tipies van die western. Die idee dat die Klipvlak ’n soort Wilde Weste is, ver van die plekke waar gewone wet en orde geld en mense die reg in eie hande moet neem omdat die ander lande (ou Rome) en plekke (Kaapstad) se wette nie geldig kan wees in hierdie uitsonderlike plek nie, word telkens beklemtoon. Spanning bou op na die finale afrekening, maar dan volg nog verrassings en ’n melancholiese slot wanneer die Aanklaer en die Magistraat, die twee buitestanders, weer die dorp verlaat. (Die cowboy ry immers aan die einde weg in die sononder.) ’n Wending aan die einde kompliseer egter die gemak waarmee in die tradisionele western met boosheid afgereken word, en Div se wegry (in sy skilpad – ’n Citroën) is nie heeltemal dieselfde as Clint Eastwood s’n op ’n perd nie.

Soos nou al duidelik uit die bespreking hier bo blyk, sluit die verhaal van Jisses Losper ook ten nouste by die Bybelse Jesus-verhaal aan. Die aangeklaagde heet immers Jisses en sy ma, Altydoopvygie, word die “Karoomaria” genoem. Jisses word op die ouderdom van 33 jaar van verskeie misdade aangekla – wat, soos die klagtes deur die Jode teen Jesus, nie berus op ’n werklike misdaad nie, maar op uitsprake wat hy sou gemaak het tydens sy “predikasies”. Hy ry Gebeente op ’n skutdonkie binne; hy word deur sy vriend Wolraad verraai; en mense vra dat hy gekruisig moet word. Hierdie ooreenkomste met die Jesus-verhaal lei tot ’n nou verband met die sondebokmite.

Die antropoloog René Girard het die sondebokpraktyk in talle gemeenskappe – van die Antieke tyd tot nou – beskryf. Van die oudste opgetekende voorbeelde is uit die Antieke Griekse wêreld (vertellings van die Pharmakon). In ’n gemeenskap waar iets fout is, waarin dinge skeefloop, is ’n persoon van baie lae sosiale stand (’n lelike man of vrou) uit die gemeenskap uitgejaag, met takke geslaan en onder die klippe gesteek. Saam met die persoon wat so uit die gemeenskap verdryf word, verdwyn dan die skuld van die gemeenskap en word dit wat as bedreiging vir die gemeenskap ervaar is, herstel. In die Bybelse weergawe (Levitikus 16) word twee boklammertjies geneem; die een word aan God geoffer en die ander een word met die hele volk se sonde belaai en dan in die wildernis ingejaag. Laasgenoemde is die sondebok – wat die sonde uit die gemeenskap met hom saamneem sodat die volk, nou van die skuld bevry, voorspoedig kan wees.

Volgens Girard tel sondebokrituele onder die oudste rituele, en die doel daarvan is suiwering. Wanneer ’n krisis in ’n gemeenskap ontstaan (ekonomies, polities, sosiaal), word ’n persoon of ’n minderheidsgroep in daardie gemeenskap die skuld gegee. Mense neem nie skuld op hulself nie, maar soek na iemand anders om te blameer – gevolglik is daar deur die eeue talle heksejagte, pogroms, ketterverbranding en Vrymesselaarsvervolging opgeteken. Ten einde hierdie mense te kan vervolg, moet daar bewys word dat hulle as skuldig aan misdade beskou kan word – gewoonlik baie ernstige, maar in talle opgetekende gevalle verregaande misdade (soos ook in die geval van die Diefstal van die Melkweg). Die doodmaak of verjaging van hierdie sondebokke lei dan tot ’n herstel in die sosiale orde.

René Girard is gemoeid met die verskynsel van geweld en probeer dit verklaar. Volgens hom word ’n gemeenskap deur begeerte gedryf: Mense wil altyd hê wat ander mense het. Dit lei uiteindelik tot geweld. Die dood van ’n sondebok kan dan hierdie grootskaalse geweld voorkom.

In Gebeente is daar duidelik ’n krisis in die gemeenskap waarna uitdruklik verwys word as die “Tyd van die Skrik” (188) – ’n tyd van misdaad wat met grafiese besonderhede beskryf word:

Sien, dis die Tyd van die Skrik, met karre wat in die nag in neutral afgeswitch bultaf rol, na die opstal in die vallei. Karre met deure wat saggies oopswaai en gerookte oë wat die swart skaduwee van die boerboel dophou soos hy die lug snuif en onrustig heen en weer teen die ogiesdraad draf. Hoor daai dierasie se pote knars oor die grasperke se kikoejoe.

Gooi vir hom die gifgesmeerde skaapkop, flussies nog daar by die draad afgesny, met die inkom. Warm bloed spat oor jou voorarm soos jy swaai en jy kyk hoe die kop op die gras hop. Die res van die skaap, ’n dragtige ooi met ’n nek wat nog bloed lek, is in die kattebak.

Julie is die maand van die opstal wat lig uitstraal en die donker stoepe onder die veranda en die uil op die skoorsteen, die silhoeët van die bloekomboom wat lyk op ’n kraak in ’n maanverligte muur.

Later met die wegry kyk jy terug na die brandende opstal. Alle bewyse gaan in vlamme op: die dooie skuimbekboerboel by sy agterpote die opstal ingesleep. Die warm strykysters waarmee die oumense se sagte blaaie en pensvelle gestryk is, die twee dooies met presdraad verwurg, die oopgekoevoete kluisdeur wat hang aan sy skarniere want die ouman het tot by sy dood die kaak geklem.

Dit gloei agter jou; ’n vuurspuwende krater wanneer die gasbottel in die kombuis ontplof.

In die donker vallei, ’n poel vuur. (188)

Hierdie “Tyd van die Skrik” word in die tweede persoon beskryf, wat ’n soort aandadigheid van die leser suggereer – almal het deel aan die tyd van krisis.

Die krisis word ook op baie ander maniere betrek deur aktuele verwysings (“Maar, my antie, die regering deliver nie en die plaasmense kry swaar”, 184). Die krisis is die armoede in die gemeenskap – agtergelaat en hopeloos word diens nie gelewer nie; die paaie verswak; die treinstelsel stort in duie weens korrupsie sodat die padvervoer waarby ministers voordeel trek, die plek van spoorvervoer kan inneem; die toerisme droog op. Dan word boonop moord gepleeg in die omgewing. Die burgemeester (Moloi) en die polisiesersant (MaSarge) beywer hulle vir die vinnige skuldigbevinding van Jisses. Hulle dring daarop aan dat die Magistraat die voor die hand liggende moet doen en Jisses skuldig moet bevind. Die aanklagdossier wat hulle aan Div voorlê, bevat inderdaad dan (soos Girard aandui) die soort beskuldiging wat histories aan sondebokke gekoppel word – iets buitensporig (“Diefstal van die Melkweg”) – en dan word ander konkrete misdade (soos plaasmoorde) aan Jisses en Wolraad gekoppel sonder enige konkrete bewyse. Die sondebokke (Jisses, Wolraad) beklee, soos Girard se navorsing oor sondebokke aantoon, ’n lae sosiale posisie in die samelewing (weeskinders, vreemdelinge) sodat hulle ongewreek gestraf kan word. Wolraad is bewus hiervan:

“Ons is alleen en voëlvry hier. En jy’t gehoor wat Gert Sening kom waarsku het: Die hele dorp kyk nou hierdie kant toe en hulle gaan sê: Voor die aankoms van daardie twee aardwolwe was die Vrylopers lewendig. Nou is die Vrylopers dood. Waarmee het ons begin, waarmee het ons geëindig? Daai twee vinke wat daar aan die kwarrie se riete hang, dis hulle.” (191)

Dat Moloi en MaSarge betrokke is by die aanwysing van die sondebok, is veelseggend. Hulle is welvarend in ’n gemeenskap wat deur armoede en gebrek gekenmerk word. Klem word telkens gelê op Moloi se rykdom, baie sigbaar bo teen die bult (onder meer bekom deur betrokkenheid by tenderpreneurskap met die lê van veselkabel na die dorp – “Die Vonkpyp” – en sy betrokkenheid by skaliegasontwikkeling). Moloi en MaSarge benodig dus ’n sondebok om die geweld teen iemand anders as hulle te rig. Deur die gemeenskap in die skuld van Jisses te laat glo, kan die krisis afgeweer word en die orde herstel word.

Uiteindelik word die mite ontmasker. Div konfronteer die Magistraat met die feite wat hy opgespoor het wat die hele mite van maagdelike geboorte en verlossing as bedrieëry blootlê; al die aanklagte oor plaasmoord en Diefstal van die Melkweg word as “’n Hele mitologie” blootgelê (358), as “’n Romantiek” (359).

Gevolglik is daar ook geen manier waarop ’n ritueel ’n einde kan maak aan die krisis en die geweld nie. Geen simboliese daad kan die probleme oplos nie.

Magiese realisme

……..
Dit is van die begin af duidelik dat Van Heerden met hierdie roman terug is by die magiese realisme waarmee hy so suksesvol was in romans soos Toorberg en Die swye van Mario Salviati.
……..

Dit is van die begin af duidelik dat Van Heerden met hierdie roman terug is by die magiese realisme waarmee hy so suksesvol was in romans soos Toorberg en Die swye van Mario Salviati. Kyk maar net na hierdie toneel:

So staan hy hierdie oggend in Huis Suiderkruis se voorportaal, op die drumpel, en luister na die hinkstap van die Landdros soos hy uit sy kamer kom en voordeur toe stap.

“Imker, goeiedag.”

“Div. Goeiemôre.” Die Magistraat bly stap.

“Is alles wel?” probeer Div hom keer.

“Vasstaan, Div,” sê die Magistraat en stap by Div verby, te swaar vir sy eie skaduwee, wat daar oor die stoep bly lê nadat hy al by die voorhekkie uit is en Div laat voel hy staan kniediep in ’n poel donker water.

Die skadu reik tot hoog op sy maermerries, sien Div. En dink: Die Magistraat se skaduwee – dis waarbinne ek staan.

En ek sink. (241)

Hierdie soort magiese realisme laat ’n leser verwonderd, maar dit is tóg op ’n manier logies verklaarbaar as ’n soort uitdrukking van hoe die Landdros vir Div laat voel. Die magiese element – iemand wat sy skaduwee soos ’n donker poel water agterlaat – kan bloot as ’n kreatiewe beskrywing van die realiteit beskou word – ’n metafoor.

’n Ander bekende greep van magiese realisme sien ons wanneer afgestorwe karakters tussen die lewendes voorkom en hulle teenwoordigheid as normaal ervaar word. In Gebeente word vertel van die leier van die eerste wetenskaplike ekspedisie na die dorp, die Nederlander De Geest wat in 1883 met ’n teleskoop na Gebeente gekom het om die Venusverbygang waar te neem (wat losweg aansluit by die werklike geskiedenis toe verskeie ekspedisies na uithoeke van die wêreld gestuur is ten einde die rare verskynsel van die Venusverbygang waar te neem om afstande in die sonnestelsel te bepaal). De Geest maak egter in 2023 sy opwagting in die hofsaal waar hy deur Altydoopvygie en die Magistraat opgemerk word. Hierdie bekende truuk van die magiese realisme dien hier ook, soos in die meeste ander magies-realistiese romans, om aan te toon hoedat die verlede onafgehandel is, hoedat Europese kolonisering nog onafgehandel is. Die feit dat De Geest juis ’n wetenskaplike was, is ook hier belangrik, omdat die roman nie slegs met die sosiale en politieke gevolge van kolonisering gemoeid is nie, maar ook met die rol van die wetenskap en wetenskaplike kennis in kolonisering.

Die magiese neem ook ’n radikaler vorm aan wanneer aangesluit word by fabulistiese fiksie. Fabulistiese prosa is ’n genre waarin elemente van ’n fantastiese vertelvorm (sprokie of volkslegende) in ’n realistiese ruimte ingesluit word. Deur gebruik te maak van tradisionele volksverhale, mites of sprokies en deur die argetipes wat daarin voorkom in ’n kontemporêre werklikheid te plaas, word probleme in ons eietydse wêreld ondersoek. Die vertroude plot van die sprokie of mite in ’n verwikkelde eietydse werklikheid maak dit moontlik om hierdie werklikheid te stroop van al die besonderhede en ingewikkeldhede sodat die aandag gevestig raak op die groot vrae van die lewe waarmee sprokies of volksverhale gemoeid is (’n stroping wat deur die dorpsnaam en titel van die roman gesuggereer word).

In fabulistiese vertelling word die magiese nie bloot binne ’n deadpan realisme geplaas soos in die voorbeelde hier bo nie, maar elemente van die sprokie / mitiese vertelwyse word binne ’n realisties herkenbare werklikheid aangewend. Deur die fabulistiese vertelwyse blyk elke karakter (’n ongehude moeder wat deur die pa van haar kind ontken word en sukkel om vir haar kind te sorg; sterrekundiges wat waarnemings oor die ruimte maak; ’n arm kind wat diesel uit vragmotors steel en verkoop; boere wat die familieplaas teen elke prys wil behou; ’n landdros wat reg wil spreek en ’n aanklaer wat sy sake wil wen; ’n Karooboer wat hom verset teen skaliegasontginning; ’n burgemeester wat geldmaakgeleenthede soek) nie alleen met sy of haar eie klein worstelinge besig te wees nie, maar is elkeen gemoeid met die Groot Vrae oor die lewe. Die eenvoud van die sprokie (goeie en bose magte teenoor mekaar) word gebruik om ’n eenvoudige verhaal, makliker verstaanbaar, eenlynig, uit die komplekse werklikheid te maak.

Foto-erkenning: Rene Tittmann op Pixabay

Al bogenoemde vorme van magiese realisme het ’n skokeffek op die leser. Die herkenbare werklikheid van ’n post-Covid wêreld wat nog nie ekonomies herstel het nie, van kaderontplooiing en magsmisbruik, van regstellende aksie en die stroping van staatsbates, rampokkery, beurtkrag, dienslewering wat in duie stort, plaasmoorde, tenderpreneurs wat met “kadergelag hulle eie onbeholpenheid verdoesel” terwyl boere dreigend op bakkies met gewere rondry en polisie hulle skuldig maak aan geweld, word nie met ’n realistiese vertelstem weergegee nie. Eerder word aangesluit by die volksverhaal wat sprokiesagtig uit die volksmond kom om ’n makliker greep op die komplekse werklikheid te kry.

Die vertelling uit volksmond sluit op klein skaal hierdie fabulisme in, soos wanneer die ontsnapping van Jisses en Wolraad uit die polisie se hande in Wolraad se weergawe baie realistiese besonderhede bevat maar terselfdertyd ook by die magiese aansluit:

Jisses se kop slaan magtig aan die brand en toe Veiligheid se manne nog soek na goiing of water om die vlam om sy slape te blus, toe baklei daai twee wese uit Huis Sorgsaam hul pad oop met die jujitsu wat hulle daar in die weeshuis geleer het. Jy vat ’n man só aan en jy vou hom só en jy skuif jou skouer nou hier in, blitsig. Só en só en jy gooi hom lekkerkry klaarkry dáár en dan watwo. Disnis gejudo en sommer gekarate ook is die duusmanne van Veiligheid en daar wip die wit karretjie met Operateur Wolraad agter die stuur en jy sien net stof staan soos hy esse gooi oor die jaart tussen die treine en daar gaat hulle Touwsrivier se straat af en by die En Een swaai hulle Kaap toe en hulle is die Du Toitsklooftonnel in ’n japtrap deur en voor jy jou oë uitvee, was hulle buite sig en verlore op die Cape Flats. Die karretjie van Veiligheid wat binne na skrik en Jisses se swaelkop ruik, is na ’n chop shop en hy ry vandag nog oral rond, hy’s net verdeel in veertig parte, hier sit ’n stuurwiel in ’n lorrie, daar sy bumper op ’n kar, anderkant hang sy exhaust onder ’n lorrie. Hier sy enjinblok in ’n Toyota, daar sy carburettor in ’n Sierra. En so aan. (265–6)

Wanneer Wolraad hierdie weergawe van hulle ontsnapping aan Div vertel, eindig hy met die woorde: “… dis als die reine waarheid.” Hy wys Div sy voorarms. “Kyk, ek kry skoon hoendervleis van die wáár” (267).

Die vereenvoudiging van die verhale in volksmond word egter komplekser gemaak deur verskeie teenstrydige weergawes van een gebeurtenis te gee. ’n Hele gemeenskap vertel saam aan die verhaal en soms word na die lesers verwys as die “Agternakykers”:

Die arrestasie van Jisses Losper is antichristelik, onMaan, boonop onmenslik, rof en slordig. Amateuragtig. ’n Skande!

Ander meen: Hoog tyd. In diens van suiwer teologie moet hy uit die samelewing verwyder word. Ons is moeg vir die kierang en pandoerdery.

Soveel mense, soveel menings. (196)

Vertelling word ook gedurig geknoop aan kommentaar: “so sê hulle” – wat die mondelinge oorlewering geloofwaardig maak en die verteller se geloofwaardigheid bevestig – ek vertel immers maar net wat ek gehoor het – soos ’n skinderstorie – maar dan is die skade aangerig en die vertelling en die verbeelding wat daarmee gepaard gegaan het, kan nie weer onverbeel word nie, kan nie weer onvertel gemaak word nie. ’n Goeie voorbeeld sine ons wanneer Altydoopvygie in die hof hoor dat Wolraad Woltemade staatsgetuie word:

Daar spring Altydoopvygie op van waar sy – so vertel sy agterna want gewone mense sien hom mos nie – heel agter langs die dooie witbaard-sterrekyk-Professor gesit het. Sy hol dwarsdeur daardie Hollandse Professor (sê hulle) en sy’s by die hof uit en, soos dit later vertel word: “Sy besôre Gilstraat sy naam terug.” (288)

Dit word gevolg deur die verduideliking dat die Magistraat die Aanklaer lank stip aangekyk het en tot ’n groot-groot besef gekom het. “Dit is ’n besef wat ons later in hierdie verhaal in die oë sal moet kyk, want dit is ’n besef wat die wind laat draai en die son twee keer laat knip, so waar as rein” (288). Hierdie herinnering dat hulle karakters in ’n verhaal is, is tipies van postmodernistiese fiksie. Magiese realisme en postmodernisme word dikwels aan mekaar verbind.

Die skokeffek van absolute wreedheid van ’n plaasmoord, of die gruwelike armoede en swaarkry binne ’n soort ligte-trant-volksverhaal of sprokiesagtige vertelling is skokkend, maar dit maak nooit die realiteit ligweg af nie, omdat die fabulistiese dien om deur te dring tot die groot vrae agter die skreiende realiteit – vrae oor hoe die werklikheid verstaan word – hoe sin gegee word aan bestaan in hierdie harde omstandighede van armoede en misdaad. Die misdaad wat die meeste aandag ontvang, is “Die Diefstal van die Melkweg” – wat op verskeie maniere geïnterpreteer kan word – Div maak, getrou aan sy positivistiese poging om alles eenvoudig soos ’n cowboy op te los, die afleiding dat die klag ontstaan het nadat die biblioteekjuffrou vir die skoolkinders vertel het dat die sterre van die Melkweg wat ons saans sien, al uitgebrand het en dat bloot die lig nog na ons op pad is. Die sterre self is dus nie meer daar nie. Die kinders (en hulle ouers aan wie hulle dit oorvertel) kom tot die gevolgtrekking dat die sterre gesteel is, want as iets weg is, is dit immers gesteel. Die klag van Diefstal van die Melkweg strek egter verder as hierdie praktiese verklaring. Mense kon altyd opkyk na die sterre en hoop vind. Maar in die huidige omstandighede is hulle hoop weg. Die regeringskorrupsie, die onvermoë van die staat om dienste te lewer en gewone burgers se lewens te verbeter, het hulle van hoop beroof. Die soeke na geregtigheid gaan eintlik daaroor.

Die fabulistiese vertelwyse bied vir die leser ’n vertroude, eenvoudige vorm – ’n volksverhaal, sprokie of mite – binne die huidige realiteit. Die ingewikkeldheid van die huidige realiteit word gestroop sodat die argetipes van die sprokie of mite duidelik kan uitstaan. Op dié wyse word ’n komplekse en onverstaanbare realiteit tot ’n begrypbare waarheid herlei. Maar byna onmiddellik word hierdie pogings ontmasker as oorvereenvoudiging. Daar is gewoon te veel teenstrydighede en verwikkeldheid in die werklikheid om deur ’n eenvoudige verhaal sin daarvan te maak.

Wetenskap

Die roman is egter nie slegs met die folkloristiese mitologie gemoeid nie, maar ook met die wetenskap. Die Oog, die teleskoop buite Gebeente, speel deurgaans ’n sentrale rol – dit is die plek waar die eerste Hollandse ekspedisie in 1883 hulle waarnemingspunt opgestel het om die Venusverbygang waar te neem. Die doel daarvan was om afstande in die ruimte deur noukeurige waarneming te help bepaal. Telkens deur die roman word verwys na die “Tjank van die Oog” – die geluid wat die teleskoop maak as daaraan verstel word – ’n geluid wat oral gehoor word. Die Oog word gebruik om na die verlede te kyk – soos wat alle teleskope eintlik die verlede in kyk omdat die lig wat aankom, lank reeds op pad is. Simbolies is die Oog dus ’n verbintenis met die verlede – die kolonisering deur Europeërs wat hulle beskouing van die sterre hierheen gebring het en die Boesmangids, wat baie verhale oor die sterre gehad het, se verhale geïgnoreer het en hom later begrawe het.

Die Oog staan simbolies egter ook vir die wetenskap. In Jisses se lang toespraak wanneer die Alibamas-bende die teleskoop wil steel en vir skrootmetaal wil verkoop, word hierdie verband eksplisiet uitgedruk:

Jisses staan op van die klip waar hy gesit het. Hy stoot Wolraad saggies eenkant en strek sy rug regop. “Hoor julle nou die Seun van die Klipvlak aan,” sê hy in daardie stem van hom wat jou laat dink hy drink elke môre ’n koppie lou heuning. “So waar as wat die Vader die sterre oor die uitspansel gestrooi het, en so waar as wat hy die Eerste Mensies na sy gedaante geskape het, hoor my aan: Die een wat sy regterhand na die Oog lig, sal nie net die Misdaad van die Regterhand begaan en die Toorn ontlok nie, maar hy sal nooit deur die Karoopoort kan teruggaan nie. Die Kaapse weivelde sal van hom weggeneem word en hy sal lê by die Kwaad. Hy sal die Ewigheid verbeur.

“Want as ons die Oog verloor, verloor ons die Opkyk. En dan is al wat oor is, die Groot Alleen. Hoor julle nou vir die Seun aan. Gaan in vrede en verlaat die gemeente van Gebeente.”

“Amen,” sê Wolraad. En Jisses gooi nog by: “Daai Oog kom uit die kwarrie. Hy’s meer gravel as yster. Min skroot vir al jul troubles.”

Wolraad val agter Jisses in: “Kom, kom, julle moet ry voor die son julle op Du Toitskloof vang. Daar’s altyd vroeë patrollie by Paarlberg se kant. Julle moet deurkom voor dan.”

Nou ja, vertel die mense, só het Jisses die Oog vir die dorp gered en die stryd teen Blind gewen. “Die mens sal siende bly,” was glo sy laaste woorde, maar of hy só ver gegaan het, is nie bevestig nie en nou raak dit darem te dik vir ’n daalder, nie waar nie? Mense was net dankbaar dat die Oog vir die wetenskap behoue gebly het, en dalk ook vir – as dinge die dag beter gaan – vir daardie ánder wiggelary, die toerismebedryf. (179)

Benewens die selfbewuste klem wat op die vertelwyse val – die kommentaar dat “dit darem te dik vir ’n daalder” word, is dit ook belangrik dat Jisses hier as “profeet” verduidelik dat die Oog, die wetenskap, belangrik is om te keer dat mense blind word – die wetenskap staan in stryd teen “Blind”. Maar die wetenskap en die volksvertelling is ten nouste vervleg.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers

Allegorie

Soos uit die twee voorbeelde van die sondebokmite en die wetenskap hier bo blyk, bied Gebeente verskeie moontlikhede vir allegoriese interpretasies. Uiteindelik is dit onvermydelik dat ’n mens Gebeente binne die konteks van die allegoriese sal lees. Die leser word as’t ware genooi om die dorpie Gebeente as ’n simboliese weergawe van Suid-Afrika te sien (oorweldigende gaping tussen ryk en arm, Eskom, korrupsie, misdaad, plaasmoorde, tenderpreneurskap, “kadergelag om eie onbeholpenheid te verdoelsel”, infrastruktuurverval, dekoloniseringsgesprekke, tegnologiese ontwikkeling – met koms van die “Vonkpyp”, die internet – die uitbuiting van die omgewing, asook verval van geloof in die reg en die Grondwet, selektiewe beskouing van die verlede) en om verbande tussen die karakters en aspekte van die Suid-Afrikaanse werklikheid te lê. Die name en titels van karakters wil hulle soms oënskynlik juis reduseer tot allegoriese tipes: die Aanklaer, die Magistraat, die Burgemeester, Karoomaria, Jisses.

Allegorie is ’n vorm van storievertelling waarin karakters, gebeurtenisse en simbole met meer betekenisse gelaai word as slegs dit wat hulle in die verhaal self het. ’n Oorvereenvoudigde verwagting dat elke literêre teks eintlik ’n allegorie is, ’n verhaal met ’n “dieper” betekenis, dat ’n mens een-tot-een verbande tussen elemente van die verhaal en die werklikheid kan aantoon, word meestal in literatuurstudie afgewys. Die probleem is dat sulke allegoriese interpretasies te maklik kan lei tot willekeurige en moeilik begrondbare interpretasies – soos dat die Bybelse Eksodusverhaal gelees word as die verhaal van die Afrikanervolk wat uit die Britse slawehuis uitgelei word na die land wat deur God aan hulle belowe is. Hierdie soort allegoriese interpretasies word geassosieer met die Middeleeuse allegorie waarin daar op eenvoudige wyse tussen twee vlakke, ’n letterlike en ’n allegoriese, onderskei word.

As ’n mens Gebeente op hierdie manier allegories sou lees, sou mens byvoorbeeld kon aandui dat gebeurtenisse soos Jisses se “maagdelike” geboorte in Gebeente; sy eerste woord, “Pappa”, wat hy uiter as hy die hemelruim deur die teleskoop inkyk (en dus sy hemelse vader raaksien); sy terugkeer na die dorp op ’n donkie; sy hardhandige gevangeneming, sy lyding en mense se eise dat hy gekruisig moet word (nogal saam met twee ander – Wolraad en die Malawiër) sonder dat hy homself verset of verdedig; en talle ander gebeurtenisse op verhaalvlak, die letterlike betekenis is. Wanneer verbande dan gelê word tussen hierdie gebeurtenisse en die Bybelse Jesus se geboorte en lyding, wat tot verlossing lei, ontstaan die allegoriese interpretasie. So ’n interpretasie sou daartoe kon lei dat die Jisses-verhaal (en selfs die roman) beskou word as ’n noodsaak vir ’n Verlosser om ons uit ons ellendige bestaan te kom verlos, of dat ’n sondebok nodig is om vrede in die samelewing te bewerkstellig. Dit is egter interpretasies wat nie eenduidig uit die teks gemotiveer kan word nie en wat eintlik die interpreteerder se ideologie blootlê, eerder as dat dit veel oor die teks sê. Om hierdie rede word dergelike allegoriese interpretasies meestal in die literatuurondersoek verwerp.

Allegorie sluit egter meer in as bloot die (Middeleeuse) lê van verbande tussen ’n gewone verhaal van mense op aarde en mitiese verhale oor gode. Allegorieë maak ook van simbole en metafore gebruik om aan abstrakte konsepte en filosofiese idees uitdrukking te gee. Daarom bied die allegorie nuttige gereedskap om eietydse sosiale, politieke en filosofiese sake op indirekte wyse te ondersoek. Deur die uitdrukking van hierdie gebeurtenisse of idees in simboliese vorm word moontlikhede oopgemaak om daaroor na te dink. Deur gebruik te maak van sulke simbole en argetipes wat abstrakte idees verteenwoordig, kan aspekte van hierdie idees van verskeie kante af binne ’n verhaal ondersoek word – daarom het Paul Ricoeur na letterkunde verwys as die “laboratorium van die geesteswetenskappe” – idees kan getoets word en die implikasies daarvan deurgevoer word in moeilike situasies. Op hierdie manier kan ’n allegoriese lesing van Gebeente aanleiding daartoe gee dat Jisses se predikasies teen Maan uit ’n ekologiese hoek geïnterpreteer word as verset teen skaliegasontwikkeling in die Karoo. Ook kan Moloi se opulente rykdom en selftevredenheid aan die regerende ANC gelykgestel word en MaSarge as simbool van ’n korrupte polisiemag en as verteenwoordiger van “bubblegum-dekoloniseringsteorie”. Magistraat Goedeman word dan die verteenwoordiging van die (goeie, onafhanklike) regbank.

Dit is duidelik dat die allegoriese op hierdie manier in Gebeente ingespan word. Die botsing tussen Div en Imker (as ’n wit man teenoor ’n bruin man) bied geleentheid vir ’n allegoriese ondersoek van skuld en die verwerking van skuld asook die moontlikheid van vergifnis. Skuld word nie slegs op politieke vlak bedink nie, maar ook op persoonlike en psigologiese vlak – veral die skuldgevoel wat Div ervaar teenoor die meisie wat hy in sy jongdae op ’n piekniek geneem het.

Terwyl Gebeente om hierdie soort interpretasies vra en inderdaad aan die leser maniere bied om oor ons eietydse werklikheid en die historiese aanloop hiertoe na te dink, en dit moontlik maak om sekere verbande raak te sien en implikasies wat tot ander insigte kan lei (oor byvoorbeeld die regstelsel), is dit gou duidelik dat hierdie soort interpretasies nie ál is waarom die roman gaan nie.

Hierdie soort allegoriese interpretasies word op veral twee maniere as ongenoegsaam blootgelê. Eerstens is daar op verhaalvlak vir elk van hierdie allegoriese interpretasies gewoon te veel inligting in die roman, te veel teenstrydighede wat dit onmoontlik maak om ’n eenduidige, samehangende allegorie te interpreteer. Die leser moet ’n groot klomp inligting – gebeurtenisse op verhaalvlak – ignoreer ten einde hierdie soort allegoriese interpretasies te voltrek. Te veel dubbelsinnighede bestaan.

Tweedens, en veel belangriker, daag die selfbewuste klem op die vertelvorm maklike allegoriese interpretasies uit. Fredric Jameson lê in sy ontleding van die verband tussen allegorie en ideologie die klem op nie alleen die inhoudelike van die allegorie nie, maar ook op die vorm. Deur die allegoriese vorm selfbewus op die voorgrond te plaas in Gebeente word die idee van allegorie, die effek van allegoriese beskrywings en interpretasies van ons wêreld, en uiteindelik die ideologiese implikasies daarvan, beklemtoon.

Soos reeds aangetoon, oorheers die magies-realistiese vertelmodus in Gebeente. Eenvoudige verhaalvorme (volksvertelling/mite/sprokie) word selfbewus gebruik – maar eerder as dat hulle ’n maklike greep op die komplekse realiteit gee soos wat gewoonlik aanvaar word die doel van fabulistiese fiksie is, blyk dit hier dat hierdie vorme onvoldoende is om die werklikheid genoegsaam vas te gryp. Die vereenvoudiging wat dit veronderstel is om te bring, is eintlik ideologie. (Jameson definieer ideologie as ’n verbeelde idee van ons lewenswêreld.) Die mitiese vertellings (sondebokmite), oorgelewerde wysheid (Romeins-Hollandse Reg), sowel as die wetenskap (astronomie) kan telkens bloot ’n klein en onvoldoende greep op die komplekse werklikheid gee. Elke nuwe verhaal wat aangebied word, elke nuwe vorm wat gebruik word om die werklikheid weer te gee, elke representasie, blyk onvoldoende te wees:

Hierdie False Transit of Venus is ’n storie! Wónderlik dat hulle toeriste inbring! Vir Div: net weer ’n aanmaning: In hierdie wêreld bie storie teen storie. Jy dag jy sien die aandster, maar wag! (252)

In Gebeente gaan dit egter nie oor die ontmaskering van die representasie as onvoldoende nie, dit gaan daaroor om aan te dui waar daardie representasie, as ’n seepgladde vermyding van kompleksiteite, vandaan kom – wat die ideologie is wat dit moontlik maak. Sodoende is dit representasie self wat deur Gebeente ondersoek word. Elke vorm wat aan vertellings gegee word, elke plotstruktuur, elke wetenskaplike verklaring laat mens aanvanklik dink jy sien die Aandster, maar uiteindelik bied dit geen volledige greep nie.

Die vertelwyse maak op selfbewuste wyse die leser van die probleem van representasie bewus. Elke weergawe is slegs nóg ’n storie. Die ontmaskering van die “feite” daaragter, die blootlê daarvan as romantiek – soos wat Div doen – lei nie tot ’n heldhaftige oorwinning van die waarheid of die feite oor die mite nie. Die beeld van die miershoop wat deur die “kleinkomeet” uitmekaargeskiet word, is in hierdie verband belangrik. Die miershoop word deur klein stukkies modder opgebou, maar dan op een slag deur ’n komeet uitmekaargeskiet. Op soortgelyke wyse voorsien Altydoopvygie al aan die begin van die roman dat Div die miershoop gaan “uitmekaarblaas” (32). Dit is veelseggend, omdat daarmee ook ’n ander ideologiese benadering blootgelê word. Heel dikwels word aangeneem dat wanneer soveel moontlik beskrywings en weergawes, soveel moontlik verhale saamgevoeg word, daar deur alles saam tóg ’n geheelbeeld gevorm kan word.

Maar ook, sou ons, die Agternakykers, kon sê: Ja, elke ou storietjie is ’n lekseltjie modder wat deur ’n miertjie neergesit word en stadig bou die miere hul miershoop en ten slotte is dit ’n vaste, gladde struktuur. Ondeurdringbaar soos die bergskilpad se dop.

Ondeurdringbaar, ja. Maar net totdat die kleinkomeet op die mierhoop val en die hele storie uitmekaarskiet – iets wat volgens oorlewering hier gebeur het en waarvan ons die getuies is, hier en nou. (286)

Die vertelling in Gebeente betrek deurgaans die leser, soos in hierdie aanhaling, as een van “ons”, as ’n getuie tot wat in die roman gebeur. In die roman word talle klein verhaaltjies vertel, dikwels teenstrydige weergawes van dieselfde verhaal, voortdurend stories gegrond op “wat die mense later sou sê” of wat later onthou sou word. Hierdie verhaaltjies word soos klein korreltjies modder neergelê, maar die waarskuwing is dat die uiteindelike miershoop nie ’n volledige weergawe kan wees nie. Ook dit word weer uitmekaargeskiet. Maar wanneer Div die romantiese weergawes as blote romantiek ontbloot, maak dit ook nie al die vertellings skielik ongedaan nie. Dit is onmoontlik om ’n enkele sluitende verhaal oor die wêreld te maak, om iets aan te bied wat sin aan alles kan gee – nóg godsdiens (Bybelverhaal), nóg wetenskap (die Oog), en ook nie oorgelewerde wysheid (Romeins-Hollandse wette) of filosofiese refleksie kan ’n finale greep bied, kan ’n seepgladde verhaal aanbied wat alles omvat nie. Wanneer so ’n gladde verhaal aangebied word, is dit ’n ideologie, volgens Jameson. Ideologie ontstaan wanneer al die ingewikkeldhede agter ’n gladde verhaal verberg word.

Die oorlewerings in die volksmond, die wetenskaplike toets van die feitelikheid daarvan, die mites wat veronderstel is om singewend te wees, en selfs die positivistiese wetenskapsbeoefening is individueel almal ideologies, omdat elkeen ’n klomp ongelykhede uitstryk, sekere inligting ignoreer ter wille van die weergawe.

’n Ideologie is ’n verbeeldingryke oplossing van teenstellings. Wanneer die teenstrydighede van die lewe, wanneer die politieke gesien word in eenvoudige sintese seepgladde stories, is daardie stories ideologie. Swak allegorie is gemaklike stories wat die werklikheid probeer weergee in gemaklike veralgemenings, verbeeldingryke verhale wat as omvattend en finale verduidelikings of verklarings voorgehou word. Goeie allegorie weier volgens Jameson sulke maklike oplossings en harmonie. Goeie allegorie merk ’n krisis in ideologiese representasie; dit lê die fiksie van harmonie bloot.

In hierdie opsig is Gebeente ’n goeie allegorie, aangesien dit nie verval in ’n sluitende allegoriese lees wat eintlik bloot ideologies is nie.

Die slot bring geen sintese nie. Die Magistraat probeer vertrek, maar is op pad na nêrens (die nuwe taal val vreemd in sy mond). Die aanklaer is op pad na nêrens. Hulle is al twee oud en afgeleef, hulle tyd verby. Geen jonges neem hul plek in nie. Die Burgemeester en die Sersant verteenwoordig ’n nuwe orde wat voorgee om namens die mense te praat, maar wat ver verwyderd van hulle is.

Die vorm van die Jesus-verhaal van verlossing word as onbevredigend blootgelê. Daardie interpretasie van ’n sondebok wat geoffer kan word, of ’n redder wat leiding kan gee, word aangebied, maar as nievoldoende ontmasker. Die maklike lees van allegorie van ’n Jesus-verhaal in die Karoo met Maria blyk selfs al vir die Magistraat en Aanklaer onwaarskynlik.

Gebeente ontmasker nie slegs al die vertellings as ideologie nie, maar ook die idee dat die kritiese analise van elke vertelling, van elke weergawe ons kan bevry van onderdrukking. Die roman vermaak, troos, ontstig, maak jou droef en laat jou lag, maar dit wys ook hoedat juis hierdie persoonlike reaksies van jou spruit uit jou groter omstandighede, uit jou eie vooroordele, uit jou eie manier van dink wat jy as natuurlik ervaar, uit jou ideologie. ’n Roman wat dit regkry om jou so met jou eie stiksienigheid te konfronteer, terwyl dit jou vermaak en boei, is niks anders nie as ’n kragtoer.

Hierdie resensie-essay het oorspronklik op LitNet verskyn.