(Scroll down for more posts.)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.
Etienne van Heerden se nuutste boek – Gebeente – is metafories, tematies en genre-matig ’n baie ryk boek.
Die Reg as tema in fiksie is nie onbekend nie (Van Heerden se eie Toorberg as voorbeeld) maar word hier as die metaforiese gebeente van ’n teks aangebied. Hiermee bring Van Heerden Gebeente binne die debat van Law and Literature. Die debat oor Reg en Literatuur is al ’n paar dekades oud en is nie sonder problematiek nie. Nancy Cook is van mening dat daar nie regtig so ’n onderskeid is nie, maar onder andere Stephanie DeGooyer verskil van haar. DeGooyer meen dat die obsessie oor paradoks, wat deur dekonstruksie gedryf word, sal veroorsaak dat die onafhanklikheid van die twee dissiplines – Reg en Literatuur – verlore sal gaan.
……….
In Gebeente gebruik Van Heerden op ’n uiters innoverende manier kernelemente uit die regsfilosofiese werklikheid, soos regspositivisme, pandektisme, regsnihilisme en die postmoderne manifestasie van verskillende (en dalk uitgediende) regsfilosofieë.
………….
In Gebeente gebruik Van Heerden op ’n uiters innoverende manier kernelemente uit die regsfilosofiese werklikheid, soos regspositivisme, pandektisme, regsnihilisme en die postmoderne manifestasie van verskillende (en dalk uitgediende) regsfilosofieë.
1. Kort opsomming van die storie
Van Heerden gebruik drie hoofkarakters, Altydoopvygie, Imker Goedeman en Div de Villiers, om die storie te vertel van onder andere Jisses Losper, ’n boorling van die dorp Gebeente, en sy meervoudige oortredings soos onder andere om die Melkweg te steel. Altydoopvygie is Jisses se ma, maar die Welsyn het hom by haar afgevat toe hy drie jaar oud was. Imker is die landdros om hom te verhoor en Div die aanklaer.
Dan is daar ’n hele gewelf van newekarakters, soos Fermi, die hospita waar Imker en Div tuisgaan, Chain Moloi, die korrupte burgemeester, en sy meelopers, MaSarge, die polisiehoof op die dorp, en StefaansOndermaans, wat aan geheueverlies ly en ook in die losieshuis bly. Dan is daar Wolraad Woltemade – Jisses se meeloper, Frau Kwaai, ’n Duitse kruiedokter, en Gert, wat die waterkar ry.
Hierdie karakters bevind hulle in Gebeente, wat ook ’n ou-Gebeente en ’n squatterkamp, Kampong, het.
Die daaglikse bestaan is ’n spieël van Suid-Afrika – van Eskom, dieseltekorte, gewone korrupsie, bygelowe, gelowigheid en ongelowigheid. Dit word dan ingekleur met magiese gebeure soos die Skrik, die Maan, die Vonkpyp en die Adempes wat gebeure soos Covid, breking, internetvesel en ander moderne verskynsels simboliseer.
2. Die regsfilosofieë
Regspositivisme
Regspositivisme is redelik kompleks, maar een van die beginsels is dat die reg deur mag gevestig word. Hierdie filosofie, hoewel oorspronklik uit Europa, is deur die VSA uitgebou tot ’n substantiewe regsfilosofie deur veral HLA Hart. Cowboy law is regspositivisme. Die sheriff wat die dorp inry om die dorp van sy wetteloosheid te red. Die sheriff is die reg en hy doen dit slegs omdat hy die mag het en nie omdat hy enige morele waardes voorstaan nie. Of die held wat die vinnigste sy rewolwer uitpluk en skiet – dit gee hom mag – the law of the fastest gun. Moraliteit of regverdigheid speel nie ’n rol in regspositivisme nie. Apartheid was ’n regspositivistiese sisteem waar wette deur mag afgedwing is sonder dat die moraliteit daarvan bevraagteken is – dus ’n baie gepaste regsfilosofie vir Gebeente.
Pandektisme
Voorstanders van pandektisme glo dat die reg gevind word in die ou Romeinse regstekste en is deur veral Duitse regsfilosowe in die 19de eeu verkondig. Dit was ook die gekose regsfilosofie van veral die Afrikaanse regsfakulteite gedurende apartheid – dus ook Van Heerden se regsopleiding. Dit was hoekom Latyn verpligtend was vir regstudente gedurende apartheid – sodat die ou Romeinse tekste gelees kon word. Weer eens gepas vir die boek.
Regsnihilisme
Regsnihilisme is in die destydse Sowjetunie ontwikkel as ’n Marxistiese idee van die reg deur onder andere Pashukanis. ’n Aspek van Pashukanis se teorie is dat geen regsverhouding nodig is tussen partye wat gelyk is nie, soos die kommunistiese sisteem dit voorsien – daarom die nihilisme. Omdat die Sowjetunie oorgegaan het van ’n feodale na ’n kommunistiese stelsel, moes die reg in ’n oorgangsfase funksioneer totdat regsnihilisme bereik is. In die proses het Pashukanis die “commodity exchange theory of law” ontwikkel wat basies sê dat die reg slegs ’n verhandeling van belange en dus ’n kommoditeit is. Enige ander verhouding – tussen gelykes of tussen ongelykes – benodig nie die reg nie – laasgenoemde omdat mag die verhouding bepaal. Ook kriminele oortredings is ’n vorm van “commodity exchange”, want die dief verruil sy diefstal vir die straf wat hy kry, aldus Pashukanis.
Westerlinge kritiseer regsnihilisme omdat dit ten doel het om die reg uit te faseer, maar die gelykheid wat regsnihilisme voorstaan, is fiktief en dus nie seker nie. Dit skep regsonsekerheid.
Suid-Afrika se regsoorgang van regspositivisme na ’n grondwetlike staat het ook beteken dat die reg moet verander. Vir dit om te gebeur word die reg dan ’n kommoditeit van verhandeling. Van Heerden beskryf dit so:
“Hier’s iets anders aan die gang; dis asof als hier drywe,” sê hy. “Drywe onder die sterre.” Sy knik. “As jy hier poliesman is, enforce jy nie die Wet nie. Jy negotiate die Wet. Die mense glo rules are made to be bent. En hulle maak nuwe reëls. Hul eie.”
Postmoderne reg
Die reg het nie die postmodernisme vrygespring nie. Die beginsel dat die waarheid meerdere vorme het, skep vir die beginsel van regsekerheid probleme. Regspositivisme en sy meeloper, regsrealisme, het regsekerheid ten doel. Een van die vrese wat uitgespreek word, deur onder andere Alan Hunt, is dat die induksie van postmodernisme in regsfilosofie ’n “slippery slope” is, waar die reg gerelativeer word as nie absoluut nie en dat die gevolg regsnihilisme sal wees. Die debat is ’n komplekse een.
3. Bespreking
Van Heerden span die regsfilosofiese aspekte in om die praktiese manifestasie van die teorieë in Gebeente uit te beeld. Die dorpsuitleg is tipies apartheidstyl, met ’n aparte township. Daar is nie krag nie, later nie diesel nie. Daar is trokdrywers en trokke wat wag. Soos die storie ontvou, raak Gebeente al hoe meer haglik, die strate vuiler, en daar is maar kort-kort kragonderbrekings. Die plek is wetteloos, want daar is regsonsekerheid. “Dis dieselfde mense wat agter die plundering van winkels en die afbrand van biblioteke sit en wat selfs maatskaplike werkers en brandweerwaens wat op ’n uur van nood die plakkersbuurte inkom om te help, beroof of wegjaag.” Die burgemeester is korrup en werk saam met die hoof van die polisie om homself te verryk.
Die dorp is egter nie so geïsoleer dat dit nuwe verwikkelinge vryspring nie. Skaliegasontdekkings en internetvesel is aan die gebeur, maar hoofsaaklik buite bereik van die burgers van Gebeente en net vir ’n paar bevoorregtes beskore – weens die inherente ongelykheid. Alles is verhandelbaar.
En só het die latere Burgemeester, en (die latere) MaSarge en Boeta Nietgenaamd saam in besigheid beland. New South Africa Synergy, Logistics and Networks Pty Ltd. Hoe kry hierdie konsortium hier uit nederige Gebeente, mense sonder stewige besigheidservaring, so ’n kontrak?
Hierdie manifestasie van regsnihilisme veroorsaak ’n diep wantroue in die reg. In ’n gesprek word die wantroue in die reg deur een van die inwoners uitgespreek:
“En dink u nou wragtag Justisie gee ’n bloue duit om wat in ons distrik gebeur? Sien u die lang arm van die gereg tot hier reik? Nee, Aanklaer, die lang arm van die gereg het lankal afgevrot. As jou regterhand so vuil word van die misdaad, kruip die vrot op met jou arm, verby die elmboog tot by die skouer.”
Div de Villiers is die aanklaer, maar soos Willie Burger in sy LitNet Akademies-resensie-essay tereg opmerk, is hy is ook ’n cowboy (Stetson en al) en ’n rocker. Div is dan ook die simbool van die apartheidsera waar regspositivisme die norm was. Maar hy is alreeds bewus van die dualiteit:
Hy werk vir Justisie. Vir die onvas, sukkelende Staat. Die groot masjinerie van hoorsê en knoei en rugstekery en talm en voete-opsit en afskep en-veral-lag. … Selfs hier, dink hy terwyl hy bestuur met die Eagles in die kassetspeler, voel dit of die kadergelag dawer oor hierdie eindelose vlaktes. Dis die onderdrukte histerie van mense wat kompulsief giggel as enigste verweer teen hul eie onbeholpenheid en honger.
Hierdie onbeholpenheid is natuurlik ’n direkte uitvloeisel van die postapartheid era en allegories van Suid-Afrika. Die nuwe heersers het die geërfde apartheidmagstelsel van regspositivisme voortgesit, maar mag was nie meer die bron van die reg nie – die Grondwet was. Dit het mag in botsing met die reg gebring. Die maghebbers het dit nie verstaan nie, want hulle was tog die gekose leiers. Dit het veroorsaak dat die Grondwet en politieke wil bots. Die resultaat is dat niks gedoen word nie. Geenvingerverroer. ’n Sprekende voorbeeld is die huidige regering se passiwiteit rondom die implementering van die Zondo-kommissie se bevinding teenoor die blitsige loods van die saak teen Israel in die Internasionale Geregshof.
Van Heerden beskryf Div met ’n skeel oog wat dan ook simbolies is van die dualiteit van die oorgangsproses van die reg:
Dit gee die blik van geregtigheid ’n soort waansin. Die woedende onpaar aanstaar van vervolging. Dit ontsenu selfs die mees onskuldige van beskuldigdes. Al is jou hande hoe skoon, as daardie mal oë jou aankyk, word jou hande voor jou eie oë, soos jy die beskuldigdebank staan en vashou, vuil.
Imker Goedeman is die landdros in die verhaal. Hy is ’n pandektis, want hy daag op met die Digesta uit die Romeinse reg in sy koffers.
Sy geliefde Digesta van Justinianus; ’n stokperdjie, want watter toegewyde regspraktisyn steur hom of haar nog aan die outyd; aan die Romeinse Reg? Daar is ook ’n paar bespiegelende geskrifte oor die grootliks verdwene en primitiewe Romeinse Twaalf Tafels, in die dreunende ritmes van Latyn. Die taal wat vir hom vertroosting bring.
Tussen hierdie twee karakters neem Van Heerden dan die magtige wapen van dekonstruksie op, op soek na ’n progressiewe bevryding. Die oorgang van regspositivisme en pandektisme na ’n grondwetlike bedeling bevestig die postmodernistiese karakter van die reg. Die postmoderne beginsel dat die reg meerdere vorme het, skep vir die beginsel van regsekerheid probleme. Hierdie postmoderne onsekerheid is dan ook vrugbare grond vir dekonstruksie. In ’n gesprek tussen Imker en Div word die volgende opgemerk:
“En nou wil ek en jy kom en hoorsê verbied, hier waar jy net heeldag en aldag hoorsêery teëkom? So terwyl óns vastigheid soek in gestaafde of eerstehandse getuienis, wortel die Gebeentenaars se vastigheid juis in die hoorsê waarbinne hulle lewe asof dit hul suurstof is. Dis húl sekerte wat óns wankelrigheid is.”
En op ’n ander plek:
“Nie in hierdie buitepos nie. Kyk om jou. Dié mense het hul eie gewoontes. Is gewoonte dan nie een van die bronne van ons reg nie? En is ek as regsprekende gesag wat ’n uitspraak moet maak, nie die beeldhouer wat uit die klei van hierdie aarde, uit die lewenswyses of gewoontes van sy mense, ’n uitspraak moet boetseer nie?”
Hierdie onsekerheid is die postmoderne manifestasie van verskillende en uitgediende regsfilosofieë – dus regsnihilisme. “As jou wette gemaak is vir ’n samelewing wat nie meer bestaan nie, moet jy nuwe wette maak.”
Op hierdie dekonstruksiepad loop Div en Imker twee verskillende paaie en bereik dan twee verskillende uiterstes.
Hoewel Div mag het, moet die reg darem duidelik ook wees, maar hy kry nie duidelikheid nie. Die aanklagte van die Melkweg steel en die Aanwysing van die verkeerde Here is nie bekende klagtes nie. Dit is onseker.
“Probleem is net,” skryf Div, “dis net hier op Gebeente dat die mense besluit het die Aanwysing van die Verkeerde Here is ’n misdaad. Nêrens in die gerapporteerdes, die jurisprudensie, die Strafreg, dit wat bekend is van die Romeins-Hollandse Reg of die Codex van Justinianus of– …, nêrens staan daar so ’n misdaad opgeteken nie.”
Vir regspleging is hierdie vertwyfeling wat die postmoderne reg aanbring, natuurlik fataal. Div verloor vertroue in die landdros – die bevestiger van sy mag: “’En ek sit met ’n Landdros wat heeltyd vra: Wie sal weet?’ Só skryf Div. ’n Landdros wat aanvoer, in die privaat: Ons is totaal afgesonderd.”
Div beweeg dan in die teenoorgestelde rigting. Hy skud sy mag af en pas die reg met sekerheid toe en bevind dat die klagtes wel vals is en ’n sameswering is om eiendomsreg van grond te beskerm. Div verlaat dan Gebeente op eie stoom.
Op sy beurt begin die landdros sy pandektisme verhandel om die klagte binne sy regskennis te bring: “Ek vind my troos daarin dat diefstal van openbare goed al in die tyd van die Twaalf Tafels bestaan het. Is die pragtige Melkweg nie openbare besit nie? En diefstal daarvan?”
Maar die Grondwet het ’n streep deur pandektisme getrek. Om die oorgang van pandektisme na ’n grondwetlike bedeling te bewerkstellig word die reg nou ’n verhandelbare kommoditeit. Imker, as die regspreker, is dus verward, want hy sukkel om sy kennis toepaslik te maak en begin dan ook sy pandektistiese idees verhandel.
“Ek kom met my swaar tas regsboeke. Maar wanneer ek die veld instap, die ooptes in my longe intrek en die veld en die stof en die oerou klip ruik, dink ek: Ek is uit my diepte. Ek, op wie almal staatmaak. En ek dink: Ek kan mos nie net luister na wat die swaar boeke van Juta Uitgewers, Kaapstad, my regsboeke, sê nie?”
In gesprekke met die mense kom die postmoderne karakter van die reg baie meer na vore:
“Mister Goodman, die Law kan nie soos water wees wat stilstaan nie. Gaan kyk na die vrot dorpsdam. Vol slyk, ou baaisiekels, taaiers, hondegeraamtes. Water moet loop, Magistrate, sodat dit vars kan bly. Sodat jy dit kan drink. So as jy jou judgement gee, moet jy nie skep uit stilstaanwater nie. Skep uit water uit wat loop. Anders gaan jy almal poison.”
In hierdie dekonstruksie begin die landdros dan totaal vertroue verloor in die regsisteem:
“Ek het niks om meer te verloor nie. As ek hulle kan help om ’n nuwe sin vir geregtigheid te vestig, waarom nie? Een wat by een en almal hier byval vind. Húl maaksel. Hul konsensus. As mens dit kan regkry, is dit dalk die einde van die wantroue in die owerhede en die wantroue teenoor Justisie. …. Kan jy hulle kwalik neem dat hulle afskep en vat wat hulle meen hulle toekom, omdat hul voorgeslagte so verontmenslik en verkneg en beroof is van volle menslikheid en die volle ontwikkeling van hul potensiaal?”
Hiermee voltooi Van Heerden dan die kringloop van regsnihilisme en dat die “afskep en vat” die uitspeel van bloot die verhandeling van belange is omdat die sisteem nog nie gelykheid bereik het nie. Hy gebruik dan al hierdie dinge om aan te toon dat sekerheid eintlik fiktief word.
Van Heerden toon dan aan dat dekonstruksie van regsfilosofie gebruik kan word om te wys dat teenoorgestelde uitkomste moontlik is, maar nie albei ’n positiewe bevryding bring nie. Imker gaan sit op ’n stasie na nêrens en Div ontsnap in sy Citroën.
Van Heerden laat hierdie regsfilosofiese maalkolk dan dramaties manifesteer in die drie beskuldigdes van die boek: Altydoopvygie, Jissus Losper en Wolraad Woltemade. Laasgenoemde is natuurlik wel skuldig aan ’n klomp ander misdade, maar die maalkolk van die regsfilsofieë spoeg hom uit en hy dryf straffeloos verder die lewe in – bloot weens die postmodernisme in die regstelsel waar regsekerheid, mag en ou tekste blote kommoditeite vir geregtigheid is. Overgeset synde, die reg, regsekerheid, gelykheid en geregtigheid is blote fiksie – nes die boek Gebeente slegs blote fiksie is.
Daarteenoor werk die maalkolk verskillend met Altydoopvygie en Jissus – die twee werklike onskuldiges in die storie. Die klag teen Jissus Losper, naamlik dat hy die Melkweg gesteel het en dat hy die verkeerde Here aanwys, is nie ’n regte klag nie, maar die gemeenskap soek ’n sondebok, is Div en Imker dit aanvanklik eens. “Onder als, soos ’n rif blinkswart steenkool, die smagting na ’n sondebok. En die twee aanklagte wat in byna elke dokument voorkom: Diefstal van die Melkweg en Aanwysing van die Verkeerde Here.”
Jissus voel dus die regsfilosofiese aspekte aan sy lyf. Mag (die regspositivisme) kla hom aan van ’n misdaad wat dalk volgens die Twaalf Tafels (pandektisme) ’n misdryf is in ’n sisteem waar die gemeenskap hulle eie regsreëls (regsnihilisme) wil maak. En die maalkolk trek Jissus na onder.
Altydoopvygie word nooit formeel aangekla nie, maar word daarvan verdink dat sy die landdros met skerpioengif vergiftig het. Die Welsyn (mag en dus regspositivisme) het haar kind gesteel toe hy drie jaar oud was. Sy kon geen geregtigheid daarvoor kry nie. Haar verdenking word gemotiveer deur die postmoderne aard van die reg.
Van Heerden gebruik die lotgevalle van die drie karakters en die regsmaalkolk waarbinne hulle hulle bevind om aan te toon dat die reg – in al sy manifestasies – bloot fiksie is. Niks van die teorieë bring regsekerheid nie, niks bring regverdigheid nie, niks is logies nie, die verlede tel nie, mag oorspoel die reg, ens ens … Op ’n verruklike manier demonstreer Van Heerden die reg as fiksie soos volg:
“Nou ons hier op die klipvlak eet swartskerpioene en wildesprinkane. Ons is rats soos die veldpatrys. Ons drink die wind nes die springbok wat pronk. En ons soek hier wette wat spring uit die klip, uit die sandsloot, die miershoop en die maan. Ons soek straf wat vonk soos die verskietende ster. ’n Toorn soek ons. Ons soek vertroosting wat saggies soos dou oor die veld kom lê. Ons soek die wette van die klipskilders, die veewagters, die wilde Griekwa en die wegholslaaf uit Madagaskar wie se bloed hier in mense sit. Die wet van die prinses van Java. Daai soort wet soek ons.”
Deur die reg as blote fiksie te beskou lewer Van Heerden dan kommentaar dat die postmodernisme – nie net van die reg nie – vernietigend op die samelewing inwerk en dat menswees die postmodernisme nie kan oorleef nie, want dit is te destruktief in sy aard.
……….
Deur die reg as blote fiksie te beskou lewer Van Heerden dan kommentaar dat die postmodernisme – nie net van die reg nie – vernietigend op die samelewing inwerk en dat menswees die postmodernisme nie kan oorleef nie, want dit is te destruktief in sy aard.
………….
Willie Burger merk tereg op dat Van Heerden nie ’n meesterteks skep wat dan op die normale postmoderne wyse ondermyn word nie. So ook met die regsfilosofie – dit word alreeds as ondermynend aangebied en die gevolge geboekstaaf.
4. Slotsom
Die bestaande resensies is dit eens dat veelvuldige genres in Gebeente teenwoordig is – magiese realiteit, postmodernisme, modernisme ens. Die hantering van die regsfilosofieë laat ’n mens opnuut wonder wat die plek daarvan in letterkunde is. Van Heerden het op uiters bekwame wyse die verband tussen die twee dissiplines gedemonstreer sonder om die onafhanklikheid van elke dissipline prys te gee. Dit neem ’n skrywer van Van Heerden se vakmanskap, asook sy statuur as voorste literêre skrywer, om dit te vermag. Burger lê, tereg, die sterk allegoriese wese van die boek uit. Dit geld sekerlik ook die regsfilosofie?
…………
Die regsonsekerheid word dus die werklikheid van gewone mense in Gebeente. Dit raak die hele teks, dit is oral sigbaar, beïnvloed die karakters en helaas, ook die storie. Dit plaas die regsfilosofie baie ferm in die middel van die teks. Is dit bloot allegories, tematies of simbolies – of dalk ’n genre?
……………
Die regsonsekerheid word dus die werklikheid van gewone mense in Gebeente. Dit raak die hele teks, dit is oral sigbaar, beïnvloed die karakters en helaas, ook die storie. Dit plaas die regsfilosofie baie ferm in die middel van die teks. Is dit bloot allegories, tematies of simbolies – of dalk ’n genre?
Willem Krog is ’n praktiserende advokaat en het ’n LLM in Grondwetlike en Administratiefreg.