Frederick Botha reviews ‘Die biblioteek aan die einde van die wêreld’ on LitNet

(Scroll down for more posts.)

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n broodnodige roman waarmee Suid-Afrikaners die nuwe dekade kan betree.”

Op ’n Woensdagmiddag vroeg in 2013 laai ek een van Afrikaans se mees gerespekteerde literatore by Rosebank se Gautrein-stasie op om na die universiteitskampus in Aucklandpark te neem. Daardie jaar tree hierdie emeritus professor as gasdosent vir die honneurskursus oor die Afrikaanse prosa op, en ek, as pas aangestelde (tydelike) letterkundedosent, speel haar chauffeur. Dis my jaar van Driving Miss Daisy. Daardie middag, as inleiding tot haar kursus waarby ek gretig ingesit het om te luister en te leer, maak sy ’n stelling wat my siening van letterkunde ingrypend verander: Literatuur is ’n produk van die lewe waardeur ’n mens die problematiek van ons tyd leer ken en selfs beter verstaan. Die prosa, het sy aangevoer, word gevorm deur konteks en geskiedenis, en ontstaan deur iemand wat deel van ’n gemeenskap is.

Die daaropvolgende jaar skryf ek in vir my doktorsgraad in Afrikaanse letterkunde, met ’n onderwerp wat bogenoemde stelling as vertrekpunt neem en spesifiek fokus op die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ná 1994. Aan die einde van 2019, tydens die finale afronding van my proefskrif, word ek versoek om Etienne van Heerden se nuutste roman te resenseer. As selferkende Van Heerden-dissipel aanvaar ek die versoek sonder huiwering. Die afgelope twee jaar was ek toegewyd gefokus op my proefskrif, en het ek nie my hand aan enige resensies gewaag nie. Watter beter skrywer as Van Heerden om weer tot die Afrikaanse resensie terug te tree! Boonop het ek nodig om myself los te maak van my proefskrif en van hierdie onderwerp wat my by tye tot waansin gedryf het. Hierdie resensie, meen ek, sou die perfekte geleentheid bied om dit te doen.

Aikôna.

Want sien, Etienne van Heerden se nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, moes deel van my doktorale studie gewees het. Nie alleen bied hierdie roman ’n magdom besinnings oor Afrikaneridentiteit in die postkoloniale Suid-Afrika van ná 1994 nie, maar dit is ’n roman wat die leser uitdaag: ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik maar ook internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. En wat presies is daardie beeld wat die leser vind?

Dis die tyd van Trump, fopnuus, sosiale media, toksiese maskuliniteit, blackface, grondgrype en die konstante aanmaning om woke te wees.  Dis die tyd van #RhodesMustFall, #FeesMustFall, en ’n rits ander hutsmerke. Dis die tyd van selfsensuur, politieke korrektheid, en die verwagting dat Afrikaners onsigbaar moet wees. Om van hierdie roman as tydsdokument te praat, sou nie verkeerd wees nie. Talle werklike nuusgebeure word op kreatiewe wyse by die verhaal ingewerk.

Teen hierdie agtergrond leer ken die leser verskeie uiteenlopende karakters. Ian Brand, die Kaapstadse prokureur en kampvegter vir Afrikaans, stuur in ’n oomblik van frustrasie ’n ondeurdagte twiet waarin hy dienslewering kritiseer. ’n Twitter-storm bars los, wat aan Ian die nuwe naam as die Twietboer besorg, en wat die lewe vir hom warm maak. As deeltydse student in ’n vertaalkundekursus wat gemoeid is met die wyse waarop Suid-Afrikaners hulself in ’n nuwe era behoort te vertaal, jaag Ian sy klasmaats se bloeddruk gedurig op met sy uitlatings oor Afrikaans en Afrikanerskap. Ian vind ontvlugting in sy vurige seksuele verhouding met Elizabeth, ’n uitgewer. Elizabeth is bevriend met Thuli Khumalo wat sy as sensitiwiteitsleser vir haar uitgewery se manuskripte gebruik in die tyd van pc-kultuur. Thuli is ’n bekende studenteaktivis, die nuwe Winnie Mandela, en leiersfiguur in die Fees Must Fall-beweging aan die Universiteit van Kaapstad. As medestudent in die vertaalkundekursus, bots sy konstant met Ian se sienings wat sy as patriargaal, chauvinisties en koloniaal ervaar. Dan is daar Jerome Maarman, ook ’n student saam met Ian en Thuli, maar anders as hulle, het hy nie die luukse van ’n bevoorregte lewe nie, maar veg hy elke dag vir oorlewing in ’n selfgemaakte shelter langs die N2. As bruin man is hy ’n pion in die ideologiese argumente tussen Thuli as swart vrou en Ian as wit man. In ’n oeuvre vol onvergeetlike karakters het Van Heerden met Jerome ’n karakter geskep waarvan ek nog nie genoeg gekry het nie. Ek hoop van harte dat daar weer aan hierdie komplekse en tragiese karakter ’n stem gegee sal word in volgende romans. En so van komplekse karakters gepraat: dis presies hoe meeste van die karakters in hierdie roman uitgebeeld word, veral soos gesien in Elizabeth se wisselende ideologiese oortuigings. Suid-Afrika, so wil dit voorkom, is ’n skisofreniese land, so hoekom sal haar landsburgers anders wees?

Die leser ontmoet ook die plastiese chirurg, Piekenier Leqluerck, en sy fassinasie met die agterkant van mense se knieë, oftewel die popliteale fossa; Bill van Bellville, wat ’n bordspeletjie “Nkandla” ontwikkel het, en vas oortuig is dat die Afrikaner in ’n krisis verkeer. Dan is daar ook die Stellenbosse mafia wat Ian by hulle pogings wil betrek om veilige ruimtes vir Afrikaners te skep waarbinne hulle van Suid-Afrika kan afstig; Thuli se ouers, die ANC-veterane wat destyds in ballingskap in Londen was; die slinkse Sello, drinkebroer van Thuli se pa; en doktor Stephen Eliot, die ouskool-liberalis aan die Universiteit van Kaapstad en dosent in vertaalkunde, wat sy hande vol het om sy studente tevrede te hou terwyl die gemoedere hoog loop op kampus.

Van Heerden bring al hierdie karakters – en nog vele ander – op meesterlike wyse bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Daarom is die roman aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser sal boei.

Ian se twiet wat die groot konflik in die roman veroorsaak, is tekenend van die hedendaagse tendens waar sosiale media aan almal ’n stem en opinie bied, daar waar hulle agter die skerms van hulle rekenaars of slimfone skuil – sonder om aan die gevolge van hul plasings te dink. Terselfdertyd is dit ook tekenend van hoe ons, ten spyte van vryheid van spraak, steeds gesensureer word. Die roman bied uiteindelik ook ’n besinning oor die rol van tegnologie, en watter implikasie dit vir ons privaatheid inhou. Met biblioteke as ruimtes van kennis wat weens assosiasies met kolonialisme deesdae geteiken word, word toekomstige kennis eerder in kunsmatige intelligensie gevind, met Van Heerden wat op fassinerende (en skrikwekkende) wyse aandui hoe hierdie tegnologie in die toekoms deel gaan wees van ons alledaagse lewe, wat sulke ingrypende gevolge vir die mensdom inhou, dat dit as’t ware die einde van die wêreld soos ons dit ken, sal beteken. Die toekoms van Afrikaans, en die moontlikhede wat veeltaligheid vir ’n diverse land soos Suid-Afrika inhou, word eweneens onder die soeklig geplaas, en daar word selfs gespeel met die idee van Afrikanerkultuur as ’n groot biblioteek wat besig is om af te brand.

Hierdie roman dien uiteindelik ook as biblioteek van Van Heerden se eie oeuvre. Bekende temas word weer hier gevind: rassespanning, vermomming, kollektiewe en individuele skuld, en die soeke na identiteit. Ook wat die struktuur betref, maak Van Heerden weer eens gebruik van bekende tekstuele aspekte wat sy vorige romans kenmerk: die wisselende vertelperspektief, die jukstaponering van geografiese ruimtes, die rol van briewe, en ’n oop romanslot. Saartjie Windvogel, die talentvolle viooldogtertjie van Matjiesfontein in Van Heerden se In stede van die liefde, wat die leser later in sy roman Klimtol as die verstote Snaartjie leer ken, keer in hierdie roman terug as Snaar, maar in ’n heel ander (fisiese) gedaante. Dit is ook die idee van die boek as biblioteek van ander literêre werke wat geaktiveer word deur intertekstuele verwysings na, onder andere, George Orwell se 1984 en J. van Melle se Bart Nel.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld kan beskryf word as ’n spanningsroman, in die wydste sin van die woord. Die roman begin met ’n moord, met die leser wat in spanning deur hierdie allemintige bielie van ’n boek moet lees om antwoorde op hierdie treffende verhaalopening te vind. Dis met rede dat hierdie roman oor die 600 bladsye beslaan, want om die uiteenlopende hedendaagse spanning op die sosio-maatskaplike en -politieke front te boekstaaf, is geen eenvoudige of korterige taak nie. Vanweë haar betrokkenheid by die Fees Must Fall-beweging, verkeer Thuli in spanning met haar ouers teen wie sy in opstand kom. Aanvanklik sukkel sy ook om as sogenaamde coconut, gevorm deur haar grootwordjare in Londen, haar met Afrika te identifiseer tydens hul terugkeer. Ian verkeer in spanning met sy traumatiese verlede op die Grens, maar ook as Afrikanerman met die onstuimige Suid-Afrika van vandag. Snaar, in transisie, verkeer in spanning met sy lyf en die werkinge van institusionele manlikheid. Ook Jerome is in spanning met die sisteem, die nuwe Suid-Afrika, en Madiba se idee van ’n reënboognasie wat hom as bruin man gefaal het, want alhoewel dit demokrasie na Suid-Afrika gebring het, is daar steeds nie vryheid vir alle Suid-Afrikaners nie. Spanning word ook geskep met die leser wat as speurder moet optree om uit te vind wie die kruisboog-moordenaar is wat Kaapstad teister. Dis veral in die laaste twintig bladsye van hierdie roman waar die spanning só koorsagtig hoog loop, dat die leser nie vinnig genoeg kan omblaai nie.

Op ontstellende wyse herinner die roman dat sosio-maatskaplike en -politieke chaos op weldeurdagte wyse geskep en gemanipuleer kan word, juis as manier om beheer uit te oefen – alles in die naam van korrupsie as die groot merker van ons tyd. Die grootste beloning van hierdie roman is egter die uitsonderlike wyse waarop Van Heerden aandui hoe kompleks maar ook bisar rassekwessies in Suid-Afrika kan wees. Terselfdertyd word daar ook besin oor die rol, relevansie en selfs luuksheid van fiksie in ’n land met dwingende probleme, en word die leser herinner aan Philip Roth se stelling: “Actuality is continually outdoing our talents.”

Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïs: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek, of hom daaraan steur om polities korrek te wees nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Sonder om bloot beskrywings van die stormagtige situasies te bied wat soos ’n ontnugterde gesanik of gekerm klink, of wat selfs as voorskriftelike prekery ervaar kan word, ondersoek Van Heerden hierdie kwessies oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Van Heerden, by monde van Elizabeth tydens ’n gesprek met Thuli oor ’n manuskrip se kulturele gepastheid, stel dit soos volg: “Vir my is die sterkpunt van die boek dat elke karakter sy of haar kans kry om hul sê te sê. Dink jy nie dis ideologies mooi gebalanseerd nie? Dalk is dit eintlik ’n baie liberale uitbeelding van ons land se probleme […]” (130). Dieselfde geld vir Van Heerden se roman.

Net soos Ian, mag talle lesers voel dat hulle ook eerder wil wegbreek uit hierdie “uitputtende land” (165), en daarom nie ’n roman daaroor wil lees nie. Die roman begin immers met ’n trigger warning! Maar dalk is dit juis die rede hoekom hierdie roman gelees móét word: omdat dit poog om insigte in hierdie gekwelde land te bied en al hierdie brandende kwessies te verstaan; omdat dit gemoeid is met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel. En dit is nodig, want soos die roman aandui, is dit onmoontlik om van hierdie omstandighede te ontsnap. Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n broodnodige roman waarmee Suid-Afrikaners die nuwe dekade kan betree.

Frederick Botha

Visit LitNet: https://www.litnet.co.za/resensie-die-biblioteek-aan-die-einde-van-die-wereld-deur-etienne-van-heerden/