(Scroll down for more posts.)
Dit is met groot genoeë dat die vakgroep Afrikaans in die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg, hiermee die wenners van die 2020 UJ-pryse bekend maak.
Die wenner van die 2020 UJ-debuutprys is Ruan Kemp, skrywer van Gedeeltelik bewolk.
Die wenner van die 2020 UJ-prys is Etienne van Heerden, skrywer van die “ambisieuse” roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld.
UIT DIE KEURVERSLAE:
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
“… dit is ongetwyfeld so dat Die biblioteek aan die einde van die wêreld die jaar se ambisieusste boek is. Etienne van Heerden slaan hiermee ’n nuwe rigting in, met ’n skryfstyl wat meer gestroop is as sy voriges (ten spyte van die 600+ bladsy!) en ’n poging om die kompleksiteite van die onlangse verlede in narratief te omskep. Die biblioteek aan die einde van die wêreld sluit wel by onder andere In stede van die liefde se verkenning van globalisering aan, ’n tema wat opnuut, en op onverwagse maniere, spreek tot die toestand van die wêreld in die tyd van die coronavirus.”
“… dit is ’n roman wat die leser uitdaag: ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik en internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. Op meesterlike wyse bring Van Heerden ’n magdom uiteenlopende karakters bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Die roman is aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser boei. Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïs: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Hierdie taboes of kwessies ondersoek hy oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Met hierdie roman poog Van Heerden om insigte in ons gekwelde land te bied, en is die roman gemoeid met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel.”
“Van Heerden ondersoek in sy indrukwekkende jongste roman ’n aantal aktuele kwessies – die onlangse studenteproteste in Suid-Afrika (#FeesMustFall en #RhodesMustFall en die daaraan verbonde landskap van onderstrominge en selfs konkelary in die eietydse politiek), maar terselfdertyd die groter globale bedreiging van die deurentydse monitering van landsburgers deur middel van tegnologie. Dié aktuele gegewe word verder geskakeer deur ook die tematiek van Afrikanerwees en die posisie van Afrikaans in te voer.
Die karakteropstelling en -inkleding is kompleks, en sorg vir ’n haas panoramiese blik op die diversiteit in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing, en hulle soms problematiese interaksies. Van Heerden plaas die soeklig op hierdie soort diversiteit en onderlinge spanninge deur die karakters wat hy in die Vertaalseminaar byeenbring – van die liberale Engelse dosent, deur die jong swart aktivis Thuli en tot by Ian as ouer Afrikaner wat hom in die grysland van Afrikaneridentiteit bevind.”
Die e-boek van Die biblioteek aan die einde van die wêreld is hier beskikbaar: