SKROP: Deborah Steinmair reviews ‘Die biblioteek aan die einde van die wêreld’

(Scroll down for more posts.)

Die biblioteek: Van Heerden in vyfde rat

Etienne van Heerden is ’n gevierde romansier, een van ons grootstes. Hy is ook ongelooflik prolifiek: dit voel soos gister toe die lywige Die wêreld van Charlie Oeng op die Afrikaanse lettere losgelaat is. En nou: Die biblioteek aan die einde van die wêreld: ambisieus, groots in omvang, aktueel, polsend, kompleks en verbluffend.

Waar kom hy aan al sy idees en storielyne? Van Heerden sê in die bedanking die volgende oor die ontstaan van die boek: “Hierdie roman het ontstaan toe my bergfiets my in Jonkershoek buite Stellenbosch afgegooi het … In die dae wat volg, plat op my rug met ’n stukkende ribbekas waar die fietsstang my met die valslag getref het en op pynpille wat kodeïen bevat, het ek droomsnapse op my Facebook-muur gepos … Dit was verbeeldingsvlugte oor ’n biblioteek aan die einde van die wêreld.”

Hy was ook op ’n lesingreis na China, in hierdie roman ’n sentrale koplandskap.

Oor die woelige, hiper-aktiewe roman sê hy: “Die teks gaar dus op – nes die hamerkop, die weerligvoël, in sy nes opgaar aan die debris wat hy in die omringende landskap kry.” Van Heerden het tot aan die einde van 2016 die Hofman-leerstoel beset as emeritus professor van die Skool vir Tale en Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad – dus het hy die #Feesmustfall-beweging van naderby beleef en dit vind ook neerslag in die boek.

“Menings en formulerings en uitroepe en slagspreuke en frases en clichés – die chronolek waarna hierbo verwys is – in digitale en gedrukte vorm op plaaslike en internasionale forums, vind jy in hierdie teks.”

Hy verklap enkele van die temas: “Kwessies van identiteit … Daarbenewens is daar die groeiende diskoers – plaaslik en internasionaal – rondom sigbewaking. Kunsmatige intelligensie en verwante nuwe tegnologieë se impak op privaatheid en identiteit …”

Ten slotte stateer hy dat dit uiteindelik fiksie is: “en weerspieël die insigte en menings van storiekarakters nie noodwendig dié van die ondergetekende nie.”

Alhoewel, gee hy toe: “’n skrywer se boeke uiteindelik hóm skryf.”

Dié woelige Biblioteek wemel van temas en standpunte en die skrywer stuit nie vir sogenaamde cultural appropriation nie, hy is immers romansier en storiewewer en sy verbeelding is fenomenaal. Hy is ook nooit toondoof nie (ek sien daar was twee sensitiwiteitslesers, nog ’n relatief nuwe bergip: Bettina Wyngaard en Christi van der Westhuizen).

En uiteindelik is dit ’n uitasem leeservaring wat jou by die venster uitwaai, teen die kant van die kop klap en al vinniger laat omblaai, soos ’n Deon Meyer-misdaadroman. Leesstof uit die boonste rak, maar hou dit vir ’n naweek of vakansie wanneer jy al jou aandag daarin kan belê.

Deborah Steinmair

Visit SKROP: http://skrop.co.za/boeke/?fbclid=IwAR3v1a48UUXaqQO4EQNlKI7FGVNxMVUzFss1R-IA45HyJJL-Azt52iQ0_eA