I.
Telkens wanneer ’n nuwe tegnologie sy opwagting maak, is die mensdom se reaksie soortgelyk: sommige kommentators is só beïndruk daarmee dat uitsprake gemaak word wat die rol van daardie tegnologie in die wêreld totaal oorskat en daar word ekstrapolasies gedoen wat geheel en al onrealisties is. Die eerste ruimtereise het byvoorbeeld die verwagting geskep dat ons teen 1999 die maan sou koloniseer. Ander kommentators weer, is behoudende puriste wat die bestaande tradisie probeer beskerm teen sulke nuwe onhebbelikhede. Dink maar aan die musiekbedryf en die koms van die grammofoon. Om na jou gunsteling opera op ’n draagbare toestel te luister? Nee wat, dit sal nie deug nie. En dink aan die koms van sintetiese musiekinstrumente in die vroeg 1970’s – kunstenaars soos Jean-Michel Jarre, Klaus Schulze en Kraftwerk het groot debatte veroorsaak: aan die een kant wou entoesiaste dit hê dat hierdie vorm van musiekinstrument die toekoms in die geheel sou oorheers; terwyl ander dit as kitsch, kortstondig en ’n kortpad vir die talentloses beskryf het. As ons terugskouend na enige van hierdie verskynsels sou kyk, besef ons dat die waarheid altyd iewers in die grys gebied tussen hierdie twee uiterstes lê; en dat die tegnologiese baanbrekers op enige terrein as hoogs eksperimenteel beskou behoort te word totdat die tegnologie volwassenheid bereik het.
Maar ons weet ook dat die bekendstelling van enige sodanige tegnologie ’n uiters ontwrigtende effek veroorsaak: ’n tyd van wanorde, teenstrydighede en wilde spekulasie. Hoewel kunsmatige intelligensie (KI) reeds oor baie dekades ontwikkel is, het die beskikbaarstelling daarvan in die hande van die breë samelewing in die onlangse verlede groot skokgolwe veroorsaak. Bykans almal wat met hierdie nuutjie interaksie het, eksperimenteer met groot opwinding daarmee vanuit hulle eie onderskeie verwysingsraamwerke; maak uitsprake oor die toekoms; wys op tekortkominge; en formuleer standpunte. Hulle doen dit met ’n vonkel in hulle oë en ’n senuweeagtige giggel in hulle stemme.
II.
Gegewe dat die huidige generasie KI-genereerders as taalmodelle bekend staan, was dit onafwendbaar dat daar ’n oomblik sou aanbreek wat die literêre wêreld met poësie wat deur KI gegenereer is, gekonfronteer sou word. Die lettere is immers die studie van tekste, en is aanduidend van hoe die menslike kondisie deur ’n spesifieke generasie in daardie tekste uitgebeeld word. Dit is dus noodsaaklik dat die diskoers rondom die hantering van KI-gegenereerde teks in die letterkunde uitspeel.
In wêreldpoësie is daar reeds ’n hele aantal antologieë van KI-gegenereerde poësie uitgegee. Voorbeelde hiervan is The Art of Artificial Poetry: I Wrote This in Three Hours (Newman & Mode, 2019); Amazing AI Poetry – Selections from the Reflections of AI (Copeland, 2021); en The poet in the machine: An anthology of AI-generated lyrical thought (Adani & Alterovitz, 2023). As ons aanvaar dat sulke digbundels miskien binnekort volop kan wees, hoe behoort die literêre wêreld daarop te reageer?
Silwerwit in die soontoe (Van Heerden, Bas, & Van Heerden, 2023) is die eerste Afrikaanse digbundel wat deur KI gegenereer is. Die KI-genereerder staan bekend as AfriKI. Ook die kunswerk op die voorplat is deur DALL·E ontwerp en stel die ko-kreatiewe proses voor.
Die resepsie van hierdie bundel is belangrik, nie net in terme van die inskatting van die bundel self nie, maar ook in terme van die merkers wat dit vir die toekoms skep. Dit laat bepaalde filosofiese en praktiese dilemmas vir die resensent in sy/haar verantwoordelikheid tot die literêre kanon. As hierdie digbundel die eerste van so ’n nuwe spesie sou wees, beteken dit dat ander soortgelyke bundels verwag kon word? Wie is werklik aan die woord in so ’n digbundel – die samesteller, AfriKI of die basisteks? Sou ’n literêre oeuvre met verloop van tyd met bundels soos hierdie opgebou kon word? Sou so ’n teks in aanmerking kom vir literêre bekroning, en op grond waarvan sou so ’n bekroning plaasvind?
Ons verneem dat ’n teks van Etienne van Heerden as datastel vir hierdie betrokke bundel geneem is (Van Heerden E. , 2019). Sou ons dus kon verwag dat, in die toekoms, tekste van byvoorbeeld André P. Brink of Karel Schoeman as datastel gebruik sou word om nuwe digbundels saam te stel?
Spekulasie oor die praktyke wat met die publikasieproses gepaard gaan, lei tot verdere vrae: Wat het die sogenaamde ko-kreatiwiteit behels? Was die bundel aan keuring onderworpe?
Miskien is die belangrikste vraag egter: Sou ons dit ooit weet as ’n digter in die toekoms werk publiseer wat KI as hulpmiddel gebruik en indien wel, hoe behoort ons daarop te reageer?
III.
Dit is noodsaaklik dat die linguistiese aard van die huidige generasie KI-modelle in die breë verstaan word. Tradisioneel is ons gewoond aan rekenaarprogrammatuur wat uitsluitlik op wiskundige algoritmes en binêre veranderlikes gebaseer is, daarom verskaf vorige generasies rekenaarprogrammatuur eenduidige en eksakte uitsette. In die geval van linguistiese modelle is dit nie só nie. Die model gebruik patrone in taal om nuwe tekste te genereer: dit impliseer meerduidigheid en willekeur, want taal is nooit beperk tot die eksakte nie en omvat verskeie betekenismoontlikhede. Hierdie eienskap verklaar die surrealistiese aard van die gedigte wat in Silwerwit in die soontoe voorkom – daar is nie sprake van ’n onderwerp of semantiese konsep wat deurgekomponeer word nie. Dus veroorsaak die willekeur en surrealisme unieke en treffende beelde, maar ook soms onsuksesvolle, divergente en potsierlike beelde. Die eksperimentele aard van die bundel verg egter dat beide gevalle aan die leser aangebied moet word ten einde geloofwaardigheid te verleen aan die aanspraak op KI-gebaseerdheid.
Die Amerikaanse skilder Jackson Pollack, ’n leidende figuur in die abstrakte ekspressionisme, het verdeelde reaksie van kunskritici ontlok as gevolg van sy tegniek: sommiges het sy werk as hoogs innoverende kuns beskou, terwyl ander die willekeurige effek van sy werk as bespotlik beskryf het. Die punt is: nie alle kanoniseerders het noodwendig waardering vir die skynbare gebrek aan kunstenaarskap en tegniese beheer wat met oordadige willekeur geassosieer word nie, hoewel willekeur dikwels in die mees uitstaande kunswerke, asook gedigte, juis die bepalende faktor is: om die leser telkens te verras met verruklike nuwe perspektiewe. Neem byvoorbeeld die volgende versreëls van Breyten Breytenbach (Breytenbach, 1983, bl. 156):
[…]
dof soos ys
met die bitterheid van rook en weefsel en vlies
deur kreukel en krake afgesterf
tot op die dowe nerf
onthou lankal nie meer veel
van liefkosing se ligte toppe
van die blomoopsluit van minnespel
verweef in arabeske in wiegloop in tapyt
[…]
Soortgelyk, uit Uys Krige se vertaling van Paul Éluard (Krige, 1962):
Die klip is ’n voorkop waar drome kreun,
sonder slingerende watervore nog bevrore sipresse.
Die klip is ’n skouer om die tyd te dra
met sy bome van trane en strikke en planete
[…]
Hierteenoor blyk gedigte deur ander KI-genereerders, wat wel oor die vermoë beskik om gedigte oor gegewe temas te komponeer (byvoorbeeld ChatGPT en Bing), tot dusver steeds naïef, voorspelbaar en studentikoos.
Imke van Heerden meld in haar inleiding dat AfriKI oor sekere gebreke beskik indien dit met bogenoemde KI-genereerders vergelyk word, en dat dit hoegenaamd nie vlot is met formulerings nie, maar dat hierdie distorsie moontlik juis evokatiewe beelde en interpretasiemoontlikhede skep. Sy verduidelik dat AfriKI ’n groot hoeveelheid fraserings op hierdie wyse geskep het en dat haar rol daarna was om hierdie fraserings aan mekaar te stik en te poleer, maar sonder dat enige woorde bygevoeg of weggelaat word. Dit is onduidelik hoe die gedigtitels en name van hoofstukke ontstaan het.
Die belowende titelgedig “Silwerwit in die soontoe” word aangebied as Afrikaans se eerste KI-gedig:
Geheimsinnige ideale
paadjie
digby die huis.
Silwerwit in die soontoe,
saggies soos ’n spokerigheid.
IV.
Ten einde hierdie belofte verder te ondersoek, verg ’n objektiewe lesing van die verse asof al die voorafgaande inligting rondom die samestelling nie bekend was nie; asof dit ’n onbekende outeur se debuut is wat vir die eerste keer onder oë kom.
Die inhoud is gerubriseer in agt dele (deur hierdie rubrisering só te lees bied inderdaad op sigself ’n surrealistiese vers):
- Afrikaans se eerste KI-gedig
- Briljante water skryf
- van liefde, of sy papier
- Wie was hulle hier, hier ink en luister stad
- Afrika het daardie swaard van monde
- Die Karoo daar uitdrukkingloos skielik
- Dié soort pen is die nêrens in
- Dit was ’n surrealistiese Duisende
In die gedig “Op Seepunt” merk die leser sekere verskynsels wat dikwels in die bundel voorkom:
Sonlig son die promenade
Die lug is ’n plek
om ook te sien
Brand my in die oggendlug
Eerstens, dat heelwat verse kwashale is wat vaagweg herinner aan sommige versvorme uit die Japannese tradisie. Tweedens, dat selfstandige naamwoorde dikwels die rol van werkwoorde inneem.
Die surrealistiese toon van die bundel vra om ’n intuïtiewe lesing van die verse en die toevoeging van betekenis deur die leser, byvoorbeeld die geslaagde “Broos is sy gedagtig”:
Die vrou is gedemp hier
swygsaam in Pringlebaai
Die Kaapse oë raak
doflig
bedremmeld windverwaai
met die koelte van die einde
Hierdie oë van die vrou
blougrys onsigbaarheid
anderkant die wind
Die linguistieke spel en dikwels geplunderde effek bring treffende oomblikke in heelwat verse, solank as wat die leser se onderbewussyn ontvanklik bly om die betekenismoontlikhede te ontsluit. Dit vereis inspanning omdat die leser dikwels vir ’n wyle by ’n vers moet vertoef.
Daar is eweneens treffende liefdesoomblikke in die hoofstuk “van liefde, of sy papier”, byvoorbeeld in “Verbykom van water”:
jy haal my hande wat
pare vlam
roesrooi suis
suis in hulle opdroog
suis in die son
’n nuwe een van my
’n eerste mens by jou
verkoel
donkergroen
in jou eie velpatrone
se skaduwee
Die gedig “Kaapstad” is een van die min gedigte wat lees asof dit moontlik wél deurgekomponeer is en waarin die samehang van versreëls natuurlik voortstu:
Vandag is ons nie net die stad nie
maar
die vertaler van die son.
[…]
Tafelberg
maak ’n vraag waarbinne ons
’n duisend name
genoem word.
Daar is inderdaad ook mooi fraserings op verskeie plekke in hierdie gedeelte, byvoorbeeld “Die badkamerspieël genees.”; “So baie aand.”; ensovoort.
In die hoofstuk “Afrika het daardie swaard van monde” word daar oor die vrugbaarheid maar onderliggende onheil van die kontinent besin: “Afrika drink / onheil in die water”. ’n Hoogtepunt in hierdie hoofstuk is die vers “Kop bom”:
Die knal op haar mond
kon die paar lippe ook stik
die Tong wegsluk
En ek moet die brein van
menswaardigheid ontwapen
Wat is die woede?
Woede is jou mond.
’n Hoogtepunt in die bundel is die hoofstuk “Dié soort pen is die nêrens in”. In hierdie hoofstuk word kunsteoretiese besinnings oor KI-poësie gelewer. Die beskouing rondom die digter as vakman met sy tradisionele ars poëtika word uitgedaag. ’n Mens kan tereg vra of “kunsteoretiese besinnings” die akkurate begrip is om ’n selfreflekterende taalmodel, wat KI-gedigte skep, te tipeer – of word ’n nuwe term hiervoor benodig? KI filosofeer hier oor die KI-gedigte in die bundel – en hiermee maak Van Heerden dit duidelik dat die bundel hom met erns bemoei met poësie as kunsvorm.
Neem byvoorbeeld die gedig “Taal pleit hoe lees gaan jy gebeur” waarin die moderne dilemma van die taal betreur word:
Die museum van Afrikaans
’n brawe biblioteek
ou boeke
weggegooide skilderye en nuutskeppings
en die standbeelde eeue
– kreatief versamelnaam vir ’n ruim wêreld
Jy word woord met jou nuwe werk
solank almal virtuele aantekeninge maak
aan die vreemd saamgeneem
en ek kan honderde terme ontsteld laat dink
Dieselfde geld die gedig “Net voor sy nagelees met die dun glas op die oë”:
Wêreldletterkunde in armoede
Ons biblioteek by die werkwoord gekaap
Hiermee wil jy my taal bly breek
Sprei hand teen die desperate neersit
Laat dit Tonge
Soos in die geval van die laaste twee reëls van bogenoemde gedig, bestaan daar reëls in sommige verse wat die samesteller sou kon weglaat – hierdie leser kry soms die indruk dat die digter(s) hulle hand oorspeel. Die bundel sou gevolglik gebaat het by ’n meer minimalistiese aanslag wat juis die sterk formulerings beklemtoon. Ook die gebruik van hoof- en kleinletters kom soms lukraak oor en dui op literêre slordigheid.
V.
Om hierdie bundel in te skat is dit noodsaaklik dat lesers die versoeking van outeursdwaling ter syde skuif. Hierdie stelling mag dalk elementêr klink, maar as gevolg van die aard van die bundel bestaan die risiko dat ouskool-literatore KI-poësie met wantroue, vrees, vooroordeel of minagting sal verwerp, bloot omdat dit deur ’n masjien geskep is. Diegene wat so ’n benadering sou volg, word herinner dat die teks nie aan sy oorsprong ingeskat behoort te word nie, maar aan sy bestemming. In die Barthesiaanse beskouing is die KI-generator dus ook dood (Barthes, 1977, ble. 142-148).
Poësie wat deur KI gegenereer is, bied bepaalde uitdagings aan literatuurwetenskaplikes. Daar moet opnuut nagedink word oor teks(-tualiteit), taal- en tekensisteme. Derrida se beskouing van différance (Derrida, 1992) wat op die arbitrêrheid van uitgestelde en meerduidige betekenis dui, kom weer onder die soeklig. Die betekenaar is nou ’n masjien en die betekende moet opnuut besin oor die betekenismoontlikhede van die teks. Die Switserse linguis en strukturalis, De Saussure (De Saussure & Holdcroft, 1991), en later Umberto Eco (Eco, 1990) se beskouings rondom taal- en tekensisteme word gerewolusionaliseer, want masjienleer en algoritmes almagameer met taalsisteme en skep nou taalmodelle waarin die willekeur van betekenis selfs méér lukraak vertoon as voorheen. In stede hiervan word die leser van poësie gekonfronteer met ’n nuwe vorm van semiotiek was as rekenaarsemiotiek bekend staan.
Rekenaarsemiotiek is ’n studieveld wat rekenaarmetodes en tegnieke toepas ten opsigte van ons begrip van tekens en simbole in digitale kommunikasie. Dit behels die gebruik van wiskundige modelle, algoritmes en masjienleertegnieke om te bestudeer hoe betekenis deur verskillende kommunikasievorms, insluitend teks, beelde en ander media, oorgedra word. In die konteks van KI-gegenereerde teks kan rekenaarsemiotiek gebruik word om die struktuur en patrone van taal in groot datastelle te analiseer, en om die onderliggende semantiese verhoudings tussen verskillende woorde en frases te identifiseer. Dit kan help om KI-genereerders te ontwerp wat teks genereer wat meer samehangend, betekenisvol en kontekstueel toepaslik is.
Taalmodelle wat deur KI gegenereer is, lei om die beurt tot ’n demistifikasie van die tradisionele rol van die digter. Die literêre teoretikus se werktuig mag moontlik in tandem hiermee verander, na gelang van die rol wat KI in die toekoms in letterkunde mag speel.
Hierdie leser het die uitdaging om die bundel te resenseer vermoeiend, maar ook vol belofte gevind. Soos in Deel II genoem, is die uitdaging nie alleen belangrik ten opsigte van die inskatting van die bundel self nie, maar ook om merkers te skep vir die verdere literêre diskoers rondom die onderwerp. As ons byvoorbeeld die koms van die internet in die 1990’s sou neem, (onthou daardie krakerige en atonale inbelgeluid wanneer die gebruiker met die netwerk verbind), en ons vergelyk dit met die vermoë van die moderne en onontbeerlike internet vandag, kan daar op soortgelyke wyse verwag word dat masjienleer deurlopend plaasvind en dat die tekste wat deur KI gegenereer word ’n eksponensiële opwaartse kurwe sal toon.
Dit is nie waar ons begin nie, maar waarheen ons op pad is.
Die samestellers, Imke van Heerden, Anil Bas en Etienne van Heerden; die uitgewer, Naledi; en les bes, AfriKI; verdien groot lof vir die baanbrekerswerk wat hier gedoen is en die opwindende moontlikhede wat dit vir die toekoms ontsluit.
Bronnelys:
Adani, P., & Alterovitz, G. (2023). The poet in the machine: An anthology of AI-generated lyrical thought. Onafhanklik uitgegee.
Barthes, R. (1977). Image music text. Londen: Fontana Press.
Breytenbach, B. (1983). (‘YK’). Emmarentia: Taurus.
Copeland, J. (2021). Amazing AI Poetry – Selections from the Reflections of AI. Seattle: Kindle Scribe.
De Saussure, F., & Holdcroft, D. (1991). Signs, System & Arbitrariness. Cambridge: Cambridge University Press.
Derrida, J. (1992). Acts of Literature. New York: Routledge.
Eco, U. (1990). The Limits of Interpretation. Indianapolis: Indiana University Press.
Krige, U. (1962). Éluard en die surrealisme. Kaapstad: HAUM.
Newman, R., & Mode, H. (2019). The Art of Artificial Poetry: I Wrote This in Three Hours. Onafhanklik uitgegee.
Rogers, E. (1962). Diffusion of Innovation. New York: Free Press.
Van Heerden, E. (2019). Biblioteek aan die einde van die wêreld. Kaapstad: Tafelberg.
Van Heerden, I., Bas, A., & Van Heerden, E. (2023). Silwerwit in die soontoe. Kaapstad: Naledi.