……….
Imke van Heerden se debuutdigbundel, Silwerwit in die soontoe (Naledi, 2023), is ’n merkwaardige voorbeeld van hoe mens en masjien saam kan skep in die wêreld van poësie.
………..
Imke van Heerden se debuutdigbundel, Silwerwit in die soontoe (Naledi, 2023), is ’n merkwaardige voorbeeld van hoe mens en masjien saam kan skep in die wêreld van poësie. Die versameling wys die samewerkingspogings van AfriKI, ’n Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie-kletsbot, en die digter self. Terwyl die koms van OpenAI se ChatGPT aandag gevestig het op die moontlikhede van masjienondersteunde kreatiwiteit, het AfriKI sy debuut voor ChatGPT gemaak, ’n KI-kletsbot opgelei om Afrikaans te praat. Dit is gedoen deur die bestudering van ’n enkele teks, naamlik Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019).1
In die huidige tydvak blyk dit dat ons die era betree het van die film Her (2013), wat die verhouding tussen die protagonis, Theodore Twombly (Joaquin Phoenix), en ’n KI-kletsbot genaamd Samantha (Scarlett Johansson) uitbeeld. Die film skep ’n pragtige atmosfeer, waar die KI-kletsbot se musiek bydra tot die melancholiese en introspektiewe atmosfeer van die verliefdes se verhouding.
Imke van Heerden se digbundel demonstreer egter wat bereik kan word wanneer mens en masjien in die werklike lewe ontmoet. Die resultaat is ’n poëtiese diskoers, genaamd Silwerwit in die soontoe. Heeltemal in pas met die digterlike eksperiment is die omslagontwerp, geskep met OpenAI se DALL-E 2, wat gevra is om ’n abstrakte skildery te genereer wat ’n vrou uitbeeld en ’n masjien wat saam poësie skep. Die skildery vermeng op die oog af die style van Dali en Modigliani, met vloeiende figure en kleure, soos geel, rooi, bruin en groen. Die ontwerp het ’n sterk surrealistiese kwaliteit wat herinner aan die Europese kunstoneel van die 1920’s, maar met die bykomende voordeel van honderd jaar later se tegnologiese ontwikkeling.
Van Heerden gee ter inleiding ’n lens waardeur die gedigte gelees kan word, naamlik die surrealisme en imagisme. Maar hoe maak mens sin van ’n surrealistiese teks waarvan die versreëls deur ’n KI-kletsbot gegenereer en deur ’n menslike digter op collageagtige wyse tot gedigte vervorm is? Tydens my voorgraadse jare het ek geleer dat die surrealisme ’n raamwerk bied vir die interpretasie van gedigte waarin skynbaar onverwante objekte saam bestaan. Hein Viljoen het gepraat van die sambreel en die strykyster wat op die operasietafel ontmoet – vergelyk Viljoen (1992:15–28) se artikel oor Breyten Breytenbach en die Simbolisme deur op die hiperskakel te klik.
Ek het begin oorweeg hoe om die ontleding van die tekste te benader, en ek stel vier stappe voor om hierdie gedigte te ontleed. Hierdie stappe is soortgelyk aan die stiplees (“close reading”) van gedigte in die algemeen, en hulle het ten doel om die gedigte indringend te help verstaan:
- Ondersoek die oënskynlik onverwante voorwerpe in die gedigte en oorweeg wat hulle vir mekaar te sê het. Dit sal help om verborge betekenisse en verbande binne die teks te ontbloot.
- Soek ’n konteks wat uit die naasbestaan van hierdie voorwerpe afgelei kan word. Hierdie konteks kan help om lig te werp op die gedig se temas en motiewe.
- Gee aandag aan die taal wat in die gedig gebruik word, aangesien surrealistiese werke dikwels onkonvensionele taal gebruik om hul betekenis oor te dra.
- Betrek jou verbeelding en intuïsie by die gedigontleding. Surrealistiese gedigte daag dikwels tradisionele maniere van dink uit en vereis ’n oop gemoed om hul diepte en betekenis ten volle te waardeer.
Dit sou betekenisvol wees om ’n aantal gedigte te stiplees om sodoende te bepaal of daar iets te sê is vir kokreatiwiteit tussen mens en masjien. My resensie van die bundel lewer as ’t ware ’n steekproef hiertoe.
Die eerste afdeling heet “Afrikaans se eerste KI-gedig” (21), ’n gedig wat ook op die agterplat van die bundel afgedruk is. As programgedig sou mens veronderstel dat die leser iets deur die gedigontleding oor die aard van kokreatiwiteit kan wys word:
Silwerwit in die soontoe
Geheimsinnige ideale
paadjie
digby die huis.
Silwerwit in die soontoe,
saggies soos ’n spokerigheid.
Van wie se “geheimsinnige ideale” is hier ter sprake? Op watter soort verwantskap dui die naasmekaarstelling van die “geheimsinnige ideale” en die “paadjie / digby die huis”? Mens vermoed onraad, want die geheimsinnigheid naby die huis kan tog niks goeds beteken nie. Die versreël “Silwerwit in die soontoe” dui op iets wat te make het met wetenskapsfiksie, want ’n lig wat “saggies soos ’n spokerigheid” beweeg, vra immers die kundigheid van Fox Mulder en Dana Scully in The X-Files.
Natuurlik lees ek meer van myself hierin as wat die gedig te sê het, maar dié lesing bring ook insig in die psige van die leser: die besef dat ons generasie TV-kykers, die sogenaamde (geriatric) millennials, se smaak in wetenskapfiksie deur hierdie soort televisiereekse en films gevorm is. En wat gebeur vandag? Ons koop stofsuiers wat self die huise stofsuig, ons ry met karre soos dié van Knight Rider, ons het slimhuise en slimfone, wat nog te sê van kunsmatige intelligensie: Ons is nou behoorlik Beyond 2000! Hierdie kokreatiwiteit tussen mens en masjien is niks anders as die vergestalting van ons verbeelding in die werklikheid nie.
Die tweede afdeling is genaamd “Briljante water skryf” en die eerste gedig in dié afdeling heet “Op Seepunt” (25):
Op Seepunt
Sonlig son die promenade
Die lug is ’n plek
Om ook te sien
Brand my in die oggendlug.
Die gedig gee ’n besonder taktiele beskrywing van Seepunt: Daar is beelde van sigbaarheid – “die lug is ’n plek / om ook te sien” – en gevoel: “Sonlig son die promenade” en “Brand my in die oggendlug”. Interessant hier is die taalgebruik: In “Sonlig son” word “son” as ’n werkwoord eerder as ’n selfstandige naamwoord gebruik. Dit is die “sonlig” self wat “son”, dit wil sê wat stralend en warm is. Die konteks veronderstel ’n plek, die Seepunt in die titel, maar die vraag na wie die sonlig hier op die promenade van Seepunt waarneem, bly ’n raaisel. Dit bly vir my een van die nadele van die opset waar ’n KI-kletsbot die gedig se versreëls een-een genereer – mens mis die digterspreker. Wie is aan die woord? Wat is die bedoeling van die spreker? Sou mens so ver kon gaan as om te sê mens mis die mens agter die boek?
Oor die algemeen nooi hierdie gedig lesers uit om op sensoriese vlak by die wêreld betrokke te raak en die skoonheid van alledaagse ervarings te waardeer. Vervolgens die gedig “Gedigte, daar by die brul van ’n brander” (26). Wat ’n wonderbaarlike titel! Asof “gedigte” daar te vind is waar die branders “brul” (let op die pragtige personifikasie van die branders, wat nie net die geluid van die brander registreer nie, maar ook ’n element van gevaar). Weer eens is dit ook die besondere fyngevoeligheid van die beskrywing van sintuie wat voorop staan:
Gedigte, daar by die brul van ’n brander
Hier is die oë katvoet vir
die spoelrotse onder uitdrukkings
die golwe van gister wat
getol en woes en water
saam met die son skuim in hul woorde
die ingedagte see
lig die geure en praat
’n asemhaal.
Let op die personifikasie van die “oë” wat “katvoet”, dit wil sê geluidloos, oor die toneel beweeg. Weer kan ons vra: Wie se oë? Die figuur in die gedigte bly telkens anoniem. Die “oë” wat “katvoet is”, word vervolgens met “spoelrotse” in verband gebring. Die woorde “onder uitdrukkings” dui egter daarop dat ons ons in ’n talige konstruksie bevind. Hierdeur word ons uit ons hallusinasie van “werklike” golwe oor die rotse geruk.
Die spel met dubbelsinnighede woel vervolgens oor die versreëls. Die “golwe” is deel van ’n genitiewe metaforiese konstruksie wat gekwalifiseer word deur die woord “gister”, wat die “golwe” metaforiseer deurdat dit geassosieer word met herinnering: “die golwe van gister wat / getol en woes en water”. Let veral op die klankrykheid in die herhaling van die g– en w-klanke. Die gevolg hiervan is ’n kakofonie van geluide asof die spreker nie sin van die herinneringe op ’n talige vlak kan maak nie. Wat interessant is, is dat die herinneringe aan die vlak van die reële uitbeelding van die see gelykgestel word. Dit wil sê, dat die see op ’n baie reële vlak herinnering is.
Die slottersine metaforiseer die see as “ingedagte” asof die see ’n denker is wat oor die vermoë beskik om herinneringe te kan hê. Moontlik is hierdie siening nader aan die waarheid as wat ons in ons mensgesentreerd toegee! Dit is dan die “ingedagte see” wat “lig”, met ander woorde verlig of illumineer deur “geure” (dink jouself in die geure van die see in – die kelp se vrotterige reuk), asook die “praat” wat teruggryp na die titel se “die brul van die brander” en terugspeel na die aard van die digkuns self. Uiteindelik word die see en die gedig se wesensaard metafories as “’n asemhaal” gekwalifiseer, ’n lewende entiteit, talig verwoord deur ’n KI-kletsbot.2
……….
Deurdat die gedigte in Silwerwit in die soontoe deur kokreatiwiteit tussen mens en masjien tot stand gebring is, ontstaan die vraag oor die rol van tegnologie in die kreatiewe proses en die verhouding tussen menslike kreatiwiteit en masjienintelligensie.
……….
Deurdat die gedigte in Silwerwit in die soontoe deur kokreatiwiteit tussen mens en masjien tot stand gebring is, ontstaan die vraag oor die rol van tegnologie in die kreatiewe proses en die verhouding tussen menslike kreatiwiteit en masjienintelligensie. Die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) het reeds in die middel van die 20ste eeu met sy begrip Gestell vorendag gekom, wat “raamwerk” beteken – vergelyk Heidegger se essay getiteld “The Question of Technology” (1954).
Heidegger se Gestell verwys na die manier waarop tegnologie ons begrip van die wêreld reduseer tot blote hulpbronne vir menslike gebruik. In die konteks van KI en menslike samewerking in die skep van poësie sou Heidegger hierdie vennootskap waarskynlik gekritiseer het as ’n voorbeeld van hoe tegnologie poësie tot ’n blote produksiemiddel reduseer. ’n Voorbeeld hiervan sou wees as iemand bloot vir ChatGPT vra om ’n digbundel vol gedigte te genereer, waarvan hy/sy slegs die opdrag invoer en dit as sy/haar eie werk bundel.
In die konteks van samewerking tussen KI en ‘n mens in die skep van poësie kan ons wel die nosie van Gestell uitdaag deurdat tegnologie as ’n instrument gebruik kan word om ons aannames oor poësie uit te daag en nuwe vorme van kreatiewe uitdrukking te verken. Dit is presies dan ook wat Imke van Heerden en die AfriKI-span met Silwerwit in die soontoe reggekry het.
- Alwyn Roux, Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Unisa
Eindnotas
1 Aangesien die masjien deur Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019) geleer is hoe om frases gedigte in Afrikaans te genereer, ontstaan die vraag in watter mate sy poësie in Obiter dictum (1981) en Die laaste kreef (1987) met dié in Silwerwit in die soontoe vergelyk.
2 Omdat ek al opgelees het oor die objekgeörienteerde ontologie (OO) van Graham Harman en Timothy Morton, het ek gedink dat hierdie werklikheidsiening goed te pas sal kom in die lees van gedigte wat kokreatief geskryf word. Lees hier oor OO.